LUKAS 12:13-33

LUKAS 12:13-33 AFR53

EN een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel. Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as 'n regter of deler oor julle aangestel? En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: 'n Ryk man se grond het goed gedra. En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s'n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie. EN Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge? Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges! Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee. Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, 'n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.