2 Kronieke 3

3
Salomo bou die tempel
1Salomo het toe die tempel op die Moriaberg in Jerusalem begin bou. Dit was op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, die plek wat sy pa Dawid vir die tempel voorberei het. Dawid het daar ’n visioen gesien. 2Salomo het op die tweede dag van die tweede maand van sy vierde regeringsjaar met die bouwerk begin. 3Die afmetings van die gebou se grondplan was 30 meter in lengte en tien meter in die breedte. 4Die pilaargang aan die voorkant was die volle breedte van die gebou, naamlik tien meter lank. Die plafon was tien meter hoog en die mure aan die binnekant was met goud oorgetrek.
5Salomo het die mure van die groot vertrek met panele van sipreshout bedek en dit met ’n dun lagie plaatgoud oorgetrek. Dit is met uitgekerfde palmbome en kettings versier. 6Die gebou is verder met edelstene versier. Die goud wat hy gebruik het, het van Parwajim af gekom. 7Al die mure, balke, deure en kosyne is met goud oorgetrek en daar is gerubfigure (dit is diere met vlerke) op die mure uitgesny.
8Die Allerheiligste deel van die tempel was ’n vierkant van tien by tien meter. Al daardie mure is met suiwer goud beslaan. Die goudplate wat hulle gebruik het, het omtrent twintig ton geweeg 9en die spykertjies waarmee dit vasgekap is meer as ’n halwe kilogram. Salomo het ook die boonste kamers met goud oorgetrek.
10In die Allerheiligste was daar twee gerubsbeelde van gegote metaal. Hulle is ook met goud oorgetrek. 11Hulle het langs mekaar gestaan en hulle vlerkspan was tien meter lank. Elke vlerk was twee en ’n half meter. 12Elkeen van die gerubs se buitenste vlerk het aan ’n muur van die Allerheiligste geraak. In die middel het hulle vlerke aan mekaar geraak. 13Die vlerke het oor die volle tien meter wydte van die Allerheiligste gestrek. Die gerubs het op hulle eie pote gestaan en in die rigting van die groot vertrek van die tempel gekyk. 14Oor die hele ingang van die Allerheiligste het Salomo ’n gordyn opgehang van fyn linne met pers, rooi en blou materiaal daarin. Op die gordyn was daar gerubfigure geborduur.
15Aan die buitekant, voor die groot vertrek van die tempel, was daar twee groot pilare. Die pilare was sewentien en ’n half meter hoog. Bo-op elkeen was daar ’n kapiteel van twee en ’n halwe meter hoog. 16Salomo het kettings gemaak wat boaan die pilare vasgesit is en 100 granate wat as versiering aan die kettings vasgesit is. 17Die pilare het weerskante van die ingang van die tempel gestaan. Die regterkantste pilaar is Jakin genoem en die een aan die linkerkant Boas.

Tans Gekies:

2 Kronieke 3: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan