Jeremia 49

49
Oor Ammon
1Hierdie deel gaan oor die mense van Ammon.
Die Here sê: “Het Israel nie ’n nageslag wat die grond van Gad kan erf nie? Hoekom het die mense wat die god Milkom aanbid, dan hierdie grond vir hulle gevat? Hoekom bly hulle in hierdie stede? 2Die tyd kom dat ’n geveg sal uitbreek teen die stad Rabba van die Ammoniete. Al wat van die stad sal oorbly, is ’n hoop bourommel. Die naburige dorpies sal ook afgebrand word. Dan sal die mense van Israel kom en die land wat van hulle afgevat is, terugvat.”
3Die Here sê verder: “Huil gerus maar droewig, Gesbon, want die stad Ai is verwoes. Kla maar, julle wat in Rabba bly! Trek julle rouklere aan, huil en loop maar heen en weer omdat julle ontsteld is. Die vyand sal julle god Milkom wegdra uit julle land. Hulle sal ook die leiers van die Milkomgodsdiens en sy amptenare vang en saamvat. 4Julle spog tog so graag met julle vrugbare valleie. Julle is eintlik maar ’n ontroue klomp mense. Julle vertrou op julle rykdom en dink dat niemand julle kan aanval nie. Julle maak ’n groot fout! 5Ek, die Here, is sterker as alles en almal. Ek sê vir julle: van alle kante af sal vreeslike goed met julle gebeur. Julle sal uit julle land gejaag word. Elkeen van julle sal in sy eie rigting wegvlug. En daar sal niemand wees wat die mense wat vlug weer bymekaar sal bring nie. 6Maar eendag, as alles verby is, sal Ek weer Ammon se omstandighede verander. Ek, die Here, sê dit sal so gebeur!”
Oor Edom
7Edom is in die kollig:
Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Is daar nie meer verstandige mense in Teman nie? Wat het geword van mense met gesonde verstand? Het hulle insig opgedroog? 8Draai om en vlug weg! Julle wat in Dedan bly, kruip in grotte weg! Ek gaan Edom met ’n ramp tref. Die tyd het gekom om met die mense af te reken. 9Is dit nie so dat die mense wat druiwe pluk, altyd iets in die wingerd los nie? En steel diewe wat in die nag inbreek nie net wat hulle wil hê nie? 10Maar Ek sal Edom kaal stroop. Ek sal al die wegkruipplekke oopmaak sodat niemand meer kan wegkruip nie. Al hulle kinders, familie en bure sal uitgewis word en Edom sal ophou bestaan. 11Maar los julle weeskinders vir My. Ek sal sorg dat hulle bly lewe. Julle weduwees kan ook op My staatmaak vir hulp.”
12Die Here sê: “As onskuldige mense swaar moes kry, verdien julle dit mos meer om gestraf te word. Julle sal nie ongestraf bly nie! 13Ek het gesweer, so waar as Ek leef, dat Bosra ’n plek sal word waarvoor mense sal skrik. Die stad sal ’n hoop bourommel word. Mense sal die naam as ’n vloekwoord gebruik en met die stad spot. Al die dorpies in Bosra se omgewing sal vir altyd verwoes lê.”
14Ek het nuus van die Here af gekry dat ’n boodskapper na die nasies gestuur is om te sê: “Span saam teen Edom. Maak julle reg vir ’n geveg!” 15Die Here sê: “Ek maak julle so klein onder die nasies, Edom, dat niemand meer iets van julle sal dink nie. Hulle sal julle verag. 16Die ander volke is baie bang vir julle. Julle dink ook vreeslik baie van julleself. Maar dit het julle eintlik ’n vals idee gegee oor hoe goed julle is. Julle bly ook in rotsskeure en domineer die hoogste dele van die heuwels. Maar al bly julle soos arende op die hoë pieke van die berge, sal Ek julle hard aarde toe bring. Ek, die Here, sê dit is wat sal gebeur! 17Almal sal aan die bewe gaan as hulle sien wat met Edom gebeur het. Mense wat daar verbygaan, sal ontsteld wees en na hulle asem snak oor al die rampe wat Edom getref het. 18Die vernietiging van Edom sal net so erg wees as toe Sodom en Gomorra en die dorpe in die omgewing verwoes is. Niemand sal meer daar bly nie.
19Ek sal skielik op die mense van Edom afstorm soos ’n leeu wat uit die bosse by die Jordaan kom op soek na ’n prooi in die groen weivelde. Ek sal hulle uit hulle eie land laat weghardloop. Dan sal Ek ’n leier van my keuse oor hulle aanstel. Want wie kan met My vergelyk word? Wie kan dink om My uit te daag? Nie een van hulle leiers kan teen My opstaan nie. 20Luister mooi na wat die Here vir Edom en die mense van Teman beplan. Selfs die klein kindertjies sal uit hulle land weggevat word. Die res van die mense sal geskok wees oor wat met hulle gebeur. 21Wanneer Edom tot ’n val kom, sal die aarde skud. Hulle geskree sal so ver as die Rietsee gehoor word. 22Die vyand sal soos ’n arend maak wat sy vlerke sprei en hoog vlieg, en dan vinnig op sy prooi toesak. So sal die vyand met Bosra maak. Daardie dag sal van die dapperste soldate net so bang wees soos ’n vrou wat geboorte gee.”
Oor Damaskus
23Oor Damaskus sê die Here: “Die mense in die stede Hamat en Arpad is geskok omdat hulle slegte nuus gehoor het. Hulle hart voel so onstuimig soos die see en kan nie tot rus kom nie. 24Damaskus se mense is moedeloos en wil net wegvlug. Hulle lewe word deur angs en vrees oorheers. Hulle voel bang en ellendig soos ’n vrou wat deur geboortepyne oorval word. 25Damaskus is ’n beroemde stad wat bekend is vir vrolikheid. Hoekom gaan dit dan ’n verlate plek word? 26Die dag as al hierdie dinge gebeur, sal die jongmans in die strate val en doodgaan. Al die soldate van Damaskus sal doodgemaak word. Dit is wat Ek, die Here, sê, en Ek is sterker as alles en almal. 27Ek sal ’n vuur in Damaskus aan die brand steek. Al koning Ben-Hadad se versterkte skuilplekke sal afgebrand word.”
Oor Kedar en Gasor
28Die volgende is wat die Here oor Kedar en die koninkryke van Gasor sê. Koning Nebukadnesar van Babel het hulle aangeval.
Die Here sê: “Maak reg en val Kedar aan! Vernietig die mense uit die ooste! 29Die tente waarin hulle bly en ook hulle vee sal geroof word. Alles wat hulle in hulle blyplekke het, sal gevat word. Hulle kamele sal ook gesteel word. Die mense sal vir hulle skree: ‘Om elke hoek en draai is daar gevaar!’”
30Die Here se raad vir die mense van Gasor is: “Vlug vir julle lewe! Gaan kruip weg in plekke wat veilig is. Koning Nebukadnesar het planne gereed oor wat hy met julle wil maak. Hy weet presies wat hy wil doen.” 31Die Here se opdrag is: “Gaan val die volk aan wat so rustig bly. Hulle dink dat hulle baie veilig is. Hulle bly daar eenkant alleen sonder goed soos hekke en slotte om hulle te beskerm. 32Vat gerus al hulle kamele en hulle groot getalle vee vir julle as buit. Ek sal hierdie mense wat so op die rand van die woestyn bly, in alle windrigtings verjaag. Ek sal dat rampe hulle van alle kante af tref. Ek, die Here, sê so. 33Gasor sal ’n eensame en verlate plek word. Mense sal nie meer daar bly nie. Dit sal net ’n plek wees waar jakkalse bly.”
Oor Elam
34Jeremia was ’n profeet van die Here. Die Here het vir hom sekere dinge oor Elam gesê. Dit was net toe Sedekia koning van Juda geword het.
35Die Here wat sterker as alles en almal is, het gesê: “Elam se krag lê in sy goeie boogskutters. Maar Ek sal hulle krag vernietig deur hulle boë te breek. 36Ek sal dat die vyand van Elam al die mense van Elam in verskillende rigtings verstrooi. Dit sal wees soos winde wat Ek uit die vier windrigtings laat kom om hulle te verwaai. Daar sal nie ’n volk êrens wees by wie die mense wat uit Elam gevlug het, nie sal aanland nie. 37Ek sal die oorsaak wees dat Elam doodbang sal wees vir hulle vyande wat hulle so bitter graag wil doodmaak. Ek is so kwaad vir hulle dat Ek hulle gaan straf. Waar hulle ook al is, sal hulle in gevegte beland en doodgaan. Ek sal hulle heeltemal uitroei. 38Ek sal hulle konings en leiers vernietig en die regter van Elam wees. Dit sê Ek, die Here! 39Maar eendag in die toekoms sal Ek weer Elam se omstandighede verander,” sê die Here.

Tans Gekies:

Jeremia 49: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan