2
Oordeel oor die nasies
1Kom byeen,
kom bymekaar, skaamtelose nasie,
2 voor die bestemde tyd aanbreek
– 'n dag vergaan soos kaf! –
voordat die Here se brandende
toorn julle inhaal,
voordat die dag van die Here
se toorn julle inhaal.
3 Soek die Here, al die nederiges
van die land
wat sy opdrag uitgevoer het.
Soek geregtigheid,
soek nederigheid;
miskien vind julle 'n skuilplek
op die dag van die Here se toorn.
4 Want Gasa gaan verlate lê
en Askelon gaan 'n woesteny word.
Asdod sal helder oordag
uitgedryf word
en Ekron sal ontwortel word.
5Wee julle, Kretensers,
inwoners van die kusstreek!
Die woord van die Here is teen julle.
Kanaän, land van die Filistyne,
“Ek sal jou vernietig, tot daar
geen inwoners oor is nie.”
6Die kusstreek sal vir skaapwagters
weivelde wees
en vir kleinvee krale.
7Die streek sal behoort aan
die oorblyfsel van die huis
van Juda;
hulle sal daar wei en saans
in Askelon se huise gaan lê;
want die Here, hulle God,
sal vir hulle sorg
en hulle lot verander.
8“Ek het die gespot van Moab
gehoor,
die skeldtaal waarmee
die kinders van Ammon
my volk spot
en op hulle grondgebied neersien.
9“Daarom, so seker as wat Ek leef,”
is die uitspraak van die Here,
Heerser oor alle magte,
die God van Israel,
“Moab sal soos Sodom word
en die kinders van Ammon
soos Gomorra:
'n gebied oortrek met onkruid,
vol soutputte,
'n onherbergsame plek vir altyd.
Die oorblyfsel van my volk
sal hulle stede plunder
en die res van my nasie
sal hulle gebied as erfdeel verkry.”
10Dit is wat hulle verwaandheid
oor hulle gebring het,
hulle het immers die volk
van die Here,
Heerser oor alle magte,
gespot en op hulle neergesien.
11Vreesaanjaend sal die Here
vir hulle wees;
Hy het immers al die gode
van die aarde laat wegkwyn.
So sal dan elke bewoner
van al die eilande,
elkeen vanuit sy woonplek,
diep voor Hom neerbuig –
12 “Ook julle, Kussiete,
wat deur my swaard deurboor is.”
13Hy sal sy hand teen die noorde
uitstrek en Assirië vernietig;
Hy sal Nineve 'n verlate plek maak,
dor soos 'n woestyn.
14 Troppe vee, allerhande diere
sal daar gaan lê,
bontkraaie en uile
sal op die pilare oornag
en hulle geluide sal deur
die vensters weerklink.
Puin sal op die drumpel lê,
ja, die sederhout sal rondlê.
15Dít is wat sal word
van die uitbundige stad
wat so kommervry leef,
wat in haar hart sê:
Ek is die een, niemand anders nie.
Hoe verlate is sy, 'n lêplek vir diere.
Elkeen wat daar verbyloop,
sal fluit en sy hande saamslaan.