Levitikus 8

8
Aäron en sy seuns word as dienaars aangestel
1Toe het die Here vir Moses gesê: 2“Vat Aäron en sy seuns na die ingang van die tent waar die Here gedien word. Bring ook vir hulle spesiale klere saam vir hulle werk. Bring ook die olyfolie wat jy gaan gebruik om hulle in hulle werk te bevestig, die bul wat vir die sonde geoffer moet word, die twee ramme en die mandjie met brode sonder suurdeeg wat jy nodig gaan hê. 3Laat sommer ook al die mense uit die laer saam kom na die tent van ontmoeting toe.”
4Moses het toe gemaak soos die Here vir hom gesê het. Die hele gemeenskap het by die ingang van die tent waar die Here gedien word, saamgekom. 5Moses het vir hulle gesê: “Dit is soos die Here gesê het ons moet maak.” 6Moses het Aäron en sy seuns laat nader staan en hulle met water gewas. 7Hy het Aäron sy spesiale hemp vir sy dienswerk laat aantrek, die serp vir hom omgehang wat die dienaars by die Here se tent moet dra, daar bo-oor nog ’n mantel omgehang, die deel wat oor sy skouers kom oor sy skouers gesit en die mantel met ’n belt vasgebind. 8Daar was ook ’n sak wat voor sy bors vasgekom het waarin die urim en tummim (waarmee die lot gewerp is om die Here se besluite te bepaal) was wat hy aan die mantel vasgesit het. 9Hy het ook ’n hoed op Aäron se kop gesit en aan die voorkant daarvan ’n goue wapen vasgesteek, soos die Here hom beveel het.
10Moses het toe die olyfolie gevat en daarvan aan die tent van ontmoeting gesmeer en aan alles wat daar binne-in was om dit aan die Here op te dra. 11Hy het ook sewe maal daarvan teen die altaar gespat en die altaar saam met alles wat daaraan behoort, asook die wasbak wat daar staan en die voetstuk waarop dit rus met die olie gesmeer om dit aan God op te dra. 12Hy het ook van die olie op Aäron se kop laat uitloop om hom so aan die diens van die Here te wy. 13Moses het Aäron se seuns laat nader staan en ook hulle die spesiale hemde vir hulle dienswerk laat aantrek, hulle serpe vir hulle omgehang en hulle die kopbande laat opsit wat hulle moes dra wanneer hulle by die tent werk, soos die Here gesê het hy moet maak.
14Toe het Moses die bul wat vir die sonde geslag moes word, nader gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop gesit 15en dit is toe geslag. Moses het van die bul se bloed gevat en daarvan met sy vinger reg rondom aan die horings van die altaar gesmeer om dit aan die Here op te dra. Hy het ook van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgegooi om dit aan God te wy sodat die offers wat daarop gebring word, vir die oortredings kon betaal.
16Daarna het hy die hele vetlaag oor die binnegoed, die twee niere met die vet daaroor en die lewervet uitgesny en dit op die altaar verbrand. 17Die res van die bul met sy vel, sy vleis en sy pensmis het Moses buite die kamp in die vuur gaan verbrand. Dit was soos die Here gesê het hy dit moet doen.
18Die ram vir die brandoffer is toe nader gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die ram se kop gelê. 19Moses het dit geslag en die bloed daarvan aan alle kante teen die altaar uitgegooi. 20Hy het die ram in stukke opgesny. Hy het die ram se kop, sy vleis en sy binnevet verbrand. 21Nadat hy die binnegoed en agterpote met water afgewas het, het Moses dit wat van die ram oor was, op die altaar verbrand. Dit was ’n offer wat verbrand word wat vir die Here baie aanvaarbaar is. Dit was soos die Here Moses beveel het om te maak.
22Toe is die tweede ram nader gebring. Die ram sou gebruik word om die dienaars by die tent in hulle werk aan te stel. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gesit. 23Moses het dit geslag en van sy bloed gevat en daarvan aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en sy regtergroottoon gesmeer. 24Moses het ook Aäron se seuns laat nader kom en van die bloed aan elkeen se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon gesmeer. Moses het die bloed wat oor was teen die kante van die altaar uitgegooi. 25Hy het toe van die ram se vet gevat, sy vetstert, al die vet aan die binnegoed, die punt van sy lewer, sy twee niere, asook die niervet en sy regterblad. 26Hy het uit die mandjie vol brode wat sonder suurdeeg gebak is en voor die Here gestaan het, ’n ronde brood gevat, en ’n ringbrood wat met olie gebak is en ’n roosterkoek, en dit by die vet en die regterblad gesit. 27Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle het dit as beweegoffer aan die Here opgedra. 28Moses het dit toe weer by hulle gevat en dit bo-op die offer op die altaar gesit en alles verbrand. Dit was ’n offer om Aäron en sy seuns aan die Here op te dra, ’n offer wat met vuur verbrand word waarvan die Here baie hou. 29Moses het toe die stuk van die ram se bors gevat en dit ook aan die Here opgedra. Dit was die deel van die ram wat vir die aanstelling van die dienaars gebruik is, wat die Here gesê het Moses vir homself kan vat. 30Moses het van die olie en van die bloed wat by die altaar was, gevat en op Aäron en oor sy klere, en ook oor sy seuns en oor hulle klere gesprinkel. So het hy Aäron en sy klere en sy seuns en hulle klere aan die Here toegewy.
31Moses het Aäron en sy seuns toe aangesê om die res van die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting te gaan kook en dit daar te eet saam met die brood wat uit die mandjie kom wat by hulle aanstelling gebruik is. Sy opdrag was: “Aäron en sy seuns moet dit eet. 32Wat van die vleis en brood oorbly, moet met vuur verbrand word. 33Julle mag vir die volgende sewe dae tot die tyd van julle inhuldigingsgeleentheid verby is, nie van die deur van die tent van ontmoeting af weggaan nie. Dit hou ’n volle sewe dae lank aan. 34Wat vandag gebeur het, is soos die Here gesê het julle aan Hom opgedra moet word. 35Julle moet sewe dae lank dag en nag by die ingang bly en die opdrag van die Here uitvoer, anders sal julle doodgaan. Dit is soos die Here beveel het.”
36Aäron en sy seuns het presies gedoen soos die Here hulle deur Moses beveel het.

Tans Gekies:

Levitikus 8: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan