2 Samuel 19

19
1Die mense het vir Joab gaan vertel die koning huil en is hartseer oor Absalom. 2Toe die soldate hoor dat die koning se hart gebreek is oor sy seun, het die dag waarop hulle gewen het, vir almal ’n treurige dag geword. 3Hulle het daardie dag soos diewe die stad ingesluip. Hulle het gelyk soos mense wat skaam is oor hulle vir hulle vyande gevlug het. 4Die koning het die hele tyd sy gesig toegehou en kliphard gekla: “My seun, my Absalom, my Absalom, my seun, my seun.”
5Joab het na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U stel vandag almal teleur wat so getrou by u staan, die manne wat u lewe gered het en u seuns en dogters s’n en al u vroue s’n. 6U is mos nou aan die kant van dié wat teen u is, en u is teen dié wat aan u kant is. U wys nou u gee nie ’n flenter om vir die offisiere en manskappe nie. Dit lyk vir my u sou daarvan gehou het as Absalom vandag nog geleef het en ons almal dood was!
7“Gaan nou dadelik uit en gaan praat mooi met die manne, want ek sweer nou voor die Here, as u nié uitgaan nie, sal daar vannag nie een man by u oorbly nie! En dít sal die grootste moeilikheid wees wat u nog ooit in u lewe gehad het.”
8Die koning het opgestaan en by die ingang van die stad gaan sit. Toe die manskappe hoor dat die koning daar by die ingang is, het almal soos gewoonlik voor hom verbygestap wanneer hulle gewen het.
Dawid gaan terug Jerusalem toe
Nadat die soldate van die Israeliete na hulle huise toe gevlug het, 9het daar ’n groot stryery onder al die Israeliete begin. Die mense het vir die leiers gesê: “Die koning wat ons gehelp het teen ons vyande, ja, dié een wat ons vrygemaak het van die Filistyne, het uit die land uit gevlug vir Absalom. 10Maar Absalom, wat ons koning gemaak het oor ons, is dood in die oorlog. Hoekom sê julle nou niks? Hoekom bring julle nie die koning terug nie?”
11Koning Dawid het daarvan gehoor. Hy laat weet toe vir Sadok en Abjatar: “Praat ’n bietjie met die leiers van Juda in die suide en vra vir hulle hoekom hulle die koning nie eerste terugvat na sy paleis toe nie. Sê vir hulle die koning het gehoor die Israeliete in die Noorde wil hom terugvat. 12Sê vir hulle ons is broers, ons is eie bloedfamilie; hoekom is hulle dan so stadig om die koning terug te vat? 13En sê vir Amasa ons is ook mos naby familie en ek sweer vir hom voor God dat hy so lank ek lewe, in Joab se plek die hoofgeneraal gaan wees.”
14So het Dawid die Judeërs almal omgepraat en hulle het vir hom laat weet: “Kom terug saam met al u manskappe.”
15Die koning het teruggegaan. Toe hy by die Jordaanrivier kom, was die mense van Juda al by Gilgal om hom te verwelkom en hom oor die rivier te help. 16Simeï, Gera se seun, daardie Benjaminiet wat in Bagurim gebly het, was vreeslik angstig om die koning te verwelkom en het saam met die mense van Juda afgegaan rivier toe. 17Daar was ’n klomp soldate van die stam van Benjamin by hom, en ook Siba, die man wat by Saul in die paleis gewerk het, met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle was voor die koning by die rivier. 18Hulle het deur die drif gegaan om die koning se gesin oor die rivier te help en enigiets te doen wat die koning wou hê. Toe Simeï, Gera se seun, deur die Jordaanrivier is, val hy voor die koning op sy knieë 19en sê vir hom: “U Majesteit, moet asseblief nie die verkeerde ding wat ek gedoen het, teen my hou nie. Moet tog nie dink aan die onnosel ding wat ek daardie dag aangevang het toe U Majesteit uit Jerusalem moes padgee nie. Vergeet dit, asseblief. 20Ek weet ek het ’n vreeslike fout gemaak, maar vandag is ek van al die mense in die Noorde eerste hier om U Majesteit te verwelkom.”
21Abisai, Seruja se seun, haak toe af en sê: “Maar moet Simeï nie doodgemaak word vir wat hy gedoen het nie? Hy het dan die Here se koning gevloek!”
22Dawid antwoord toe: “Julle twee seuns van Seruja hoef nie vir my op te kom nie. Om die waarheid te sê, julle praat vandag teen my. Niemand in Israel sal vandag doodgemaak word nie. En dit sê ek omdat ek nou die koning van Israel is.”
23Die koning het vir Simeï gesê: “Jy sal nie doodgemaak word nie.” Die koning het gesweer dat dit nie sal gebeur nie.
24Mefiboset, Saul se kleinseun, het ook gegaan om die koning te verwelkom. Van die dag af dat die koning uit Jerusalem uit is tot op die dag dat hy weer veilig terug was, het Mefiboset nie sy voete gewas of geskeer of ander klere aangetrek nie. 25Toe hy later in Jerusalem by die koning kom, het die koning vir hom gevra: “Hoekom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?”
26“U Majesteit,” het hy geantwoord, “omdat ek so swaar loop, het ek gedink ek sal ’n donkie laat opsaal waarmee ek kan ry en saam met U Majesteit gaan. Maar my werker het my in die steek gelaat. 27Boonop het hy my sleggemaak by u. Maar U Majesteit is so verstandig soos ’n engel uit die hemel. Doen maar met my wat u wil. 28U Majesteit kon my pa se hele familie doodgemaak het. In plaas daarvan het u my ’n plek gegee aan u tafel. Watter reg het ek dan om nou nóg ’n guns vir u te vra?”
29“Ons hoef nie verder daaroor te praat nie,” het die koning gesê. “Ek reël nou dat jy en Siba die grond van Saul moet deel.”
30Toe het Mefiboset geantwoord: “Ek is so bly dat U Majesteit veilig by die huis is, Siba kan maar alles kry.”
31Barsillai, die man uit Gilead, het van Rogelim af gekom om die koning by die Jordaanrivier af te sien. 32Hy was al 80. Dis hy wat vir die koning gesorg het toe die koning in Maganajim was. Hy kon dit doen, want hy was ’n skatryk man. 33Die koning het vir Barsillai gesê: “Kom saam met my oor die rivier. Kom bly by my in Jerusalem, dan sorg ek vir jou.”
34Maar Barsillai het geantwoord: “Ek weet nie hoe lank ek nog gaan leef nie. Dit sal nie ’n goeie ding wees as ek by U Majesteit in Jerusalem gaan bly nie. 35Ek is nou 80 jaar oud. My smaak is daarmee heen: ek kan nie meer iets wat ek eet of drink, geniet nie. Ek kan ook nie meer mooi hoor as die sangers en sangeresse sing nie. Ek sal net vir U Majesteit ’n las wees. 36Ek sal amper nie eers saam met U Majesteit oor die Jordaanrivier kom nie. Waarom moet u dan vir my soveel moeite doen? 37Laat ek maar omdraai en in my eie dorp doodgaan waar my pa en ma begrawe lê. Hier is my seun Kimham. Hy kan maar saam met U Majesteit gaan. Doen maar vir hom wat u wil.”
38Die koning het gesê: “Goed, Kimham gaan dan saam met my. Ek sal vir hom doen net wat jy vra. Ek sal enigiets vir jou doen.”
39Al die mense het toe oor die Jordaanrivier gegaan. Die koning is ook oor nadat hy vir Barsillai omhels en hom alles wat goed is, toegewens het. Barsillai het teruggegaan huis toe. 40Die koning is toe daarvandaan Gilgal toe. Kimham het saamgegaan.
Al die manskappe van Juda en die helfte van die manskappe van Israel het die koning oor die rivier gehelp. 41Maar toe kom al die ander mans van Israel daar by die koning aan en sê vir hom: “Waar kom ons broers, die mense van Juda, daaraan om U Majesteit en sy gesin en al die mense by hom oor die Jordaanrivier te help?”
42Die mans van Juda antwoord toe sommer die mans van Israel en sê: “Oor die koning van ons familie is! Maar hoekom wip julle julle daaroor? Het ons miskien van die koning se kos geëet of van sy goed weggedra?”
43Daarop antwoord die mans van Israel: “Omdat ons tien stamme is, het ons tien keer meer reg op die koning as julle, ook op koning Dawid. Hoekom maak julle dan of ons nie enige regte het nie? Ons het in elk geval eerste gesê ons wil ons koning terugbring.”
Die mans van Juda het toe nog skerper geantwoord as die mans van Israel.

Tans Gekies:

2 Samuel 19: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan