9
God se verkiesing van Israel
1Ek praat die waarheid in •Christus – ja, ek lieg nie – en my gewete, deur die werking van die Heilige Gees, getuig teenoor my 2dat ek in my hart 'n ontsaglike droefheid en 'n onophoudelike pyn ervaar. 3 Ek sou inderdaad wou bid om self vervloek te wees, verwyder van Christus, in belang van my broers, my volksgenote na die liggaam. 4Hulle is Israeliete; aan hulle behoort die aanneming tot kinders, die heerlikheid, die verbonde, die wetgewing, die tempeldiens en die beloftes; 5aan hulle behoort die voorvaders, en uit hulle het ook die Christus as mens gekom – Hy wat God bo alles is, lofwaardig vir ewig! •Amen.
God se handelinge met Israel
6Dit is nie asof die woord van God nou gefaal het nie. Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie. 7Ook is nie almal wat nageslag van Abraham is, sy kinders nie. Inteendeel, daar staan: “Dit is deur Isak dat jou nageslag benoem sal word.” 8 Dit wil sê: Dit is nie die kinders na die liggaam wat kinders van God is nie, maar die kinders na die belofte, word as nageslag beskou. 9Want dít is die woord van die belofte: “Teen hierdie tyd sal Ek kom en sal Sara 'n seun hê.”
10 Dit is nie al nie. Ook Rebekka het uit net een man swanger geword, naamlik uit ons voorvader Isak, 11-12want nog voordat haar kinders gebore is, of iets goeds of kwaads gedoen het, is vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Dit het gebeur, sodat God se voorneme volgens sy uitverkiesing sou bly staan, nie op grond van mense se dade nie, maar op grond van Hom wat roep. 13Soos daar geskryf staan:
“Jakob het Ek liefgehad,
maar van Esau het Ek
'n afkeer gehad.”
14Wat sal ons dan sê? Is daar dan enige onreg by God? Geensins! 15Vir Moses sê Hy tog:
“Ek sal My ontferm
oor wie ook al
Ek My wil ontferm,
en Ek sal barmhartig wees
teenoor wie ook al
Ek barmhartig wil wees.”
16 Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm. 17Die Skrif sê immers vir die farao:
“Juis hiervoor het Ek jou verhef,
sodat Ek deur jou my krag kan toon,
en sodat my Naam oor die hele aarde
verkondig kan word.”
18Hy ontferm Hom dus
oor wie Hy wil,
en Hy maak hardkoppig
wie Hy wil.
19Jy sal nou vir my sê: “Hoe kan Hy dan nog 'n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil teengaan?” 20Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” 21Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei 'n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie? 22 As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak, 23 het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie? 24Dit is ons wat Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nie-Jode. 25So sê Hy ook in Hosea:
“Hulle wat nie my volk was nie,
sal Ek my volk noem,
en haar wat nie geliefd was nie,
sal Ek my geliefde noem.”
26En:
“Op daardie plek waar
vir hulle gesê is,
‘Julle is nie my volk nie,’
juis daar sal hulle kinders
van die lewende God
genoem word.”
27Maar Jesaja roep aangaande Israel uit:
“Al is die getal van die kinders van Israel
soos die sand van die see,
sal net 'n oorblyfsel verlos word;
28want die Here gaan 'n volledige
en spoedige afrekening
op die aarde hou.”
29En soos Jesaja reeds gesê het:
“As die Here,
Heerser oor alle magte,
nie vir ons 'n nageslag
laat oorbly het nie,
sou ons soos Sodom geword het,
en sou dit met ons soos met Gomorra gegaan het.”
30 Wat sal ons dan sê? Dat die heidene die •geregtigheid wat hulle nie nagejaag het nie, verkry het, naamlik die regverdiging deur die geloof, 31 terwyl Israel, wat geregtigheid deur die wet nagejaag het, die eis van die wet nie kon nakom nie? 32Waarom nie? Omdat hulle dit nie op grond van geloof wou verkry nie, maar op grond van hulle dade. Hulle het oor die struikelblok gestruikel, 33soos daar geskryf staan:
“Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer
waaroor 'n mens kan struikel,
ja, 'n rots wat jou kan laat val;
maar wie in Hom glo,
sal nie beskaamd staan nie.”