MARKUS 6:1-29

MARKUS 6:1-29 AFR83

Jesus het daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en sy dissipels was saam met Hom. En toe die sabbatdag aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer. Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? Is hy dan nie 'n timmerman, 'n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?” Die mense wou niks van Hom weet nie. Jesus sê toe vir hulle: “'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.” Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense. Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer. Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net 'n kierie – geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog 'n kledingstuk saamvat nie. Daarby het Hy vir hulle gesê: “Waar julle in 'n plek kom en in 'n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. En as 'n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.” Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.” En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is 'n profeet soos een van die ou profete.” Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.” Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.” Herodias het daarna 'n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy 'n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in 'n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister. Op 'n dag het Herodias 'n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea 'n feesmaal gegee het, het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.” Daarby het hy dit herhaaldelik met 'n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.” Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?” Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.” Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in 'n skottel die kop gee van Johannes die Doper.” Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met 'n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, sy kop in 'n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee. Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MARKUS 6:1-29