Openbaring 19:7-15
Openbaring 19:7-15 CAB23
Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom eer gee, want die bruilof van die Lam het gekom, en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en wit fyn linne, want die fyn linne is die geregtigheid van die heiliges. En Hy sê vir my: Skryf: Geseënd is die wat na die bruilofsmaal van die Lam geroep is. En hy sê vir my: Dit is die ware woorde van God. En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid. En hy sê vir my: Pas op, doen dit nie: Ek is jou mededienskneg en van jou broers wat die getuienis van Jesus het; aanbid God, want die getuienis van Jesus is die gees van profesie. En ek het die hemel geopend gesien, en daar was 'n wit perd; en Hy wat op Hom sit, is genoem Getrou en Waaragtig, en in geregtigheid oordeel en voer Hy oorlog. Sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en hy het 'n naam laat opskrywe wat niemand geken het nie, behalwe hy self. En hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy naam is die Woord van God. En die leërs wat in die hemel was, het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En 'n skerp swaard gaan uit sy mond uit om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer; en Hy trap die parskuip van die grimmigheid en toorn van God, die Almagtige.





