1 KORINTIËRS 14:1-25

1 KORINTIËRS 14:1-25 Bybel vir almal (ABA)

Julle moet nooit ophou om lief te wees vir God en vir ander mense nie. Maar julle moet ook bid en hard werk vir die dinge wat die Heilige Gees vir julle gee, en die belangrikste wat Hy vir julle gesê het, is dat julle God se boodskap moet bring vir ander mense. Want wanneer iemand in tale praat, dan praat hy nie met mense nie, hy praat met God. Niemand verstaan dit nie, want hy praat geheime wat die Gees vir hom gee. Maar wanneer iemand die boodskap van God bring, dan praat hy met mense. En dit maak hulle geloof sterk, dit help hulle om aan te hou glo en dit troos hulle. Wanneer iemand in tale praat, dan maak hy sy eie geloof sterk. Maar wanneer iemand die boodskap van God bring, dan maak hy die mense van die kerk se geloof sterk. Ek wil graag hê dat julle almal in tale moet praat. Maar ek wil nog meer hê, ek wil hê dat julle God se boodskap moet bring. Iemand wat God se boodskap bring, is belangriker as iemand wat in tale praat. Iemand moet tolk en sê wat die persoon sê wat in tale praat. Dan sal dit goed wees vir die gemeente, want dan maak dit die gemeente se geloof sterk. Vriende, dink nou goed hieroor: As ek na julle toe kom en ek praat in tale, dink julle dit kan vir julle help? Nee, ek kan julle net help wanneer ek vir julle iets sê wat God vir my gewys het of wanneer ek vir julle verduidelik wat God wil hê of wanneer ek God se boodskap bring of wanneer ek vir julle iets leer. Dit is dieselfde met musiek-instrumente, dinge wat nie lewe nie. Dink aan 'n fluit of 'n harp. As iemand nie 'n fluit reg blaas nie of hy speel nie reg op 'n harp nie, dan sal 'n mens nie weet watter musiek dit is nie. En wanneer iemand nie hard en duidelik op die trompet blaas sodat almal dit kan hoor nie, dan sal die soldate nie gereedmaak om oorlog te maak nie. Dit is dieselfde in die gemeente. Wanneer iemand praat, maar julle kan nie verstaan wat hy sê nie, sal julle dan weet wat die persoon wil sê? Nee. Dan is dit soos wanneer iemand praat, maar die wind waai sy woorde weg. Daar is baie tale in die wêreld. En elke taal het mense wat die woorde verstaan. Maar as ek nie verstaan wat iemand sê nie, dan is ek vir hom soos iemand wat die taal praat van 'n ander land en hy is vir my soos iemand van 'n ander land. Dit moenie so wees by julle nie. Julle wil graag die dinge hê wat die Heilige Gees vir julle gee. Daarom moet dit vir julle baie lekker wees om die mense in die gemeente se geloof sterk te maak. Daarom, wanneer iemand in tale praat, dan moet hy ook bid dat hy sal kan sê wat dit beteken. Want wanneer ek in tale bid, dan bid my hart, maar ek dink nie met my verstand wat ek bid nie. Wat moet ek dan doen? Ek sal bid met my hart, maar ek sal ook bid met my verstand. Ek sal vir die Here sing met my hart, maar ek sal ook met my verstand vir die Here sing. Maar onthou: Wanneer jy met jou hart bid en jy prys die Here, dan is daar miskien iemand wat nie die genadegawe het om tale te verstaan nie. Kan daardie persoon dan saamstem en “amen” sê wanneer jy vir die Here dankie sê? Nee, want hy verstaan nie wat jy sê nie. Jy sê miskien mooi dankie vir die Here, maar dit maak nie die ander persoon se geloof sterk nie. Ek sê dankie vir God dat ek meer as julle almal in tale praat. Maar vir my is dit beter om in die gemeente net vyf woorde met my verstand te praat as om 1 000 woorde in tale te praat. Want as ek met my verstand praat, dan kan ek vir die gemeente leer. Vriende, julle moenie soos kinders dink nie. Ja, wanneer julle verkeerde dinge wil doen, dan moet julle soos babas wees. Maar julle moet soos grootmense dink. In die Ou Testament is geskryf: Die Here sê: “Ek sal met hierdie volk praat in tale wat hulle nie ken nie, in die tale van mense van ander lande, maar ook dán sal hulle nie luister na My nie.” Dit beteken: Die genadegawe om in tale te praat, is 'n teken vir mense wat nie glo nie. Dit is nie 'n teken vir mense wat glo nie. Maar die genadegawe om God se boodskap te bring, is 'n teken vir mense wat glo, dit is nie 'n teken vir mense wat nie glo nie. Daarom, wanneer die hele gemeente bymekaarkom en daar kom miskien mense in wat nie vir julle ken nie, dan sal hulle dink julle is mal. Of as daar mense inkom wat nie in Christus glo nie, dan sal hulle ook dink julle is mal. Maar as almal die boodskap van God bring, en daar kom iemand in wat nie in Christus glo nie, of dit is iemand wat nie vir julle ken nie, dan sal hy voel almal praat met hom oor die dinge wat verkeerd is in sy lewe. Hy sal voel almal sê vir hom dat God hom sal straf oor sy sondes. Hy sal sê dit is waar dat daar slegte dinge diep in sy hart is, dinge waarvan niemand weet nie. En dan sal hy buig en vir God aanbid en sê: “God is regtig hier by julle.”

1 KORINTIËRS 14:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

JAAG die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer. Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede. Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging. Hy wat in 'n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente. Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang. Maar nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, tot watter nut sal ek vir julle wees as ek nie met julle spreek òf deur 'n openbaring, òf deur kennis, òf deur profesie, òf deur lering nie? Net soos met lewelose dinge wat 'n klank gee, 'n fluit of 'n siter, as hulle nie 'n onderskeid in toon laat hoor nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of siter gespeel word? Want as die basuin ook 'n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog? Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal 'n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie. As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker 'n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my 'n vreemdeling wees. So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente. Daarom moet hy wat in 'n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê. Want as ek in 'n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar. Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing. Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van 'n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie? Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie. Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal; maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tienduisend woorde in 'n taal. Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand. In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die Here. Die tale is dus 'n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges. As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie? Maar as almal profeteer en daar 'n ongelowige of 'n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.

1 KORINTIËRS 14:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Julle moet die liefde nastreef. Lê julle toe op die gawes van die Gees, maar veral daarop om te profeteer. Iemand wat ongewone tale of klanke gebruik, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie, want deur die Gees sê hy onbegryplike dinge. Iemand wat profeteer, rig hom tot mense en praat woorde wat geestelik opbou en bemoedig en vertroos. Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op, maar die een wat profeteer, bou die gemeente op. Ek sou graag wil hê dat julle almal ongewone tale of klanke gebruik, maar nog liewer dat julle profeteer. Die een wat profeteer, is van groter betekenis as die een wat ongewone tale of klanke gebruik, tensy hy dit ook uitlê, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word. En nou, broers, as ek na julle toe kom en ongewone tale of klanke gebruik, van watter nut sal ek vir julle wees? Ek sal vir julle net van nut wees as ek 'n openbaring of kennis of profesie of lering aan julle meedeel. Dit is net soos met lewelose instrumente wat 'n klank afgee, soos 'n fluit of 'n siter. As daar nie klankverskille is nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of die siter gespeel word? En as die beuel 'n onduidelike sein gee, wie sal vir die geveg gereed maak? So is dit ook met julle. As julle ongewone tale of klanke gebruik en nie 'n verstaanbare woord praat nie, hoe sal 'n mens weet wat daar gesê word? Dan praat julle mos in die wind! Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en nie een is sonder betekenis nie. Maar as ek 'n taal nie ken nie, sal die een wat dit praat, vir my onverstaanbaar wees en ek vir hom. Dit is ook op julle van toepassing. As julle julle toelê op die gawes van die Gees, streef dan na dié wat tot opbou van die gemeente dien, sodat julle daarin kan uitmunt. Daarom moet hy wat ongewone tale of klanke gebruik, bid om die gawe om dit te kan uitlê, want as ek ongewone tale of klanke gebruik wanneer ek bid, dan bid my gees, maar my verstand is nie daarby betrokke nie. Hoe moet dit dan wees? Só, dat ek met die gees moet bid, maar ook met die verstand. Ek moet met die gees die lof van die Here sing, maar ook met die verstand. Anders, as jy met die gees 'n dankgebed doen, hoe sal 'n gewone mens wat daar teenwoordig is, op jou dankgebed “Amen” kan sê? Hy verstaan mos nie wat jy sê nie. Jou dankgebed is wel goed, maar ander mense word nie daardeur geestelik opgebou nie. Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal. Maar in die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te onderrig, as duisend woorde in ongewone tale of klanke. Broers, moenie in julle denke kinders wees nie. Wees onvolwasse in die slegte dinge, maar in julle denke volwasse. In die wet staan daar geskrywe dat die Here sê: “Deur andertaliges en deur die mond van vreemde mense sal Ek met hierdie volk praat, en selfs dan sal hulle na My nie luister nie.” So is die gebruik van ongewone tale of klanke dan 'n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie. Daarteenoor is die profesie vir gelowiges en nie vir ongelowiges nie. As die hele gemeente dan bymekaar is en almal gebruik ongewone tale of klanke en daar kom buitestaanders of ongelowiges binne, sal hulle nie sê julle is van julle verstand af nie? Daarteenoor, as almal profeteer, en daar kom 'n ongelowige of 'n buitestaander binne, dan word hy deur almal in sy gewete aangespreek en kom hy tot selfondersoek. Die verborge dinge van sy hart kom aan die lig. En so kom hy daartoe om op sy knieë te val, God te aanbid en openlik te getuig: “Waarlik, God is hier by julle!”

1 KORINTIËRS 14:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jaag die liefde na, en streef na die gawes van die Gees, veral om te profeteer. Die een wat in tale spreek, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie; deur die Gees praat hy verborgenhede. Die een wat profeteer, praat egter wel met mense om hulle op te bou, te bemoedig en te vertroos. Die een wat in tale spreek, bou homself op, terwyl die een wat profeteer, die •gemeente opbou. Ek wil hê dat julle almal in tale spreek, maar meer nog dat julle profeteer. Die een wat profeteer, is van groter waarde as die een wat in tale spreek; tensy hy dit kan uitlê, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word. Broers, as ek dan nou na julle kom en in tale spreek, watter nut het ek vir julle; tensy ek tot julle voordeel 'n openbaring of 'n insig of 'n profesie of 'n lering meedeel? Dit sal wees soos lewelose dinge wat klank voortbring, 'n fluit of 'n lier. As dit nie onderskeibare klanke voortbring nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of die lier gespeel word? As 'n trompet 'n onduidelike klank voortbring, wie sal gereedmaak vir oorlog? So ook julle – as julle tonge nie 'n duidelik verstaanbare boodskap oordra nie, hoe sal enigiemand verstaan wat daar gesê word? Want julle sal in die wind praat. Daar mag hoeveel verskillende tale in die wêreld wees, en tog is nie een sonder klank nie. As ek nie die betekenis van die klank ken nie, sal ek vir die spreker daarvan 'n vreemdeling wees, en hy vir my. So ook met julle. Aangesien julle julle beywer vir die gawes van die Gees, streef daarna om uit te munt met die oog op die opbou van die gemeente. Daarom moet die een wat in tale spreek, bid dat hy dit kan uitlê. Want as ek in 'n taal bid, bid my gees wel, maar my verstand is onvrugbaar. Wat is dan die slotsom? Ek sal deur die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid; ek sal deur die gees lofsange sing, maar ek sal ook met die verstand lofsange sing. Want as mens net in die gees 'n lofprysing bring, hoe sal iemand in die posisie van 'n oningeligte “•amen” kan sê op jou danksegging, aangesien hy nie verstaan wat jy sê nie? Jy mag wel goed dank betuig, maar dit dien nie tot opbou van die ander persoon nie. Ek dank God dat ek selfs meer as julle almal in tale spreek. Maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te kan onderrig, as om duisende woorde in 'n onverstaanbare taal te praat. Broers, moenie kinders wees in julle denke nie; wees wel klein kindertjies wat die kwaad betref, maar volwassenes in julle denke. In die Wet staan daar geskryf, “in vreemde tale en deur die lippe van vreemdes sal Ek met hierdie volk praat, en selfs dan sal hulle nie na My luister nie,” sê die Here. Hiervolgens is die spreek in tale 'n teken, nie vir gelowiges nie, maar vir ongelowiges, terwyl profesie nie vir ongelowiges is nie, maar vir gelowiges. As die hele gemeente dan op een plek vergader en almal in tale spreek, en daar kom oningeligtes of ongelowiges binne, sal hulle nie sê, “Julle is van julle sinne beroof” nie? Maar indien almal profeteer en 'n ongelowige of 'n oningeligte persoon kom binne, word hy deur almal tot insig gebring en tot verantwoording geroep. Die geheime van sy hart word blootgelê, en hy sal met sy gesig op die grond val, God aanbid en erken: “Werklik, God is in julle midde.”

1 KORINTIËRS 14:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Jaag na die naasteliefde en begeer geestelike gawes, maar eerder dat julle kan profeteer. Want hy wat in 'n onbekende taal spreek, spreek nie met mense nie, maar tot God; want niemand verstaan hom nie; maar in die gees spreek Hy verborgenhede. Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense tot opbou en vermaning en vertroosting. Hy wat in 'n onbekende taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente op. Ek wil hê dat julle almal in tale spreek, maar eerder dat julle geprofeteer het; want hy wat profeteer is groter as hy wat in tale spreek, tensy hy dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang. Nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, wat sal ek julle baat as ek met julle spreek hetsy deur openbaring, of deur kennis, of deur profesie, of deur leer? En ook dinge sonder lewendmakende klank, of dit nou fluit of siter is, as dit nie 'n onderskeid in die klanke gee nie, hoe sal dit bekend wees wat op fluit of op siter gespel word? Want as die basuin 'n onduidelike klank gee, wie sal hom voorberei vir die geveg? So ook julle, as julle nie met die tong woorde uitspreek wat maklik verstaanbaar is nie, hoe sal dit bekend wees wat gespreek word? want julle sal in die lug spreek. Daar is so baie soorte stemme in die wêreld, en nie een van hulle is sonder betekenis nie. Daarom, as ek nie die betekenis van die stem weet nie, sal ek vir hom wat spreek 'n barbaar wees, en hy wat spreek, sal 'n barbaar vir my wees. Net so streef julle, omdat julle ywerig is vir geestelike gawes, om uit te blink tot die opbou van die kerk. Daarom, laat hom wat in 'n onbekende taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê. Want as ek in 'n onbekende taal bid, bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar. Wat is dit dan? Ek sal met die gees bid, en ek sal ook met die verstand bid: ek sal sing met die Gees, en ek sal ook sing met die verstand. Anders as jy met die gees seën, hoe sal hy wat die kamer van die ongeleerdes bewoon, amen sê op jou danksegging, terwyl hy nie verstaan wat jy sê nie? Want jy is waarlik goed gedank, maar die ander is nie opgebou nie. Ek dank my God, ek spreek meer in tale as julle almal. Maar in die gemeente het ek liewer vyf woorde met my verstand gespreek, sodat ek deur my stem ook ander kan leer, as tienduisend woorde in 'n onbekende taal. Broeders, wees nie kinders in verstand nie; maar wees kinders in boosheid, maar in verstand mense. In die wet is geskrywe: Met ander tale en met ander lippe sal Ek met hierdie volk spreek; en nogtans luister hulle na my alles nie, spreek die Here. Daarom is tale 'n teken, nie vir die wat glo nie, maar vir die wat nie glo nie; As die hele gemeente dan op een plek bymekaargekom het en almal in tale spreek, en daar kom ongeleerdes of ongelowiges in, sal hulle dan nie sê dat julle mal is nie? Maar as almal profeteer en daar kom een in wat nie glo nie, of een ongeleerde, is hy oortuig van almal, hy word deur almal geoordeel. En so word die geheime van sy hart geopenbaar; en so op sy aangesig neerval, sal hy God aanbid en vertel dat God waarlik in jou is.

1 KORINTIËRS 14:1-25 Die Boodskap (DB)

Gee alles om hierdie liefde in julle lewe te hê. Maar moenie van die spesiale geskenke vergeet wat die Gees vir julle gee nie. Gee jouself ook daarvoor, veral om God se boodskap vir die gemeente te bring. Ek weet daar is van julle wat baie daarvan dink om in “spesiale tale” te praat. Maar as iemand so praat, verstaan mense hom nie. God verstaan hom wel, want hy praat mos met God. Wat hy egter vir God sê, is vir mense net naklanke. Wat hy mos so onder die invloed van die Gees sê, is intieme dinge net tussen hom en God wat ander nie verstaan nie. Vergelyk dit nou met iemand wat in verstaanbare taal met mense oor die boodskap van God gesels. Mense verstaan dit en dit maak hulle geestelik baie sterker. Hulle skep moed vir wat voorlê en voel baie meer gerus. Maar as iemand in ’n “spesiale taal” in die gemeente praat, beteken dit eintlik net vir homself iets. As iemand God se boodskap vir die gemeente vertel, beteken dit vir die hele gemeente iets. Dit is nou nie dat ek sê julle moenie in spesiale tale praat nie. Ek gun dit vir elkeen. Wat ek wel sê, is dat julle eerder in die gemeente moet konsentreer op die bring van God se boodskap. In die gemeente is dit meer werd om die boodskap van God te bring as om in spesiale tale te praat, tensy daar iemand in die gemeente is wat kan verduidelik wat met die spesiale tale gesê word. So sal dit vir die gemeente iets kan beteken. My liewe, goeie vriende, stel julle nou voor dat ek daar by julle aankom en net in spesiale tale praat wat nie een van julle verstaan nie. Sal dit julle baie help? Ons almal weet dit sal nie. Wat wel vir julle baie kan beteken, is as ek met julle oor dinge gesels wat julle verstaan: dit kan dinge wees wat God spesiaal vir my gewys het, of raad oor hoe julle in moeilike situasies moet optree; of ons kan sommer maar net lekker sit en gesels oor wat God se boodskap vir ’n spesifieke situasie is, of ek kan julle miskien meer van Jesus leer. Dit is baie soos iemand wat sommer net op ’n fluit of ’n harp blaas. As hy nie mooi note speel nie, maar net ’n deurmekaar klomp geraas maak, sal niemand hulle daaraan steur nie. As ’n radio nie op ’n stasie gestel is nie en net ’n gekrap maak, sal jy mos nie kan verstaan wat daar oor die radio gesê word nie. Net so gaan dit in die gemeente. As jy ’n klomp geluide maak wat niemand verstaan nie, hoe sal enigiemand weet wat jy besig is om te sê? Vir die mense rondom jou is jy dan nie beter as daardie fluit of harp wat net ’n klomp geraas maak nie. Ek weet dat daar honderde verskillende tale in die wêreld gepraat word. Elkeen van hierdie tale het ook sin as ’n mens dit net kan verstaan. As ek egter nie die taal verstaan nie, weet ek ook nie wat die ander een wil sê nie. Daar is niks met die taal verkeerd nie, maar ek kan dit net nie verstaan nie. Die persoon kan praat en verduidelik tot hy blou word in die gesig, maar ons sal nie by mekaar uitkom nie. Dis presies wat in die gemeente gebeur as iemand in ’n spesiale taal praat wat niemand anders verstaan nie. Ek weet die spesiale geestelike geskenke wat God vir julle gee, is vir julle belangrik. Wees daarom opgewonde oor daardie geestelike geskenke wat vir ander ook iets beteken en die gemeente sterker kan maak. Iemand wat dan so ’n spesiale taal van die Gees gekry het om te praat, moet God vra om hom ook te help om te verstaan wat hy besig is om te sê. Ek het al baie ervaring daarvan. As ek in so ’n spesiale taal in gebed met God praat, is my gees nou betrokke, maar my verstand is afgeskakel - ek weet nie wat om te dink oor dit wat ek besig is om te sê nie, want ek verstaan nie wat gesê word nie. Hoe moet dit dan nou presies wees? Eintlik is die ideaal dat jy as mens heeltemal betrokke is, gees en verstand saam. As jy bid, moet jou gees bid, maar jy moet ook verstaan wat jy bid. As jy God loof deur te sing, moet dit uit jou gees borrel, maar so dat jy ook presies weet wat jy besig is om te sing. Dit is belangrik. Sê nou maar jy is daar in jou gees besig om allerhande mooi dinge van God te sê, hoe kan iemand wat niks verstaan wat jy sê nie saam met jou bid? Hoe kan hy die Here vra om dit wat jy besig is om te sê waar te laat word, as hy nie eens weet wat jy sê nie? Jy kan miskien voel dat wat jy in die gemeente doen, goed is en dat die Here ook daarvan hou, maar die mense wat saam met jou in die kerk sit, het niks daarvan nie. Vir hulle beteken dit net mooi niks. Ek sê vir God dankie dat ek meer in spesiale tale met Hom praat as julle almal saam. Ek is daarom nie teen die praat van spesiale tale nie. Maar as ’n mens darem in die kerk kom, verkies ek om liewer net vyf woorde te sê wat mense kan verstaan en wat iets vir hulle kan beteken as om die hele aand daar op my eie te staan en spesiale tale te praat. Liewe broers en susters, moet nou nie soos balhorige kinders wees wat nie na goeie raad wil luister nie. Druk wel julle ore toe as mense vir julle sê dat julle verkeerde dinge moet doen. Maar as dit by goeie dinge kom, spits julle ore en luister soos grootmense wat rede verstaan. Daar staan mos in die boek waarin ons van die wil van God leer, geskryf: “Mense sal kom met tale wat ons nog nooit gehoor het nie, vreemde mense sal met ons kom praat. Deur hierdie mense sal God met die volk praat, maar al doen God dit, sal hulle nog steeds nie luister na wat God sê nie.” Om so in spesiale tale te praat is in hierdie sin ’n bewys van God se krag vir mense wat nie glo nie, en nie vir Christene nie. Om die boodskap van God vir mense te verduidelik is weer bedoel vir Christene en nie vir ongelowiges nie. Kom ons wees realisties: sê nou die hele gemeente is bymekaar en almal praat tegelyk in spesiale tale. Dan kom daar iemand ingestap wat nie in Jesus glo nie en niks verstaan wat in die kerk aangaan nie. Wat dink julle sal hy sê? Wel, ek dink hy sal sê dit lyk vir hom na ’n groot deurmekaarspul. Maar sê nou dieselfde ongelowige persoon wat niks van die Christendom verstaan nie, kom in terwyl julle op ’n verstaanbare manier met mekaar oor die boodskap en wil van God praat, wat sal dan gebeur? Sal hy nie dalk luister en diep getref word nie? Sal hy nie besef dat hy op die verkeerde pad is en dat God so ontevrede met hom is dat God hom gaan straf nie? Dit sal vir hom wees of alles hier diep binne-in hom wat hy voorheen nie verstaan of selfs van geweet het nie, skielik opborrel en vir hom glashelder word. Hy sal net daar op sy knieë neersak en God se Naam grootmaak. Hy sal openlik sê: “God is regtig hier by en tussen julle.”

1 KORINTIËRS 14:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Lê julle toe op die liefde. Bly egter ook entoesiasties oor die gawes van die Gees, veral oor die gawe om te profeteer. As jy in tale praat, rig jy jou nie tot mense nie, maar tot God, want mense sal jou nie verstaan nie. Deur die werking van die Gees praat jy immers diep en onbegryplike dinge. Maar as jy profeteer, bou jou woorde mense op en bemoedig en vertroos hulle. Iemand wat in tale praat, word self geestelik opgebou, maar die persoon wat profeteer, bou die gemeente op. Ek sou bly wees as julle almal in tale praat, maar nog blyer as julle sou profeteer. Want om te profeteer, is ’n belangriker en nuttiger gawe as die spreek in tale, tensy iemand sou verduidelik wat jy sê sodat die gemeente daardeur opgebou kan word. Broers en susters, sê nou maar ek sou na julle toe kom en ek praat net in tale, hoe sou dit vir julle iets kon beteken? Maar as ek vir julle ’n Goddelike openbaring of ’n spesiale insig of ’n profesie sou bring, of julle sou iets besonders van my leer, dan sou dit tog sekerlik baie vir julle beteken. Selfs lewelose musiekinstrumente soos die fluit en die harp wys vir ons hoe noodsaaklik dit is om in verstaanbare taal te praat. Want as die note nie duidelik onderskeibaar is nie, hoe sal ons hulle melodie herken? En as die trompet nie ’n helder klank laat hoor nie, watter soldaat sal vir die geveg gereedmaak? Dieselfde geld vir julle. As julle in ’n taal praat waarvan ’n mens nie die woorde kan onderskei nie, hoe sal iemand verstaan wat julle sê? Julle sal soos mense wees wat in die wind praat. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld en hulle maak almal van klanke gebruik. Maar as ek nie sin kan maak van die klanke nie, sal ek vir die spreker onverstaanbaar wees en die spreker sal vir my ’n brabbelaar wees. So moet julle ook, as julle julle toelê op die gawes van die Gees, daarop konsentreer om uit te munt in dié gawes wat die gemeente opbou. Daarom moet elkeen wat in tale praat, ook bid vir die gawe van verduideliking. Want wanneer ek in ’n taal bid, is dit my gees wat bid, maar my verstand bly onaktief. Wat sê dit? Ek sal albei doen. Ek sal nie net bid met my gees nie, maar ek sal ook bid in verstaanbare woorde. Ek sal nie net lofsing met my gees nie, maar ook in verstaanbare woorde. Want as jy God net met jou gees prys, hoe sal hulle wat onkundig is oor wat jy sê, jou lofprysing met hulle “Amen” bevestig? Hulle verstaan tog nie wat jy sê nie. Jy het wel voortreflik gebid, maar jou medegelowiges word nie in hulle geloof opgebou nie. Ek dank God dat ek meer in tale praat as julle almal. Maar in ’n byeenkoms van die gemeente sal ek liewer vyf verstaanbare woorde praat waaruit ander iets kan leer as tienduisend in ’n onbekende taal. Broers en susters, julle moenie soos naïewe kindertjies wees in julle denke oor hierdie dinge nie. Wees liewer babatjies wat die kwaad aanbetref, maar volwassenes in julle denke. Daar staan in die Skrif dat die Here sê: “Ek sal deur andertaliges en deur die mond van onbekende mense met my eie volk praat. Maar selfs dan sal hulle nie na My luister nie.” Dit beteken dus dat die praat in tale ’n teken is, nie vir gelowiges nie, maar vir ongelowiges en dat profesie daarenteen nie vir ongelowiges is nie, maar vir gelowiges! Derhalwe, as die hele gemeente bymekaarkom en almal praat in tale en daar kom onkundiges of ongelowiges in, sal hulle nie sê julle is die kluts skoon kwyt nie? Maar as almal profeteer en daar kom ongelowiges of onkundiges in en hulle word deur almal oortuig van sonde, en hulle lewens word deur almal ondersoek, en hulle hartsgeheime word blootgelê, dan sal hulle net daar op hulle knieë val en God aanbid en verklaar: “Werklikwaar, God is hier by julle!”