Psalms 143

143
1'n Psalm. Van Dawid.
Here, hoor my gebed,
luister na my smeekgebed;
antwoord my in u trou,
in u geregtigheid.
2Moet net nie u dienskneg
voor die gereg daag nie;
want niemand wat leef,
is voor U regverdig nie.
3Ja, vyande agtervolg my,
hulle verpletter my lewe teen die grond;
hulle laat my woon in donker plekke,
soos mense wat lankal dood is.
4My gees in my weifel;
in my binneste is my hart verbyster.
5Ek dink aan dae lank gelede,
ek mymer oor al u dade;
oor die werk van u hande dink ek na.
6Ek strek my hande uit na U;
my diepste wese smag na U
soos dor grond. •Sela
7U moet my gou antwoord, Here;
my gees is gedaan.
Moet tog nie u gesig
vir my verberg nie;
dan word ek net soos hulle
wat in die put afdaal.
8Laat my in die môre
van u troue liefde hoor,
want op U vertrou ek.
Wys my die pad wat ek moet loop,
want na U is my verlange.
9Red my van my vyande, Here;
na U vlug ek.
10Leer my om te doen
wat vir U aanvaarbaar is,
want U is my God.
U goeie Gees moet my lei
op gelyk grond.
11Ter wille van u Naam, Here,
moet U my in die lewe hou;
deur u regverdige optrede
moet U my uitlei uit die nood;
12en in u troue liefde
moet U my vyande vernietig.
Maak almal tot niet
wat my lewe bedreig,
want ek is u dienskneg.

Tans Gekies:

Psalms 143: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan