Handelinge 9:26-31

Handelinge 9:26-31 DB

Daarna het Saulus teruggegaan Jerusalem toe. Daar het hy probeer om by die kerk aan te sluit, maar die gelowiges was skrikkerig vir hom. Hulle het gedink hy gee net voor dat hy glo. Barnabas het egter gesien Saulus se geloof in Jesus is eg. Hy het hom jammer gekry en hom toe aan die apostels gaan voorstel. Barnabas het hulle vertel hoe die Here aan Saulus verskyn en met hom gepraat het. Hy het ook vertel dat Saulus nie bang was om in Damaskus vir die mense te sê dat Jesus die Here is nie. Daarna het Saulus in die openbaar saam met hulle rondgestap. Oral waar hy gekom het, het hy met ander mense oor Jesus gepraat. Kort voor lank het Saulus egter moeilikheid gekry met ’n groep Griekssprekende Jode. Hulle het niks gehou van wat hy gesê het nie. Hulle het toe besluit om hom dood te maak. Toe die gelowiges daarvan te hore kom, het hulle hom dadelik uit die stad weggevat. Hulle is haastig met hom Sesarea toe. Van daar af het Saulus per skip na Tarsus vertrek. Daarna het daar ’n tydperk van vrede in die kerk aangebreek. Dwarsdeur Judea, Galilea en Samaria het mense in groot getalle by die kerk aangesluit. Gelowiges se vertroue in die Here het sterker geword. Hulle almal het ook groot eerbied vir die Here gehad. En hulle het al hoe meer bewus geword van die bystand en troos van die Heilige Gees in hulle lewe.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 9:26-31