Openbaring 17

17
Babilon die prostituut
1Een van die sewe engele wat die sewe bakke vashou, het toe nader gekom, en met my gepraat en gesê: “Kom hierheen, ek sal jou die oordeel wys oor die groot prostituut wat by baie waters bly. ” 2Die konings van die aarde het met haar gehoereer, en die aardbewoners het dronk geword van die wyn van haar hoerery. 3Ek is deur die Gees meegevoer na 'n woestyn, en het daar 'n vrou sien sit op 'n helderrooi dier, wat oortrek was met godslasterlike name, en wat sewe koppe en tien horings het. 4Die vrou het purperrooi en helderrooi klere gedra, en was versier met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy 'n goue beker gehou, vol afskuwelikhede, en die onrein dinge van haar hoerery. 5En op haar voorkop was 'n naam geskryf, 'n misterie: “Babilon die Grote, die moeder van die prostitute, en van al die afskuwelikhede van die aarde.” 6 Ek het ook gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die •heiliges, en van die bloed van die getuies van Jesus.
Betekenis van die dier
Toe ek haar sien, was ek uitermate verbaas. 7Die engel sê toe aan my: “Waarom is jy so verbaas? Ek sal die misterie aan jou verduidelik van die vrou, en die dier met sy sewe koppe en tien horings wat haar dra. 8Die dier wat jy gesien het, was eers, maar is nou nie meer nie; en hy is op die punt om uit die onpeilbare diepte op te kom, op pad na sy ondergang. Die aardbewoners wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boekrol van die lewe opgeskryf is nie, sal verbaas wees wanneer hulle die dier sien, want eers was dit, maar is nou nie meer nie, en sal tog weer wees.
9“Hiervoor is insig met wysheid nodig.
“Die sewe koppe is sewe berge waarop die vrou sit. Daar is ook sewe konings. 10Vyf het tot 'n val gekom; daar is nou net een – die ander een het nog nie gekom nie. Wanneer hy egter opdaag, moet hy vir 'n klein rukkie bly. 11En die dier wat eers was, maar nie nou is nie, is self die agtste; hy kom uit die sewe voort, en is op pad na sy ondergang. 12Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap ontvang nie, maar hulle het vir een uur lank saam met die dier volmag, soos konings. 13Hulle het net een doel voor oë, en dit is om hulle krag en volmag aan die dier beskikbaar te stel. 14Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam sal hulle oorwin, omdat Hy die Heerser van die heersers en die Koning van die konings is, en saam met Hom is die geroepenes, uitverkorenes en getroues.”
15En die engel sê aan my: “Die waters wat jy gesien het, waar die prostituut bly, is die volke en skares en nasies en tale. 16Die tien horings wat jy gesien het, en ook die dier, sal die prostituut haat, en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis eet, en haar met vuur verbrand. 17Want God het dit op hulle harte gelê om sy bedoeling uit te voer, en om een doelwit voor oë te hê: om hulle koningskap aan die dier beskikbaar te stel, totdat God se woorde hulle volledige doel bereik het. 18Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy oor die konings van die aarde het.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan