1 KORINTIËRS 14:26-40
1 KORINTIËRS 14:26-40 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, wat beteken dit alles? Dit beteken dat wanneer julle bymekaarkom, dan het elkeen 'n genadegawe, hy kan die Here daarmee dien. Daar is verskillende genadegawes: om 'n lied te sing, om iets vir ander mense te leer, om te vertel wat die Here vir jou gewys het, om in tale te praat, of om daardie tale te kan tolk. Maar onthou, alles moet só gebeur dat dit julle geloof sterker maak. As mense in tale wil praat, dan moet dit net twee persone wees wat praat, of nie meer as drie persone nie. Hulle moenie saam praat nie, hulle moet ná mekaar praat wanneer dit hulle beurt is om te praat. En daar moet iemand wees wat kan tolk en sê wat dit beteken. As daar nie iemand is wat kan tolk nie, dan moet die een wat in tale praat, stilbly, dan moet hy nie praat daar waar die gemeente bymekaarkom nie. Hy moet praat daar waar hy alleen is en waar hy sy eie geloof sterk kan maak en met God kan praat. En wanneer die profete God se boodskap bring, dan moet dit ook net twee of drie profete wees wat praat. Die ander profete moet luister of hulle reg praat. En as een profeet praat en God wys vir 'n ander profeet iets wat hy dadelik vir die gemeente moet sê, dan moet die eerste profeet ophou praat. Elke profeet kan 'n beurt kry om God se boodskap vir die gemeente te bring. En so leer God vir almal en so maak Hy almal se geloof sterk. Julle moet onthou, 'n profeet kan besluit om op te hou praat en hy kan vir 'n ander profeet 'n beurt gee om te praat. Want God wil hê dat alles wat julle doen, reg moet wees wanneer julle bymekaarkom, dit moenie deurmekaar wees nie, want God hou van vrede. Vroue praat nie in een van die gemeentes nie, en hulle moet dit ook nie by julle doen nie. God wil dit nie hê nie, die vroue moet luister na hulle mans. Die Ou Testament sê dieselfde. As die vroue iets wil weet, dan moet hulle dit by die huis vir hulle mans vra, want dit is nie mooi wanneer 'n vrou in die kerk praat nie. Julle is nie die eerste gemeente wat die boodskap van God gebring het nie, en julle is ook nie die enigste gemeente wat die boodskap gehoor het nie. As iemand 'n profeet of 'n geestelike mens is, dan sal hy weet dat die dinge wat ek vir julle skryf, dinge is wat die Here self sê. En as iemand nie aanvaar wat ek skryf nie, dan sal die Here hom ook nie aanvaar nie. My vriende, daarom moet julle aanhou om God se boodskap te bring, maar julle moenie die mense keer wat in tale praat nie. En julle moet onthou, alles moet só gebeur dat niks deurmekaar is in die gemeente nie, en elke ding moet 'n beurt kry op die regte tyd.
1 KORINTIËRS 14:26-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
HOE staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle 'n psalm of 'n lering of 'n taal of 'n openbaring of 'n uitlegging — laat alles tot stigting geskied. En as iemand in 'n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê. Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek. Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel. Maar as daar iets geopenbaar is aan 'n ander wat daar sit, laat die eerste swyg. Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word. En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe; want God is nie 'n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges. Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek. Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom? As iemand meen dat hy 'n profeet of 'n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is. Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly. Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie. Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.
1 KORINTIËRS 14:26-40 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hoe moet dit dan wees, broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik 'n bydrae om te lewer: 'n psalm, 'n onderwysing, 'n openbaring, 'n ongewone taal of klank, 'n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop. Wat die ongewone tale of klanke betref, net twee of hoogstens drie moet dit praat, elkeen op sy beurt, en daar moet een wees wat dit uitlê. As daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, moet dié een wat ongewone tale of klanke gebruik, stilbly in die byeenkoms van die gemeente en net tuis met homself en met God praat. Wat die profete betref, twee of drie kan aan die woord kom, en die ander moet beoordeel wat hulle sê. Maar as 'n ander een wat daar sit, 'n openbaring ontvang, moet die spreker stilbly. Julle kan almal profeteer, maar een vir een, sodat almal daaruit kan leer en almal bemoedig kan word. 'n Profeet het immers beheer oor sy gees. God is tog nie 'n God van wanorde nie, maar van orde en vrede. Soos in al die Christelike gemeentes moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees, soos die wet ook sê. As hulle iets te wete wil kom, moet hulle tuis hulle eie mans vra, want dit is lelik vir 'n vrou om in die erediens te praat. Het die woord van God miskien van julle af uitgegaan? Of het dit julle alleen bereik? Iemand wat dink dat hy 'n profeet is of 'n ander gawe van die Gees besit, moet erken dat wat ek aan julle skrywe, 'n bevel van die Here is. Maar as iemand dit nie erken nie, sal God hom ook nie erken nie. Daarom, my broers, beywer julle om te profeteer en moenie die gebruik van ongewone tale of klanke verhinder nie. Alles moet egter gepas en ordelik geskied.
1 KORINTIËRS 14:26-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat volg hieruit, broers? Wanneer julle saamkom, het elkeen 'n psalm, 'n lering, 'n openbaring, 'n taal of 'n uitleg. Laat alles steeds tot opbou geskied. Wanneer iemand in 'n taal spreek, laat dit verkieslik net twee of drie sprekers wees, om die beurt, en laat iemand dit uitlê; maar as daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, laat hy in die •gemeente swyg. Laat hy met homself en met God praat. Laat twee of drie profete praat, en die ander dit sorgvuldig beoordeel. Indien 'n openbaring gemaak is aan een van die ander wat daar sit, laat die vorige spreker swyg. Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal onderrig en bemoedig kan word. Die geeste van profete is aan profete onderworpe. Want God is nie 'n God van wanorde nie, maar van vrede. So hoort dit in al die gemeentes van die •heiliges. Laat die vroue in die gemeentes swyg, want hulle word nie toegelaat om te praat nie, maar moet hulleself onderwerp, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hulle eie mans daaroor uitvra, want dit is 'n skande vir 'n vrou om in die gemeente te praat. Is die woord van God van julle afkomstig? Of het dit slegs julle bereik? As enigeen meen dat hy 'n profeet is of dat hy geestelik is, behoort hy die dinge wat ek aan julle skryf, as 'n opdrag van die Here te erken. Maar enigeen wat dit misken, word misken. Daarom, my broers, beywer julle om te profeteer, en moenie die spreek in tale belet nie. Laat alles egter gepas en ordelik verloop.
1 KORINTIËRS 14:26-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hoe is dit dan, broeders? as julle bymekaarkom, het elkeen van julle 'n psalm, 'n leer, 'n tong, 'n openbaring, 'n uitlegging. Laat alles tot opbouing geskied. As iemand in 'n onbekende taal praat, laat dit twee of hoogstens drie wees, en dit met verloop van tyd; en laat 'n mens uitlê. Maar as daar geen tolk is nie, laat hy in die gemeente stilbly; en laat hom met homself en met God spreek. Laat die profete twee of drie spreek, en laat die ander oordeel. As iets aan 'n ander wat daar sit, geopenbaar word, laat die eerste swyg. Want julle mag almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal vertroos kan word. En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe. Want God is nie die Skepper van verwarring nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges. Laat julle vroue in die gemeentes stilbly, want dit is hulle nie toegelaat om te praat nie; maar hulle word beveel om gehoorsaam te wees, soos ook die wet sê. En as hulle iets wil leer, laat hulle hulle mans by die huis vra, want dit is 'n skande vir vroue om in die gemeente te praat. Wat? het die woord van God van jou uitgekom? of het dit net na jou toe gekom? As iemand dink dat hy 'n profeet of geestelik is, laat hom erken dat die dinge wat ek aan julle skryf, die gebooie van die Here is. Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig wees. Daarom, broeders, begeer om te profeteer en verbied om nie in tale te spreek nie. Laat alles ordentlik en ordelik geskied.
1 KORINTIËRS 14:26-40 Die Boodskap (DB)
Wat moet dan nou gebeur as julle bymekaarkom? Wel, dit kan gebeur dat elkeen iets het om te doen. Die een wil ’n lied vir God sing, die ander een wil vertel wat hy van Jesus geleer het, ’n ander een het weer iets wat die Here hom spesiaal gewys het. Daar is miskien ook iemand wat in ’n spesiale taal wil praat of wat wil verduidelik wat met die spesiale taal gesê word. Onthou net, elke dingetjie wat gedoen word as die gemeente so saam is, moet krag in die gemeente inblaas. Die hele gemeente moet daardeur sterker gemaak word. Met ander woorde, as iemand in ’n spesiale taal praat, moet dit nie oordryf word nie. Net twee, of op die meeste drie, moet ’n kans kry, en nie almal gelyk nie. Elke keer moet daar iemand wees wat aan die ander kan verduidelik wat die persoon besig is om te sê. As daar nie iemand in die gemeente is wat die spesiale taal verstaan en kan verduidelik wat gesê word nie, moet die een stilbly wat in die spesiale taal wil praat. Hy moet dit maar tussen God en hom hou waar hy alleen is. Twee of drie mense aan wie God sy boodskap gegee het, moet aan die gemeente vertel wat God sê. Die res van die gemeente moet goed luister en versigtig opweeg wat gesê word. As die Here egter ’n spesiale boodskap vir iemand gee wat in die gemeente sit en luister, moet die een wat aan die praat is, eers stilbly. Almal vir wie die Here ’n boodskap gegee het om aan die gemeente te gee, moet ’n kans kry om dit te doen. So sal die hele gemeente van hulle kan leer en moed kan skep. Iemand wat iets van die Here af gekry het om te sê, moet sy kans afwag om dit te sê. God hou nie van ’n deurmekaarspul nie. Hy hou daarvan as dinge mooi en op hulle plek gebeur. Sorg dat dit in die gemeente so gaan. Nou wil ek met julle praat oor iets wat oral in die gemeentes gebeur. Vroue moet nie praat in gemeentebyeenkomste nie. Die wet van die Here gee vir ons riglyne wat hierdie dinge betref. Daar lees ’n mens dat vroue nie in die byeenkoms moet praat nie, maar dat hulle die gesag van die man daar moet erken. Dit is ons gebruik dat elkeen haar man by die huis moet gaan vra as sy iets wil weet. Dit is nie mooi dat die vrou dit sommer in die kerk vir haar man vra en so die erediens deurmekaarkrap nie. Is daar miskien party van julle wat voel dat julle dit nie wil doen nie? Dan moet julle julle afvra: Is die woord van God miskien deur julle geskryf sodat julle daaraan kan verander soos julle wil, of is dit God wat deur daardie woord met julle praat? ’n Persoon wat rondvertel dat hy God se boodskap vir ander kan vertel of dat die Heilige Gees hom lei, behoort ook dadelik te weet dat wat ek hier sê, is hoe die Here wil hê ons moet maak. As hy hom nie daaraan steur nie en maak of dit nie waar is nie, sal God hom ook nie kan gebruik nie. Laat ek saamvat: doen alles wat julle kan om vir mense van God se dinge te vertel. As daar ander is wat in spesiale tale wil praat, moet julle nie in hulle pad staan nie. Wat julle ook al doen, moet julle met smaak doen sodat alles nie in ’n deurmekaarspul ontaard nie.
1 KORINTIËRS 14:26-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wel, broers en susters, kom ons vat saam. As julle bymekaarkom, kom die een met ’n loflied, die ander een wil oor ’n saak onderrig gee, nog ’n ander een wil vertel van ’n openbaring wat hy of sy ontvang het, nog een wil in tale praat en ’n ander een wil dit uitlê. Goed so, maar laat alles so gedoen word dat dit tot opbou van die gemeente dien. As daar persone is wat in tale wil praat, gee aan twee of hoogstens drie die geleentheid om dit te doen en laat iemand dit uitlê. Maar as daar niemand teenwoordig is wat die praat in tale kan uitlê nie, laat hulle in die gemeentebyeenkoms stilbly en hulle tuis op hulle eie tot God rig. Wat die profete betref, laat twee of drie aan die woord kom en die ander dan beoordeel wat gesê is. Maar as iemand besig is om te profeteer en iemand anders wat daar sit, ontvang ’n openbaring, moet eersgenoemde ophou praat. So kan julle almal, een na die ander, ’n beurt kry om te profeteer en almal leer uit wat gesê word, en almal aangespoor word. Onthou, mense wat profeteer, is in beheer van hulle gees en kan hulle beurt afwag. God is nie ’n God van wanordelikheid nie, maar van onderlinge harmonie soos dit die geval is in al die gemeentes. Die vroue moet in julle gemeentebyeenkomste stilbly. Dit pas hulle nie om daar te praat nie. Hulle moet onderdanig wees soos die wet ook sê. As een van hulle ’n vraag wil stel, moet hulle hulle mans tuis daarna vra, want dit pas nie ’n vrou om in die gemeentebyeenkomste te praat nie. Dink julle regtig dat die ware insig aangaande God se woord sy oorsprong by julle het of dat dit net by julle uitgekom het? Dan maak julle ’n groot fout. As jy daarop aanspraak maak dat jy ’n profeet is of dat jy ’n geestelike mens is, behoort jy te erken dat wat ek skryf, ’n opdrag van die Here is. Maar as jy dit ontken, sal die Here jou ook nie erken nie. Dus, my broers en susters, wees entoesiasties om te profeteer en moenie die spreek in tale teëgaan nie. Maar laat alles in goeie styl en ordelik plaasvind.