RIGTERS 10

10
Tola en Jaïr is rigters.
1EN ná Abiméleg het Tola, die seun van Pua, die seun van Dodo, 'n man uit Íssaskar, opgetree om Israel te verlos; en hy het gewoon in Samir op die gebergte van Efraim.
2En hy het Israel drie-en-twintig jaar lank gerig; en hy het gesterwe en is in Samir begrawe.
3En ná hom het Jaïr, die Gileadiet, opgetree, en hy het Israel twee-en-twintig jaar lank gerig.
4En hy het dertig seuns gehad, wat op dertig jong esels gery en dertig stede gehad het; dié word tot vandag toe die Jaïrsdorpe genoem wat in die land Gílead lê.
5En Jaïr het gesterwe en is in Kamon begrawe.
Verdrukking deur Filistyne en Ammoniete. Bekering en vergewing.
6 EN die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en hulle het die Baäls en die Astártes gedien, en die gode van Aram en die gode van Sidon en die gode van Moab en die gode van die kinders van Ammon en die gode van die Filistyne, en hulle het die Here verlaat en Hom nie gedien nie.
7Daarom het die toorn van die Here ontvlam teen Israel, en Hy het hulle verkoop in die hand van die Filistyne en in die hand van die kinders van Ammon.
8En hulle het die kinders van Israel verpletter en verdruk in daardie jaar, agttien jaar lank, al die kinders van Israel wat oorkant die Jordaan gewoon het in die land van die Amoriete, wat in Gílead was.
9Daarby het die kinders van Ammon die Jordaan oorgetrek om ook teen Juda en Benjamin en die huis van Efraim te veg, sodat Israel dit baie benoud gehad het.
10 Toe roep die kinders van Israel die Here aan en sê: Ons het teen U gesondig, want ons het onse God verlaat en die Baäls gedien.
11Maar die Here het aan die kinders van Israel gesê: Het Ek julle nie van die Egiptenaars en van die Amoriete, van die kinders van Ammon en van die Filistyne —
12en toe die Sidoniërs en Amalekiete en Maoniete julle verdruk en julle My aangeroep het — julle uit hulle hand verlos nie?
13Maar julle het My verlaat en ander gode gedien; daarom sal Ek julle nie meer verlos nie.
14Gaan heen en roep die gode aan wat julle verkies het; laat dié julle verlos in die tyd van julle benoudheid.
15Toe sê die kinders van Israel aan die Here: Ons het gesondig; maak met ons net soos dit goed is in u oë; verlos ons tog net vandag.
16En hulle het die vreemde gode uit hulle midde verwyder en die Here gedien; toe het Hy ongeduldig geword oor die moeite van Israel.
17En die kinders van Ammon is byeengeroep en het laer opgeslaan in Gílead; maar die kinders van Israel het bymekaargekom en laer opgeslaan by Mispa.
18Toe sê die manskappe, die vorste van Gílead, die een aan die ander: Wie is die man wat sal begin om te veg teen die kinders van Ammon? Hy sal hoof wees oor al die inwoners van Gílead.

Tans Gekies:

RIGTERS 10: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan