Openbaring 14:12-20
Openbaring 14:12-20 AFR20
Hiervoor het die •heiliges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom, en in Jesus bly glo. Ek het toe 'n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf neer! ‘Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf.’ ” “Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.” Toe het ek gesien, en kyk, daar was 'n wit wolk, en op die wolk sit daar iemand net soos 'n •Seun van die Mens. Op sy kop het Hy 'n goue kroon, en in sy hand hou Hy 'n skerp sekel. 'n Ander engel het uit die tempel gekom, en met 'n harde stem geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die tyd om te oes, het aangebreek, en die aarde is ryp vir die oes.” Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel oor die aarde geswaai, en die aarde is afgeoes. Toe het daar 'n ander engel uit die tempel in die hemel gekom. Ook hy het 'n skerp sekel vasgehou. Nog 'n engel, wat beheer oor die vuur gehad het, het van die altaar af gekom. Hy het met 'n harde stem geroep na hom wat die skerp sekel vashou en gesê: “Steek jou skerp sekel in, en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want die druiwe het ryp geword.” Die engel het toe sy sekel oor die aarde geswaai, en die wingerd op die aarde afgeoes, en dit in die groot parskuip van God se toorn gegooi. En die parskuip is buite die stad getrap. Uit die parskuip het daar bloed gevloei – sestienhonderd stadion ver, tot aan die perde se tooms.


