1 KORINTIËRS 1:4-9
1 KORINTIËRS 1:4-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig dat dit julle nie aan 'n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.
1 KORINTIËRS 1:4-9 Die Boodskap (DB)
Ek sê altyd vir God dankie vir al die goeie dinge wat Hy so onverdiend vir julle gee. Ek praat van alles wat julle gekry het vandat julle Jesus Christus leer ken het. Hy het letterlik alles vir julle gegee wat julle nodig gehad het. Julle het die dinge van God goed leer ken en kan maklik daaroor praat. Dat dit wat ek vir julle oor Jesus vertel het, waar is, kan in julle lewe gesien word. Ja-nee, julle het niks nodig nie, want God sorg dat julle kry wat julle op geestelike gebied nodig het. Julle sien ook opgewonde daarna uit dat ons Here Jesus Christus weer na ons toe kom sodat almal Hom kan sien. Niemand sal dan ’n enkele skewe woord teen julle kan sê nie. Hy sal julle nie in die steek laat nie. Hy sal julle enduit gee wat julle moet hê. Julle kan God vertrou, want Hy doen altyd wat Hy beloof. Hy self het julle uitgenooi om Jesus Christus, ons Here, se goeie vriende te word.
1 KORINTIËRS 1:4-9 Bybel vir almal (ABA)
Ek sê altyd vir my God dankie wanneer ek aan julle dink. Ek sê dankie, want God is baie genadig vir julle omdat julle in Christus Jesus glo. Ja, God het julle baie geseën omdat julle aan Christus Jesus behoort. Julle verstaan die goeie boodskap van Christus Jesus en julle verduidelik dit ook goed vir mekaar. Julle kan dit doen omdat julle die boodskap vas glo wat die apostels vir julle gebring het. Julle het al die genadegawes ontvang wat die Here vir julle gegee het. En julle hou aan om te wag vir die dag wanneer God vir almal ons Here Jesus Christus sal wys sodat ons Hom kan sien. God sal julle vas laat glo tot die einde. Niemand sal julle kan beskuldig op die dag wanneer ons Here Jesus Christus weer kom nie. God sal doen wat Hy belowe het. Hy het julle gekies om saam met sy Seun, ons Here Jesus Christus, te wees.
1 KORINTIËRS 1:4-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is, dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en alle kennis; soos die getuienis aangaande Christus bevestig is onder julle, sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus, wat julle ook sal bevestig tot die einde toe, om in die dag van onse Here Jesus Christus onberispelik te wees. God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.
1 KORINTIËRS 1:4-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek dank my God deurentyd oor julle, en vir die genade van God wat aan julle gegee is in •Christus Jesus. Want deur Hom is julle in alle opsigte verryk in elke woord en in alle kennis. Net so is die getuienis oor Christus stewig onder julle gevestig, sodat julle, terwyl julle wag op die openbaarmaking van ons Here Jesus Christus, nie in enige genadegawe tekort skiet nie. Hy sal julle ook tot aan die einde standvastig maak, sodat julle sonder blaam sal wees op die dag van ons Here Jesus Christus. God is getrou, deur wie julle geroep is tot verbondenheid met sy Seun, Jesus Christus, ons Here.
1 KORINTIËRS 1:4-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek dank my God altyd namens julle vir die genade van God wat aan julle gegee is deur Jesus Christus; dat julle in alles deur Hom verryk word, in alle woorde en in alle kennis; Soos ook die getuienis van Christus in julle bevestig is: Sodat julle in geen gawe agteruitgaan nie; wag op die koms van onse Here Jesus Christus: wat julle ook tot die einde toe sal bevestig, sodat julle onberispelik kan wees op die dag van onse Here Jesus Christus. God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap van sy Seun, Jesus Christus, onse Here.
1 KORINTIËRS 1:4-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek sê voortdurend vir God dankie vir julle, want Hy het julle, omdat julle met Christus Jesus verenig is, met genade oorlaai. Deur Hom het God julle in elke opsig ryk gemaak – ryk in elke vorm van welsprekendheid en kennis. Op hierdie manier is my boodskap aangaande Christus onder julle bevestig. Gevolglik ontbreek dit julle aan geen enkele genadegawe nie en sien julle gretig uit na Jesus Christus ons Here se verskyning by sy wederkoms. Hy sal julle enduit vas laat staan sodat, op die groot dag wanneer ons Here Jesus Christus terugkom, geen vinger na julle gewys sal kan word nie. God sal dit beslis vir julle doen, want Hy hou altyd by sy woord. Dit is tog Hý wat julle geroep het om in hierdie wonderlike persoonlike verhouding met sy Seun, Jesus Christus ons Here, te deel.