Openbaring 19:7-15
Openbaring 19:7-15 AFR20
Laat ons bly wees en jubel, en aan Hom die heerlikheid gee, want die •bruilofsfees van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar gereedgemaak. En sy is toegelaat om blink klere van suiwer, fyn linne aan te trek. Want dié linne is die regverdige dade van die heiliges. ” Toe sê die engel vir my: “Skryf dit neer: ‘Gelukkig is hulle wat uitgenooi is na die bruilofsfees van die Lam.’ ” Hy het ook vir my gesê: “Hierdie woorde van God is waar.” En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid. Maar hy sê vir my: “Moet dit nie doen nie! Ek is net 'n mededienskneg saam met jou en jou broers wat die getuienis oor Jesus huldig. Aanbid God, want die getuienis oor Jesus is die gees van die profesie. ” Toe het ek gesien dat die hemel geopen is. En kyk, daar was 'n wit perd! Hy wat daarop sit, word getrou en waar genoem, en met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Sy oë was soos 'n vlammende vuur, en op sy kop was daar baie krone. En Hy dra 'n geskrewe Naam, wat niemand ken nie, behalwe net Hy self. Hy het klere aan wat met bloed deurweek is, en sy Naam is Die Woord van God. Toe het die leërs wat in die hemel is, geklee in blink klere van suiwer, fyn linne, Hom op wit perde gevolg. Uit sy mond het 'n vlymskerp swaard gekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer. Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God, die Almagtige, trap.





