Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

Openbaring 9:1-14

Openbaring 9:1-14 AFR20

En die vyfde engel het op sy trompet geblaas. Toe het ek 'n ster uit die hemel op die aarde sien val. Aan hom is die sleutel van die skag na die onpeilbare diepte gegee. Hy het die skag na die onpeilbare diepte oopgesluit, en rook het uit die skag opgeborrel, soos rook uit 'n groot smeltoond. Die son en lug is deur die rook uit die skag verduister. Uit die rook het daar sprinkane na die aarde geswerm. Aan hulle is dieselfde krag gegee as dié van skerpioene op aarde. En hulle is aangesê om nie die gras van die aarde of enige plant of boom te beskadig nie, maar slegs daardie mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. Hulle is nie toegelaat om die mense dood te maak nie, maar slegs om hulle vyf maande lank te folter, deur hulle te pynig met 'n brandpyn – soos wanneer 'n skerpioen 'n mens steek. In daardie dae sal die mense na die dood verlang, maar dit nie vind nie; hulle sal begeer om te sterf, maar die dood sal hulle bly ontwyk. Die voorkoms van die sprinkane was net soos dié van perde wat vir oorlog gepantser is. Op hulle koppe was daar iets soos krone, wat gelyk het asof dit van goud is, en hulle gesigte was soos dié van mense. Hulle het ook hare gehad soos dié van vroue, en tande soos dié van leeus. Die sprinkane het borsplate gedra, wat soos ysterborsplate gelyk het. Die geluid van hulle vlerke het geklink soos die gedreun van baie perdestrydwaens wat opruk na 'n oorlog. Hulle het sterte met angels gehad, net soos skerpioene, en in hulle sterte was daar krag om die mense vyf maande lank te teister. Die engel van die onpeilbare diepte was hulle koning. In Hebreeus is sy naam Abaddon, en in Grieks Apollion. Die eerste ramp is verby – kyk, hierna kom daar nog twee! Ook die sesde engel het op sy trompet geblaas. En ek het 'n stem vanuit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, aan die sesde engel met die trompet hoor sê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgebind is.”

Video vir Openbaring 9:1-14