Rigters 18

18
Afgodery in die stam van Dan
1In die tyd toe daar nog nie ’n koning in Israel was nie, het die stam van Dan na grond gesoek waar hulle kon gaan bly. Tot in daardie stadium het hulle nog nie ’n eie gebied gehad waar hulle kon bly nie. 2Die mense van Dan het vyf dapper mans uit die dorpe Sora en Estaol as hulle verteenwoordigers gestuur om die land te gaan verken. Hulle het toe by Miga se huis in die berge van Efraim aangekom en daar oornag.
3Hulle het die jong Leviet se aksent herken en vir hom gevra: “ Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Wat hou jou hier?”
4Hy het geantwoord: “Ek het ’n ooreenkoms met Miga. Hy betaal my en ek is sy priester.”
5Hulle sê toe vir hom: “Vra ’n bietjie vir die Here of ons suksesvol gaan wees.”
6“Gaan gerus voort,” het die priester gesê, “julle het niks om julle oor te bekommer nie, die Here is by julle op julle reis.” 7Die vyf mans is toe daar weg en het later by Lajis aangekom. Hulle het opgemerk dat die inwoners ’n sorgvrye lewenswyse gehad het, soos die inwoners van Sidon gewoond was om te doen. Hulle was vredeliewende, rustige mense wat nie gedurig met ander volke moeilikheid gesoek het nie. Hulle was ook welvarend. Hulle het ver van die mense van Sidon af gebly en hulle het ook nie met die ander volke in die omgewing in aanraking gekom nie. 8Toe die vyf mans terug is in Sora en Estaol het hulle mense vir hulle gevra: “En toe, wat het julle gesien?”
9Hulle antwoord was: “Waarvoor wag julle nog? Kom ons val hulle aan. Ons het die land gesien, dis wonderlik. Ons moet dit dadelik gaan inneem. Moenie nog tyd mors nie! 10Julle sal sien as julle daar aankom, hierdie mense is houtgerus. Dis ’n wonderlike gebied. Daar is alles wat ’n mens se hart kan begeer, en die Here gee dit vir julle.”
11Ses honderd swaar gewapende soldate uit die stam van Dan het toe van Sora en Estaol af weggetrek om die land te gaan inneem. 12Hulle het kamp opgeslaan by Kirjat-Jearim in Juda. Daarom staan die plek net oos van Kirjat-Jearim bekend as die kamp van Dan. 13Van daar af het hulle verder getrek tot by Miga se huis in die berge van Efraim.
14Die vyf mans wat vroeër die gebied van Lajis verken het, het vir die ander gesê: “Weet julle dat daar ’n afgodsbeeld en huisgode en nog ’n paar ander beeldjies in hierdie huis is? Ons dink dit is glashelder wat ons behoort te doen.” 15Hulle het toe afgedraai na Miga se huis toe waar die jong Leviet gebly het en vir hom gevra hoe dit met hom gaan. 16Die 600 gewapende soldate het by die hek bly staan, 17terwyl die vyf wat die land verken het, in die huis ingegaan en die afgodsbeeld, die huisgode en die ander beeldjies gevat het. 18Toe die priester, wat by die deur gestaan het, sien dat hulle die afgodsbeelde wegdra, het hy gevra: “Wat dink julle doen julle?”
19Hulle sê toe vir hom: “Bly liewer stil en kom saam met ons. Jy kan ons leermeester en priester wees. Dit is tog beter om die priester van ’n hele stam van Israel te wees as net vir een man.”
20Die idee het die jong priester aangestaan en hy het die afgodsbeeld, die huisgode en die ander beeldjies gevat en saam met die mense gegaan. 21Die klomp is toe daar weg met hulle kinders en vee en besittings aan die voorpunt. 22Toe hulle al ’n hele ent weg was, het Miga sy bure geroep en hulle het die mense van Dan agternagesit. 23Toe hulle hulle inhaal, het hulle op die mense van Dan begin skree. Dié het omgedraai en vir Miga gevra: “Vir wat gaan jy so te kere?”
24“Julle het my gode gevat wat ek gemaak het en boonop my priester ook afgerokkel; ek het net mooi niks oor nie. Dan vra julle nog waarom ek so te kere gaan!”
25Die mense van Dan het vir hom gesê: “Moenie hier by ons kom staan en lawaai maak nie. Netnou is hier ’n klompie mense wat besluit om hulle humeur te verloor en dan verloor jy en jou mense dalk julle lewe!” 26Die mense van Dan het omgedraai en verder getrek. Miga het besef dat hulle baie sterker was as die groep by hom; daarom het hy omgedraai en teruggegaan huis toe.
27Die mense van Dan is toe met die beelde en die priester na die niksvermoedende mense van Lajis toe. Daar aangekom, het hulle die mense doodgemaak en die stad tot op die grond afgebrand. 28Niemand kon hulle red nie, aangesien hulle baie ver van Sidon af was en hulle in elk geval nie kontak met die ander volke in die omgewing gehad het nie. Lajis was in die vallei van Bet-Regob geleë. Hierna het die mense van Dan die stad herbou en self daarin gaan woon. 29Hulle het die stad herdoop na Dan ter ere van hulle stamvader Dan, Jakob se seun. 30Hulle het die afgodsbeeld daar laat staan, en Gersom se seun Jonatan die kleinseun van Moses, en sy seuns het as hulle priesters opgetree totdat die mense in ballingskap weggevoer is. 31Miga se afgodsbeeld is daar aanbid vir die volle tydperk wat die tabernakel in Silo bly staan het.

Tans Gekies:

Rigters 18: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan