My liewe kinders, die tyd na die einde toe begin nou min word. Julle het mos gehoor dat die antichris aan die kom is. Dit is die een wat dink hy kan Christus se plek inneem. Kyk ’n bietjie rond, daar is sommer baie sulke opponente van Christus wat skielik oral opduik. Daarom weet ons dat die tyd na die einde toe vinnig nader kom. Hierdie klomp mense was tot saam met ons in die gemeente, maar hulle hart was nooit by ons nie. Daar is ’n rede waarom ek so sê: as hulle regtig hart en siel deel van ons gemeente was, sou hulle hart en siel agter die gemeente bly staan het. Hulle sou nie sommer die gemeente die rug toegekeer het nie. Maar ook daarmee is daar ’n doel: almal kan nou self sien dat hulle nie deel van ons gemeente is nie. Julle verskil van hierdie mense. Die Heilige Gees het sy hand spesiaal op julle gelê. Julle almal weet daarom wat vir God reg en verkeerd is. As ek dié brief skryf, wil ek dus nie maak asof julle nie weet wat waar is nie. Ek beklemtoon net wat julle reeds weet waar en eg is. Onthou, geen enkele leuen kan uit die waarheid gebore word nie. Wie dink julle gee geboorte aan leuens? Dit is natuurlik enigiemand wat weier om toe te gee dat Jesus, as mens, werklik die Messias is. So ’n persoon verwerp sowel die Vader as die Seun. Hy is die antichris! Immers, iemand wat sy rug vir die Seun draai, kan tog nie aan die kant van die Vader wees nie. Iemand is wel aan die kant van die Vader as hy voluit agter die Seun aangaan. Julle moet mooi luister: die oorspronklike boodskap wat julle gehoor het, moet ’n groot invloed op julle uitoefen. As daardie boodskap aan julle lewe rigting gee, is dit eintlik die Seun en die Vader wat julle beheers en rig. Wat hou hierdie boodskap dan nou in? Dít: Jesus het julle ’n nuwe lewe saam met God kom aanbied. Ek het hierdie dinge geskryf oor mense wat julle om die bos wil lei. Wat julle betref: julle het iets van Jesus gekry wat julle lewe totaal verander: sy Gees het by julle kom bly. So het Hy julle in sy spesiale span vir hierdie wêreld gesit. Hy wil hê julle moet spesiale dinge vir Hom doen. Niemand moet julle dus allerhande dinge kom wysmaak of probeer leer nie. Die Heilige Gees is julle onderwyser en gids in alles wat waar is. Julle kan Hom maar glo, want Hy lieg nie. Steur julle daarom aan niks en niemand anders nie, behalwe aan die Gees en wat Hy julle geleer het.
Lees 1 Johannes 2
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 Johannes 2:18-27
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's