Openbaring 12:7-17
Openbaring 12:7-17 CAB23
En daar was oorlog in die hemel: Migael en sy engele het teen die draak geveg; en die draak het geveg en sy engele, En nie oorwin nie; en hulle plek is nie meer in die hemel gevind nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word Duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei; hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. En ek het 'n harde stem in die hemel hoor sê: Nou het die verlossing en sterkte en die koninkryk van onse God en die krag van sy Christus gekom, want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, wat hulle aangekla het voor ons God, dag en nag. En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis; en hulle het hulle lewe tot die dood toe nie liefgehad nie. Daarom, wees bly, o hemele en wat daarin woon. Wee die bewoners van die aarde en die see! want die duiwel het na julle neergedaal met groot toorn, omdat hy weet dat hy min tyd het. En toe die draak sien dat hy op die aarde neergewerp is, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het. En aan die vrou is twee vlerke van 'n groot arend gegee, dat sy die woestyn in kon vlieg, na haar plek, waar sy gevoed word vir 'n tyd en tye en 'n halwe tyd van die gesig van die slang af. En die slang het water soos 'n vloed uit sy bek agter die vrou aan gegooi, om haar deur die vloed te laat wegvoer. En die aarde het die vrou gehelp, en die aarde het haar mond oopgemaak en die vloed wat die draak uit sy bek gegooi het, verslind. En die draak was kwaad vir die vrou en het gegaan om oorlog te voer teen die oorblyfsel van haar nageslag, wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus het.


