2 Konings 17:14-23

2 Konings 17:14-23 CAB23

Maar hulle het nie geluister nie, maar hulle nek verhard soos die nek van hulle vaders wat nie in die HERE hulle God geglo het nie. En hulle het sy insettinge en sy verbond wat Hy met hulle vaders gesluit het, en sy getuienisse wat Hy teen hulle getuig het, verwerp; en hulle het die nietigheid gevolg en ydel geword en agter die nasies aan gegaan wat rondom hulle was, aangaande wie die HERE hulle beveel het om nie soos hulle te doen nie. En hulle het al die gebooie van die HERE hulle God verlaat en vir hulle gegote beelde gemaak, twee kalwers, en 'n bos gemaak en die hele leër van die hemel aanbid en Baäl gedien. En hulle het hulle seuns en hulle dogters deur die vuur laat gaan en waarsêery en towerye gebruik en hulleself verkoop om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE, om Hom tot toorn te terg. Daarom was die HERE baie toornig op Israel en het hulle van sy aangesig verwyder; daar het niemand oorgebly nie, behalwe die stam van Juda alleen. Ook Juda het die gebooie van die HERE hulle God nie gehou nie, maar gewandel in die insettinge van Israel wat hulle gemaak het. En die HERE het die hele geslag van Israel verwerp en hulle verdruk en hulle in die hand van verwoesters oorgegee totdat Hy hulle van sy aangesig weggewerp het. Want hy het Israel van die huis van Dawid geskeur; en hulle het Jeróbeam, die seun van Nebat, koning gemaak, en Jeróbeam het Israel agter die HERE weggedryf en hulle 'n groot sonde laat doen. Want die kinders van Israel het gewandel in al die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het; hulle het nie van hulle gewyk nie; Totdat die HERE Israel van sy aangesig verwyder het, soos Hy deur al sy dienaars, die profete, gesê het. So is Israel dan uit hulle land weggevoer na Assirië tot vandag toe.