Openbaring 18:14-24

Openbaring 18:14-24 AFR20

“En die vrug van jou hartsbegeerte is jou nou ontneem. Al die weelde en luukshede is nou vir jou verlore; dit is beslis nie meer te vinde nie.” Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op 'n afstand staan, uit vrees vir haar foltering. Hulle huil en rou onophoudelik, terwyl hulle sê: “Wee, wee jou, groot stad, uitgedos in fyn linneklere, purperrooi en helderrooi, en opgesmuk met goud en edelstene en pêrels! Want binne 'n oomblik is soveel rykdom uitgewis! ” Elke stuurman, en elkeen wat iewers heen vaar, die matrose en hulle wat 'n lewe maak uit die see, het op 'n afstand gestaan. Hulle het geskree toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê: “Watter stad is net soos dié groot stad?” En hulle het stof op hulle koppe gestrooi en geskree, terwyl hulle huil en rou en sê: “Wee, wee jou, groot stad, deur wie se skatte almal wat skepe op see besit, ryk geword het. Want binne 'n oomblik is sy uitgewis. Juig oor haar, hemel, •heiliges, •apostels en profete! God het julle oordeel oor haar voltrek.” Toe het een sterk engel 'n klip, soos 'n groot maalklip van 'n donkie, opgetel en dit in die see gegooi en gesê: “Net so, met geweld, sal die groot stad Babilon neergegooi word, en sy sal nooit weer gevind word nie. En die klank van siterspelers en sangers, van fluitspelers en trompetblasers, sal nooit weer in jou gehoor word nie. En geen ambagsman van enige ambag sal ooit weer in jou gevind word nie. Ook die geluid van 'n meule sal nooit weer in jou gehoor word, en die lig van 'n lamp sal nooit weer in jou skyn nie. Die stem van 'n bruidegom en bruid sal nooit weer in jou gehoor word nie. Jou sakelui was die magtiges van die aarde, want deur jou betowering is al die nasies mislei. Maar in haar is ook die bloed van profete en heiliges gevind, en ook van almal wat op die aarde doodgemaak is.”

Video vir Openbaring 18:14-24