Galasiërs 3:21-29

Galasiërs 3:21-29 CAB23

Is die wet dan teen die beloftes van God? God verhoed dit, want as daar 'n wet gegee was wat lewe kon gee, sou geregtigheid voorwaar deur die wet gewees het. Maar die Skrif het alles onder die sonde afgesluit, sodat die belofte deur die geloof van Jesus Christus gegee sou word aan die wat glo. Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet bewaar, opgesluit vir die geloof wat daarna geopenbaar sou word. Daarom was die wet ons skoolmeester om ons na Christus te bring, sodat ons uit die geloof geregverdig kan word. Maar nadat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n skoolmeester nie. Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus. Want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie slaaf of vryman nie, daar is nie man of vrou nie, want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.