Matteus 19:16-30
Matteus 19:16-30 CAB23
En kyk, een het gekom en vir hom gesê: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê? En hy sê vir hom: Waarom noem jy my goed? daar is niemand goed nie, behalwe een, dit is God; maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy sê vir hom: Watter? Jesus het gesê: Jy mag geen moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, Eer jou vader en jou moeder, en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die jongman sê vir hom: Al hierdie dinge het ek bewaar van my jeug af; wat kort my nog? Jesus sê vir hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop wat jy het en gee aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom volg My. Maar toe die jongman hierdie woord hoor, het hy bedroef weggegaan, want hy het groot besittings gehad. Toe sê Jesus vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle, 'n ryk man sal beswaarlik in die koninkryk van die hemele ingaan. En verder sê Ek vir julle: Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. Toe sy dissipels dit hoor, was hulle baie verbaas en sê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aanskou en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik; maar by God is alle dinge moontlik. Toe antwoord Petrus en sê vir hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg; wat sal ons dan hê? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op die troon van sy heerlikheid sal sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel oordeel. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond verlaat het ter wille van my Naam, sal honderdvoudig ontvang en die ewige lewe beërwe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees; en die laastes sal eerste wees.

