Openbaring 15

15
Sewe engele met sewe plae
1Toe het ek in die hemel 'n ander groot en wonderbaarlike teken gesien, naamlik sewe engele met die sewe laaste plae, omdat die toorn van God daarmee tot 'n einde gekom het.
2Ek het ook iets gesien soos 'n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars oor die dier en sy beeld, en die getal van sy naam het by die see van glas gestaan, terwyl hulle die siters van God vashou. 3Hulle sing toe die lied van Moses, die dienskneg van God. Dit is ook die lied van die Lam, wat so lui:
“Groots en wonderbaarlik is u dade,
Here God, Almagtige.
Regverdig en betroubaar is u paaie,
o Koning van die nasies.
4Wie sal dan nie vir U
ontsag hê nie, Here,
en u Naam nie verheerlik nie?
Want U alleen is heilig!
Al die nasies sal kom
en in aanbidding voor U neerval,
want u regverdige dade is geopenbaar.”
5En hierna het ek gesien: Die tempel, die Tent met die Getuienis in die hemel, is geopen, 6en die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel gekom. Hulle het blink klere van suiwer linne gedra, met 'n goue band om die bors gebind. 7Een van die vier lewende wesens het toe aan die sewe engele sewe goue bakke gegee, gevul met die toorn van God, van Hom wat vir ewig en ewig leef. 8En die tempel is met rook gevul, vol van die heerlikheid van God en sy mag, en niemand kon by die tempel ingaan, totdat die sewe plae van die sewe engele verby was nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan