Rigters 6

6
Die Here kom praat met gideon
1Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Daarom het die Here hulle sewe jaar lank in die mag van die Midianiete oorgegee. 2Die Midianiete het die Israeliete so wreed behandel dat hulle na die berge toe gevlug het waar hulle in grotte en ander moeilik bereikbare plekke gaan bly het. 3Elke keer as die Israeliete hulle oeste geplant het, het die Midianiete en die Amalekiete en van die ander mense uit die ooste hulle land binnegeval. 4Dan het hulle kamp opgeslaan en al die oeste verwoes tot so ver as by Gasa. Hulle het die Israeliete agterlaat met niks om te eet nie, want hulle het ook die skape, beeste en donkies saam met hulle gevat. 5Die soldate van Midian het met al hulle vee en tente gekom. Dit het soos ’n swerm sprinkane gelyk, so baie was hulle. Dit was onmoontlik om hulle en hulle kamele te probeer tel. Hulle het in die land gebly totdat hulle dit kaal gestroop het. 6Hulle het die Israeliete heeltemal laat verarm. Toe het die Israeliete by die Here hulp gaan soek.
7Toe hulle by die Here hulp teen die Midianiete soek, 8het Hy vir hulle ’n profeet gestuur wat vir hulle gesê het: “So sê die Here die God van Israel: Ek het julle uit Egipte gered waar julle slawe was. 9Ek het julle uit die mag van die Egiptenaars verlos en julle vrygemaak van al die volke wat julle in hierdie land verdruk het. Ek het hulle voor julle uit weggejaag en hulle land vir julle gegee. 10Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag glad nie die gode van die Amoriete in wie se land julle bly, aanbid nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.”
11Daarna het die Engel van die Here onder die eikeboom in Ofra gaan sit wat aan Joas die Abiësriet behoort het. Sy seun Gideon was besig om koring in die parskuip uit te slaan waar die Midianiete hom nie kon sien nie. 12Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”
13Toe antwoord Gideon: “Verskoon my dat ek vra, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom gebeur al hierdie slegte goed met ons? Wat het van al die wonderlike dinge geword waarvan ons voorvaders ons vertel het? Het hulle nie gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gered’ nie? Maar nou het die Here ons aan ons eie lot oorgelaat en ons in die Midianiete se mag oorgegee.”
14Toe draai die Here na Gideon toe en sê vir hom: “Jy het die krag. Gaan bevry die Israeliete uit die Midianiete se mag! Gaan nou, Ek stuur jou!”
15“Ekskuus, Meneer,” sê Gideon, “maar waarmee moet ek die Israeliete red? My familie is die armste in die stam van Manasse en in my eie gesin is ek nie juis belangrik nie.”
16Toe sê die Here: “Jy kan hulle red, want Ek gaan jou help. Jy sal die Midianiete so maklik verslaan asof dit net een mens is teen wie jy baklei.”
17Toe sê Gideon: “Mag ek U ’n guns vra: doen asseblief vir my ’n wonderwerk dat ek seker kan wees dat U wel die Here is wat nou met my praat. 18Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek terug is en vir U ’n offer kon bring nie.”
“Ek sal wag tot jy terugkom,” het die Here geantwoord.
19Gideon is terug huis toe, waar hy ’n jong bokkie gaargemaak en ’n brood gebak het. Vir die brood het hy ongeveer sestien kilogram meel sonder suurdeeg gebruik. Hy het die vleis in ’n mandjie gesit en die sous in ’n bakkie gegooi. Toe gaan hy terug na die Engel onder die eikeboom.
20Toe hy daar kom, sê die Engel van God vir hom: “Sit die vleis en die brood op die rots neer en gooi die sous daaroor uit.” Gideon het dit gedoen. 21Die Engel van die Here raak toe met die punt van die stok wat Hy in sy hand gehad het aan die vleis en die brood. Skielik kom daar ’n vlam uit die rots uit wat die vleis en die brood heeltemal verbrand. Toe Gideon weer kyk, was die Engel van die Here weg.
22Toe Gideon agterkom dat hy die Engel van die Here gesien het, het hy baie benoud gesê: “O, Here my God, ek het die Engel van die Here met my eie oë gesien. Nou is ek in groot moeilikheid!”
23Toe sê die Here vir Gideon: “Toemaar, moenie bang wees nie, jy sal niks oorkom nie.”
24Gideon het daar op die plek vir die Here ’n altaar gebou. Hy het dit genoem: “Die Here gee vrede.” Die altaar staan nou nog daar in Ofra in die gebied van die Abiësriete.
Gideon breek die afgode se altare af
25Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat jou pa se bul in die kraal, die een wat sewe jaar oud is. Breek dan die altaar af wat hy vir Baäl gebou het en kap die paal wat hy vir die godin Asjera opgerig het, wat langs die altaar staan, ook af. 26Bou dan ’n behoorlike altaar vir die Here jou God op hierdie heuwel. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het om vuur te maak en offer die bul as ’n brandoffer aan My.”
27Gideon het tien van die mense wat vir hom gewerk het, gevat en gedoen wat die Here gesê het. Omdat hy bang was vir die reaksie van sy eie familie en van die mense van die dorp, het hy dit in die donker gedoen.
28Toe die dorpsmense die volgende oggend wakker word, het hulle agtergekom dat die Baälaltaar en die Asjerapaal wat langsaan gestaan het, afgebreek is. In die plek daarvan was daar ’n splinternuwe altaar met die oorblyfsels van ’n brandoffer daarop. 29Almal het gewonder: “Wie het dit gedoen?” Nadat hulle oral navraag gedoen het, het hulle ontdek dat dit Joas se seun Gideon was.
30Hulle skreeu toe vir Joas: “Bring jou seun daar uit die huis uit! Hy het Baäl se altaar afgebreek en Asjera se paal afgekap. Daarom moet hy doodgemaak word!”
31Toe sê Joas vir die oproeriges wat daar buite staan: “Wil julle nou skielik Baäl se saak vir hom behartig? Gaan julle hom verdedig? Weet net, wie ook al Baäl se saak probeer verdedig, sal teen môreoggend reeds dood wees. As Baäl ’n god is, laat hy homself verdedig. Dis tog sy altaar wat Gideon afgebreek het!” 32Hulle het Gideon toe Jerubbaäl genoem, “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy probleem met Gideon oplos, want dit is mos Gideon wat sy altaar afgebreek het.”
Gideon kry ’n teken uit die hemel
33Kort daarna het die Midianiete, die Amalekiete en die mense van die ooste ’n samewerkingsooreenkoms met mekaar gesluit. Hulle het oor die Jordaanrivier getrek en kamp opgeslaan in die vlakte van Jisreël. 34Die Gees van die Here het oor Gideon gekom. Hy het die trompet laat blaas om die Abiësriete vir die oorlog op te roep. 35Hy het ook boodskappers na die gebiede van Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur om die soldate van hierdie gebiede op te roep om hom te volg. Hulle het toe na hom toe gekom.
36-37Toe sê Gideon vir God: “As U my regtig gaan gebruik om Israel te verlos soos U belowe het, bewys dit vir my. Ek sit hierdie stukke wolmat op die dorsvloer neer. As die mat môre nat is van die dou en die grond rondom is droog, sal ek weet dat U my gaan help soos U belowe het.” 38Dit is presies wat gebeur het. Toe Gideon die volgende môre opstaan en die mat uitdroog, het hy ’n hele skottel vol water uitgedruk.
39Toe sê Gideon vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie, maar ek wil graag nog een keer ’n guns vra. Kan ek vra dat die mat hierdie keer droog bly en die grond rondom nat van die dou moet wees?” 40Daardie nag het God gedoen wat Gideon gevra het. Die volgende môre was die mat kurkdroog, maar die grond was nat gedou.

Tans Gekies:

Rigters 6: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan