Openbaring 1:5-16

Openbaring 1:5-16 AFR20

en van Jesus •Christus, die betroubare getuie, die •Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet, en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, wat ons 'n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader – aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig. •Amen. Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen! “Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige. Ek, Johannes, julle broer en 'n deelgenoot in die verdrukking, en in die koninkryk, en in die volharding in ons verhouding met Jesus, was op die eiland wat Patmos genoem word, op grond van die woord van God, naamlik die getuienis deur Jesus •Christus. Op die dag van die Here het die Gees van my besit geneem, en het ek agter my 'n harde stem, soos dié van 'n basuin, gehoor wat sê: “Skryf wat jy sien in 'n boekrol op, en stuur dit aan die sewe •gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek het omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Toe ek omdraai, het ek sewe goue kandelare gesien, en in die middel van die kandelare, iemand net soos die •Seun van die Mens. Hy het 'n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met 'n goue band wat om sy bors vasgebind was. Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vlammende vuur. Sy voete was net soos gloeiende koper in 'n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome. In sy regterhand het hy sewe sterre gehou, uit sy mond het daar 'n skerp swaard met twee snykante gekom, en sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn.