MARKUS 12:1-12

MARKUS 12:1-12 AFR53

TOE begin Hy deur gelykenisse vir hulle te sê: 'n Man het 'n wingerd geplant en 'n heining daarom gesit en 'n parskuip gegrawe en 'n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur om van die landbouers uit die vrug van die wingerd te ontvang; maar hulle het hom geneem en geslaan en hom met leë hande weggestuur. En weer het hy 'n ander dienskneg na hulle gestuur; en hom het hulle gestenig en aan die hoof gewond, hom skandelik behandel en teruggestuur. En weer het hy 'n ander een gestuur, en hom het hulle doodgemaak; ook baie ander — sommige het hulle geslaan en ander doodgemaak. Hy het toe nog een seun gehad, sy geliefde, en hom die laaste na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar daardie landbouers het by hulleself gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, en die erfdeel sal ons s'n wees. En hulle het hom geneem en doodgemaak en buitekant die wingerd uitgewerp. Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Hy sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. Het julle nie ook hierdie Skrifwoord gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword? Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë. En hulle het probeer om Hom in die hande te kry, maar was bang vir die skare, want hulle het begryp dat Hy die gelykenis met die oog op hulle uitgespreek het. Daarop het hulle Hom verlaat en weggegaan.