Jeremia 23

23
Die ideale koning
1Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met die leiers van my mense. Hulle het nie mooi gekyk na die mense wat hulle moes versorg nie. Hulle was soos herders wat hulle skape verwaarloos het. Hulle het die mense uitmekaar laat spat en laat afdwaal. 2Die Here, wat die God van Israel is, sê vir hierdie leiers wat na die volk moet kyk: Julle het my mense soos skape uitmekaar laat gaan. Julle was onverantwoordelik. Julle het hulle nie opgepas nie. Daarom sal Ek julle straf vir al die skade wat julle hulle aangedoen het. 3Daar is van my mense wat sal oorleef in die lande waarheen Ek hulle verdryf het. Ek sal hulle almal bymekaarmaak,” sê die Here. “Ek sal hulle terugbring na hulle eie land waar hulle gebly het. Hulle sal baie kinders hê en weer baie meer mense word. 4Dan sal Ek nuwe leiers vir hulle gee wat mooi na hulle sal kyk. Hulle sal nooit ooit weer bang hoef te wees nie. My mense sal ook nie weer verneder word nie. Verder sal nie een van hulle wegraak of verdwyn nie.”
5Die Here sê verder: “Daar kom ’n tyd wanneer Ek weer ’n koning wat regtig deel is van Dawid se familie koning sal maak. Hy sal ’n verstandige koning wees. Hy sal sorg dat almal in die land regverdig behandel word. Hy sal ook doen wat reg is. 6Sy naam sal wees: ‘Die Here wat aan ons reg doen.’ Terwyl hy regeer, sal Juda vry wees van hulle vyande en Israel sal veilig voel.”
7Die Here sê verder: “Mense sweer gewoonlik ’n eed en sê: ‘So waar as wat die Here lewe wat die mense van Israel uit Egipte laat kom het.’ Maar daar sal ’n tyd kom dat dit nie meer gebeur nie. 8In plaas daarvan sal hulle sê: ‘So waar as die Here lewe wat die mense van Israel na hulle eie land toe teruggebring het uit die land in die noorde en al die lande waarheen hulle weggevat was.’ Dan sal hulle in hulle eie land voortgaan met hulle lewe.”
Die lot van die profete
9My hart is stukkend oor die vals profete. Die Here se woorde is heeltemal anders as gewone mense s’n. Wat Hy oor hierdie boodskappers te sê het, laat my bewe so groot as wat ek is. Ek slinger rond soos ’n mens wat dronk is van te veel wyn.
10Die land is vol mense wat dislojaal teenoor die Here is. Dit gaan nie goed in die land nie. Dit gaan eintlik treurig, want die weiding in die veld het verdroog. Die profete doen slegte dinge en misbruik hulle mag. 11Die Here sê: “Die priesters is net soos hierdie boodskappers. Hulle steur hulle net mooi niks aan My nie. Ek het selfs gesien dat hulle verkeerde goed in my tempel doen. 12Daarom sal dit met hulle gaan soos met iemand wat in die donker op gladde paaie moet loop. Hulle sal gedwing word om op donker roetes te stap. Omdat dit donker is, sal hulle val. Die tyd het aangebreek dat hulle gestraf gaan word. Ek sal sorg dat slegte dinge met hulle gebeur,” sê die Here.
13“Ek het gesien hoe die profete van Samaria ’n totaal onaanvaarbare ding doen. Hulle sê die boodskappe wat hulle bring, kom van Baäl af. Deur dit te doen lei hulle die mense van Israel op ’n dwaalspoor. 14Maar nou sien Ek dat die profete van Jerusalem nog erger dinge doen. Hulle hoereer, lieg en bedrieg en boonop moedig hulle mense wat verkeerd doen aan om daarmee vol te hou. ’n Mens sou eerder verwag het dat hulle mense sou aanmoedig om op te hou om verkeerd te doen. Hulle is niks beter as die mense van Sodom en Gomorra nie!”
15Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê die volgende oor hierdie profete: “Ek sal vir hulle bitter goed gee om te eet en gif om te drink. Dit is die profete van Jerusalem se skuld dat al die mense van die land leef asof Ek nie bestaan nie. 16Julle moenie na hierdie profete luister nie. Die boodskappe wat hulle vir julle bring, laat julle dinge hoop wat nie gaan gebeur nie. Die goed wat hulle kastig sien, is droombeelde wat hulle self uitgedink het. Die goed wat hulle praat, kom nie van My af nie. 17Hulle hou aan om die mense wat minder as niks dink van wat Ek sê, gerus te stel. Hulle sê: ‘Die Here sê julle sal rus en vrede hê!’ En vir die mense wat hardkoppig is en net doen wat hulle wil, sê hulle: ‘Niks slegs sal met julle gebeur nie!’”
18Wie van hierdie profete was al so deel van die binnekring van die Here dat hulle gesien het wat Hy doen of gehoor het wat Hy sê? Was daar enigeen van hulle wat regtig wou luister na wat Hy sê?
19Kyk, die woede van die Here het losgebars soos ’n storm. Sy straf sal hulle tref soos ’n warrelwind wat hulle rondruk. 20Die woede van die Here sal nie afkoel nie totdat Hy sy doel bereik het. Julle sal binnekort presies verstaan wat aan die gang is.
21Die Here sê: “Ek het nie hierdie profete gestuur nie en tog gaan hulle aan asof dit so is. Ek het nie vir hulle enige boodskappe gegee nie en tog maak hulle of Ek het. 22As hulle werklik in my binnekring was en geluister het na wat Ek sê, sou hulle my boodskap gekry het om oor te dra. Dan sou my volk opgehou het om al die verkeerde dinge te doen waarmee hulle besig is. 23Dink julle miskien Ek is net in een plek te kry? Kan Ek nie ook raaksien wat ver van hier af gebeur nie? 24Dink enigiemand hulle kan vir My wegkruip en Ek sal hulle nie sien nie? Is Ek nie oral in die hemel en op die aarde nie?” vra die Here.
25“Ek het gehoor wat hierdie profete sê: ‘Kom ek vertel vir julle die droom wat die Here vir my in die nag gegee het.’ Dan vertel hulle leuens en is hulle so vermetel om te sê Ek het vir hulle die boodskap gegee. 26Hoe lank sal daar nog van hierdie profete wees wat mense bedrieg? Die goed wat hulle kwytraak, het hulle sommer self uitgedink. 27Hierdie profete vertel vir mekaar hierdie vals drome. Hulle probeer so om my mense van My te laat vergeet. Hulle voorouers het destyds van My vergeet toe hulle Baäl begin dien het. 28As hulle dan wil, laat hierdie vals profete hulle drome vir ander vertel. Maar as my profete praat, moet hulle die boodskap wat Ek vir hulle gegee het, sonder enige stertjies oordra. Wat waar is en wat vals is, verskil net soveel as wat kaf en koring van mekaar verskil,” sê die Here. 29Hy vra: “Is my woorde nie soos ’n vuur wat brand nie? Is dit nie soos ’n hamer wat ’n rots in stukke laat spat nie?”
30Daarom sê die Here: “Dit kan julle weet, Ek is teen hierdie profete wat hulle boodskappe by ander steel en maak of Ek dit gesê het. 31Ek is ’n opponent van hierdie gladdemondboodskappers wat stories vir die mense vertel en sê dit kom van My af. 32Hierdie profete se drome is niks anders as hulle verbeelding nie. Dit is ’n spul leuens wat my mense op die verkeerde pad lei. Ek het hulle nie gestuur nie en Ek het niks vir hulle gesê om vir julle te sê nie. Wat hulle sê, help my mense net mooi niks,” sê die Here.
Vals profete met vals boodskappe
33Die Here het vir my gesê: “Jeremia, as een van die mense of een van die profete of van die priesters vir jou vra: ‘Wat is die las van ’n boodskap waarmee die Here jou opgesaal het?’ dan moet jy antwoord: ‘Julle is die las waarmee Hy my opsaal. Die Here sê Hy wil niks meer met julle te doen hê nie!’ 34As enige profeet, priester of enigiemand anders sê: ‘Ek het ’n boodskap van die Here vir julle. Dit is ’n boodskap dat Hy julle gaan straf,’ sal Ek die spesifieke mens en sy hele gesin straf. 35Hou liewer aan om vir mekaar te vra: ‘Wat het die Here geantwoord?’ of ‘Wat het Hy gesê?’ 36Moenie langer ewe formeel sê: ‘’n Boodskap van die Here’ nie. Julle gebruik dit om gewig aan julle eie idees te gee. Wat julle eintlik doen, is om die boodskap van die Here, ons God, wat sterker as alles en almal is, te verdraai.
37“Jeremia, jy moet vir die profete vra: ‘Wat het die Here julle geantwoord?’ of ‘Wat sê die Here?’ 38Maar sê nou hulle sê: ‘Die Here het hierdie boodskap vir ons gegee!’ As hulle dit sou doen, moet jy sê: Die Here sê: ‘Julle bly sê die boodskap kom van die Here af, selfs al het Ek julle gewaarsku om dit nie te doen nie. 39Omdat julle dit doen, sal Ek heeltemal van julle vergeet. Ek sal My glad nie meer aan julle steur nie. Dit geld ook vir hierdie stad wat Ek vir julle en ook julle voorouers gegee het. 40Julle gaan vir altyd verneder word. Julle sal so in die skande kom dat niemand dit ooit sal vergeet nie.’”

Tans Gekies:

Jeremia 23: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan