Psalms 72

72
1Van Salomo.
O God, gee u beslissings aan die koning,
u geregtigheid aan die seun
van die koning.
2Mag hy u volk
met geregtigheid oordeel,
u magteloses met billikheid.
3Mag die berge vrede bring vir die volk,
en die heuwels geregtigheid.
4Hy sal die magteloses
van die volk se regte handhaaf,
die kinders van behoeftiges verlos,
maar onderdrukkers verpletter.
5Hulle sal vir U ontsag hê
solank die son en die maan
nog daar is, vir geslagte lank.
6Mag die koning wees soos reën
wat neerdaal op 'n gesnyde grasveld,
soos reënbuie wat die aarde deurweek.
7In sy tyd sal regverdiges floreer,
daar sal vrede in oorvloed wees
tot die maan nie meer daar is nie.
8Mag hy heers van see tot see,
van die Rivier tot aan
die uithoeke van die aarde.
9Voor hom sal die woestynbewoners kniel,
en sy vyande sal stof lek.
10 Die konings van Tarsis
en die eilande sal belasting betaal;
die konings van Skeba en Seba
sal skatplig lewer.
11Al die konings sal diep
voor hom buig,
al die nasies sal hom dien;
12want hy sal behoeftiges
wat om hulp roep, uitred,
ook magteloses en mense
wat nie helpers het nie.
13Hy sal deernis hê met hulpeloses
en behoeftiges;
die lewens van behoeftiges sal hy bevry.
14Van onderdrukking en geweld
sal hy hulle lewe vrykoop.
Hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
15Mag hy lank lewe!
Mense sal vir hom van die goud
van Skeba gee;
hulle sal voortdurend vir hom bid
en hom die hele dag deur
seën toewens.
16Mag die land oortrek wees met graan,
die are golwend oor die bergtoppe
soos die Libanon.
Mense in die stede sal in bloei staan
soos die plante van die land.
17Mag sy roem vir altyd duur,
sy naam voortleef
solank die son bestaan.
Mense sal wens dat hulle
so geseënd is soos hy;
al die nasies sal hom gelukkig noem.
18 Die Here God, die God van Israel,
moet geprys word,
Hy wat wonders doen, net Hy alleen.
19Sy luisterryke Naam
moet vir ewig geprys word;
mag sy heerlikheid die hele aarde vul.
•Amen, amen.
20Die gebede van Dawid,
seun van Isai, eindig hier.

Tans Gekies:

Psalms 72: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan