Job 39

39
1“Kan jy vir die leeuwyfie haar prooi jag? Kan jy vir die jong leeus genoeg gee om te eet 2daar waar hulle in hulle blyplekke lê of wegkruip terwyl hulle wag dat die jag moet klaarmaak? 3Wie gee vir die kraaie kos as hulle rondskarrel omdat daar nie kos is nie, wanneer hulle kleintjies na God roep om vir hulle kos te gee?”
Die Here praat verder met Job
4“Weet jy wanneer dit tyd is vir die bergbokke om te lam? Het jy al bygestaan as ’n wildsbokooi geboorte gee? 5Weet jy hoe lank sy die ongebore lam dra? Weet jy wanneer hulle moet lam? 6Wanneer dit tyd is dat die lam gebore moet word, hurk die ooi neer vir die geboorte. 7Die klein bokkies groei en word in die veld groot. As hulle uitgegroei is, gaan hulle van hulle ouers af weg en kom nooit weer terug nie.
8“Wie het die wilde donkies losgelaat en hulle vry laat rondloop? 9Ek het hulle in die woestyn laat bly. Die soutpanne was hulle weiplek. 10Hulle bly van die geraas in die stad af weg. Hulle steur hulle ook nie aan die geskree van mense wat hulle rondjaag en wil tem nie. 11Hulle loop en wei in die berge en soek na elke groen grassie wat hulle kan kry om te eet.
12“Sal die buffel bereid wees om vir jou te werk? Sal hy in die aand by jou voerbak kom staan en eet? 13Kan jy ’n buffel voor ’n ploeg inspan? Sal hy jou landerye vir jou ploeg en eg? 14Die buffel het geweldige krag. Sal jy op sy krag staatmaak om jou harde werk vir jou te doen? 15Kan jy die buffel vertrou om jou graan vir jou na die dorsvloer toe te bring?
16“Die volstruis is vrolik en klap haar vlerke. Haar vere en vlerke is pragtig. 17Sy los haar eiers bo-op die grond en laat die grond dit warm hou. 18Sy dink nie eers daaraan dat iemand op die eiers kan trap of dat die wilde diere hulle kan breek nie. 19Sy werk rof met haar kuikens asof dit nie haar eie is nie. Dit lyk nie of dit haar pla dat haar moeite om hulle uit te broei verniet kan wees nie. 20God het haar nie baie slim gemaak nie. Sy het nie veel verstand gekry nie. 21Maar die keer as sy opspring en begin hardloop, maak sy ’n gek van ’n perd en sy ruiter. Sy hardloop skoon onder hulle uit.
22“Job, gee jy miskien vir die perd sy krag? Het jy gesorg vir die golwende maanhare op die perd se nek? 23Maak jy dit vir hom moontlik om soos ’n sprinkaan te kan spring? Het jy vir die perd sy trotse snork gegee waarmee hy mense afskrik? 24Hy kap met sy hoef in die grond en wys sy krag. As hy in ’n oorlog ingaan, 25ken hy nie so iets soos vrees nie. Geen wapen sal hom laat weghardloop nie. 26Al raas en blink die wapens, dit skrik hom nie af nie. 27Hy skud en bewe van spanning en kap in die grond. Hy kan nie wag dat hulle die trompet blaas wat die teken gee om aan te val nie. 28Hy snork as hy die klank van die beuel hoor. Hy snuif in die lug asof hy die geveg op ’n afstand kan ruik. Hy kan hoor wanneer die offisiere bevele uitskreeu.
29“Job, is dit jou insig wat die valk laat sweef as hy sy vlerke na die suide toe span? 30Het jy vir die arend gesê om sy nes hoog in die berge te bou? 31Hy bly op die rotse en maak sy nes op skerp kranse. Dit is soos ’n veilige plek om in te skuil. 32Al is dit ver, kyk hy daar van bo af en soek vir hom ’n prooi om te eet. 33Die arend is altyd daar waar iets dood is. Sy kuikens vreet die bloederige vleis.”
34Die Here het vir Job gesê: 35“Wil jy ’n saak teen My maak en My reghelp? Jy stry met My, maar het jy die antwoorde?”
Job antwoord die Here
36Job het die Here geantwoord en gesê: 37“Ek is eintlik niks! Wat kan ek U antwoord? Ek sal my hand op my mond sit en stilbly. 38Ek het alreeds te veel gesê, ek het niks meer om te sê nie.”

Tans Gekies:

Job 39: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan