1 KORINTIËRS 2:1-16
1 KORINTIËRS 2:1-16 Die Boodskap (DB)
My liewe vriende, onthou julle nog toe ek die eerste maal daar by julle aangekom het? Toe ek julle van God se wonderlike planne kom vertel het, het ek nie met lang stories wat mooi klink of ingewikkelde redenasies gekom nie. Ek het dit doelbewus eenvoudig gehou: ek het julle van Jesus Christus kom vertel, die Jesus wat aan die kruis dood is. Ek was nie voor op die wa nie. Om die waarheid te sê, ek was maar skrikkerig, want ek het geweet ek is nie iemand wat belangrik of invloedryk is nie. Ja, my boodskap was eenvoudig. Dit was nie ’n klomp hoë woorde wat ’n mens se kop laat draai of so geleerd klink dat jy maar net ja en amen sê nie. In plaas daarvan om na slim argumente te luister kon mense eerder sien hoe kragtig die Gees van God werk. Julle vertroue op God en sy boodskap staan dus nie op die wankelrige pilare van mense se slim idees nie, maar dit staan vierkant op die krag van God. Ek praat met julle oor baie diep dinge wat julle lewe diep beïnvloed. Net mense wat daarvoor ryp is, kan dit regtig verstaan. Dit is nie populêre dinge of dinge wat die belangrike mense baie beïndruk nie. Hierdie mense leef in elk geval maar net ’n rukkie en dan gaan hulle manier van lewe saam met hulle dood. Nee, die boodskap wat ek bring, is dit wat regtig waar en reg is. Dit is soos God bedoel het ons lewe moet wees. Niemand het mooi besef presies hoe dit sou wees nie, want God het dit geheim gehou tot nou toe. Nog voor die wêreld geskape is, het Hy al hierdie dinge spesiaal net vir ons reggemaak. Nie een van die leiers van hierdie wêreld het ’n idee waaroor God se planne gaan nie. As hulle ’n idee gehad het, sou hulle nie die Here wat soveel goddelikheid uitgestraal het, aan ’n kruis vasgeslaan het om daar te sterf nie. Daar is mos geskryf: “Niemand het nog ooit so iets gesien of gehoor nie. In sy wildste drome kon niemand nog ooit homself so iets voorstel nie. Ek praat van al die dinge wat God reggemaak het vir die mense wat Hom liefhet.” Ons weet nie hierdie dinge sommer vanself nie. God het dit vir ons met behulp van sy Gees kom verduidelik. Die Heilige Gees weet alles, tot alles wat in God se diepste gedagtes aangaan. Dit is net soos met ’n mens. Niemand weet wat binne-in jou omgaan behalwe jou gees nie. Net so weet niemand wat binne-in God omgaan behalwe God se Gees nie. Juis hierdie Gees het God vir ons gegee. Hy het nie sommer ’n gewone gees vir ons gegee wat niks van Hom af weet nie. Omdat ons God se Gees in ons het, kan ons presies begryp wat God so onverdiend vir ons gegee het. Die Gees vertel ons immers daarvan. Ons vertel julle dus nie allerhande slimmighede wat ons by ander mense gehoor of in boeke gelees het nie. Wat ons julle vertel, het ons by die Gees self geleer. Dit is God se geestelike boodskap. Iemand wat net op ’n menslike vlak bly dink en net glo wat mense kan verklaar, sal nie ’n woord van God se geestelike boodskap wil aanvaar nie. Dit sal nie vir hom sin maak nie en hy sal nie kan verstaan hoe op aarde dit moontlik kan wees nie. Die fout lê by hom en nie by die dinge wat hy nie kan verstaan nie. Hy is die een wie se oë heeltemal toe is vir die geestelike dinge. Net die Heilige Gees kan hierdie dinge vir ’n mens duidelik maak. Iemand wat die Heilige Gees in sy lewe het, sal weet wat om van al hierdie dinge te dink. Hy sal geestelik sensitief wees, al sal die ongelowige mense hom nie verstaan nie. Die Skrif sê mos: “Wie weet wat binne-in die Here omgaan sodat hy vir Hom kan sê wat om te doen?” Ons wat sy Gees het, ken Jesus deur en deur.
1 KORINTIËRS 2:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Broers en susters, toe ek destyds vir die eerste keer na julle toe gekom het, het ek nie ’n stortvloed woorde of indrukwekkende wysheid gebruik om aan julle God se groot geheim, naamlik die Goeie Nuus, te verkondig nie. Want ek het besluit om as ek by julle is, net op Jesus Christus te konsentreer en veral op sy kruisdood. Ek het na julle gekom in swakheid – angstig en vol huiwering. My boodskap en my prediking was bitter eenvoudig. Ek het julle nie probeer oorreed deur geleerde welsprekendheid nie, maar deur die Heilige Gees wat kragtig onder julle gewerk het. Dit het ek gedoen sodat julle geloof nie sou berus op menslike geleerdheid nie, maar op die krag van God. Ja, wanneer ek onder geestelik volwassenes is, gebruik ek wel woorde van wysheid, maar dan ook nie die soort wysheid wat eie is aan hierdie wêreld of aan die heersers van hierdie wêreld wat self tot die verlede sal behoort nie. Nee, die wysheid waarvan ons praat, is die diepsinnige wysheid van God wat voorheen geheim gehou is, wat God van ewigheid af daargestel het sodat ons die heerlikheid kan ontvang. Maar die heersers van hierdie wêreld het dit nie begryp nie. As hulle dit wel begryp het, sou hulle nooit ons Here aan wie die heerlikheid behoort, gekruisig het nie. Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde: “Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.” Maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekendgemaak het. Want die Gees deurvors alle dinge, ook God se diepste geheime. Niemand sal ooit die diepste gedagtes van ’n mens ken nie, behalwe daardie persoon se eie gees. Net so kan niemand God se diepste geheime ken nie, behalwe die Gees van God. Ons het die Gees ontvang wat van God uitgaan – nie dié van die wêreld nie – sodat ons kan besef watter wonderlike geskenke God aan ons gegee het. As ons hierdie dinge aan julle vertel, gebruik ons nie woorde wat hulle oorsprong het in menslike slimmigheid nie, maar wat hulle oorsprong het by die Gees. Ons gebruik woorde wat van die Gees kom om geestelike waarhede te verduidelik. Die natuurlike mens kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie. Dit klink vir hulle onsinnig. Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet vanuit ’n geestelike perspektief verstaan word. Ons in wie die Gees is, verstaan al hierdie dinge, maar ander kan ons glad nie verstaan nie. Hoe kan hulle ook? Want: “Wie kan verstaan wat die Here dink? Wie kan Hom raad gee?” Óns kan hierdie dinge egter verstaan, want ons is in gestel om soos Christus te dink.
1 KORINTIËRS 2:1-16 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ek het na julle toe gekom om vir julle te vertel van die dinge van God, dinge waarvan julle niks geweet het nie. Ek het toe nie moeilike woorde gebruik of gemaak of ek baie slim is nie. Ek het dit gedoen omdat ek vir julle net wou leer van Jesus Christus, en dat God Hom laat kruisig het. Ja, toe ek by julle gekom het, het ek getwyfel of ek die boodskap van Christus reg sal kan bring vir julle. Ek was baie bang en benoud. Toe ek vir julle geleer het en vertel het van Christus, het ek nie slim woorde gebruik sodat julle my moet glo nie. Nee, die Gees van God het sterk in my gewerk. Daarom glo julle, maar nie omdat iemand slim woorde gebruik het sodat julle moet dink hy is wonderlik nie. Julle glo omdat julle gesien het hoe sterk God se krag gewerk het. Die mense wat God se planne verstaan, weet dat die dinge wat ons sê, baie verstandig is. Maar onthou, ons praat van dinge wat die mense van hierdie wêreld en die mense wat oor die wêreld regeer, nie verstaan nie. Die tyd van die leiers van die wêreld is amper verby. Ons vertel vir julle van God se plan. Niemand het iets daarvan geweet nie, net God het daarvan geweet. Voordat God die wêreld gemaak het, het Hy begin om sy plan gereed te maak sodat ons eendag saam met Hom kan wees waar Hy Koning is. Nie een van die wêreld se leiers het hierdie plan geken nie. As hulle dit geken het, dan sou hulle nie die Here gekruisig het nie, die Here wat Koning is. Die woorde in die Ou Testament is waar. Daar is geskryf: God het iets gereedgemaak. Niemand het dit gesien nie, niemand het daarvan gehoor nie, en niemand het daaraan gedink nie. Hy het dit gereedgemaak vir die mense wat lief is vir Hom. God het die Heilige Gees gestuur om hierdie plan vir ons te wys. Die Gees vind alles uit oor alle dinge, ook oor die dinge van God waarvan niemand weet nie. Wie ken die dinge wat 'n mens dink? Net die gees van die mens ken dit. Dit is ook so by God: Niemand ken die dinge wat God dink nie, net God se Gees ken dit. Maar óns verstaan die dinge wat God vir ons gegee het. Hy het dit gegee omdat Hy genadig is vir ons. Ons verstaan dit omdat God vir ons sý Gees gegee het, nie die gees van die wêreld nie. Wanneer ons oor die dinge van God praat, dan gebruik ons nie woorde wat slim mense vir ons geleer het nie, ons gebruik woorde wat God se Gees vir ons geleer het. En so verduidelik ons geestelike dinge vir mense wat die geestelike dinge kan verstaan. Iemand wat lewe soos die mense van hierdie wêreld, wil nie die dinge van God se Gees hê nie, want hy dink dit is dom dinge. Hy kan dit nie verstaan nie omdat 'n mens dit geestelik moet verstaan. Iemand wat lewe soos die Gees van God wil hê, kan oor enige iets sê of dit reg of verkeerd is. Maar niemand anders kan sê of iemand wat lewe soos die Gees van God wil hê, reg of verkeerd is nie. In die Ou Testament is geskryf
1 KORINTIËRS 2:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God. Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar 'n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid, wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie — want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie — maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
1 KORINTIËRS 2:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde. Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God. Tog is wat ons verkondig wysheid, maar net vir dié wat daarvoor ryp is, en dan 'n wysheid wat nie van hierdie wêreld is of van die heersers van hierdie wêreld nie. Hulle is buitendien aan die ondergaan. Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid. Nie een van die heersers van hierdie wêreld het hierdie wysheid geken nie. As hulle dit geken het, sou hulle nie die Here van die heerlikheid gekruisig het nie. Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. Watter mens ken die verborge dinge van 'n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God. Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer. So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het. Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie. Daar staan geskrywe
1 KORINTIËRS 2:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het, het ek nie gekom om met verhewe woorde of wysheid God se geheimenis aan julle te verkondig nie. Ek het besluit om by julle van niks anders te weet nie as van Jesus •Christus, en Hom as gekruisigde. Daarby het ek in swakheid na julle toe gekom, vol vrees en bewing. My lering en my verkondiging het nie berus op oorredende woorde van wysheid nie, maar op bewyse van die Gees en van krag, sodat julle geloof nie op die wysheid van mense berus nie, maar op die krag van God. Vir diegene wat volwasse is in geloof, is wat ons sê, wel wysheid – nie die wysheid van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers nie. Hulle gaan in elk geval tot niet. Ons praat egter van God se wysheid wat in 'n misterie gehul was, maar wat Hy voor alle tye vir ons heerlikheid bestem het, en wat nie een van die heersers van hierdie wêreld geken het nie; want as hulle het, sou hulle nie die Here van heerlikheid gekruisig het nie. Maar soos daar geskryf staan: “Wat die oog nie gesien het, die oor nie gehoor het, en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie – dit het God voorberei vir diegene wat Hom liefhet.” Maar aan ons het God dit deur die Gees geopenbaar; want die Gees ondersoek alles, ook die dieptes van God. Want watter mens ken die dieptes van 'n mens, behalwe sy eie gees in hom? Net so ken niemand die dieptes van God nie, behalwe die Gees van God. Ons het tog nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat van God kom, sodat ons kan weet wat God genadiglik aan ons geskenk het. Ons praat ook oor hierdie dinge, nie met woorde wat menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer, terwyl ons geestelike dinge met geestelike dinge beoordeel. Maar 'n niegeestelike mens aanvaar nie wat van die Gees van God kom nie; vir hom is dit immers dwaasheid, en hy kan dit nie begryp nie, omdat dit slegs geestelik beoordeel kan word. Die geestelike mens beoordeel egter alle dinge, hoewel hyself deur niemand beoordeel kan word nie. “Want wie het die gedagte van die Here geken, om vir Hom te kan voorskryf?” Wat ons betref, ons het die denkwyse van •Christus.
1 KORINTIËRS 2:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ek, broeders, toe ek na julle gekom het, het ek nie met voortreflike spraak of wysheid gekom en aan julle die getuienis van God verkondig nie. Want ek het my voorgeneem om niks onder julle te weet nie, behalwe Jesus Christus en Hom as gekruisigde. En ek was by julle in swakheid en in vrees en in baie bewing. En my toespraak en my prediking was nie met aanloklike woorde van menslike wysheid nie, maar in die demonstrasie van die Gees en van krag. Sodat julle geloof nie in die wysheid van mense moet bestaan nie, maar in die krag van God. Maar ons spreek wysheid onder die volmaaktes, maar nie die wysheid van hierdie wêreld of van die vorste van hierdie wêreld wat tot niet gaan nie; Maar ons spreek die wysheid van God in 'n verborgenheid, ja, die verborge wysheid wat God voor die wêreld verordineer het tot ons eer: Wat geeneen van die vorste van hierdie wêreld geken het nie, want as hulle dit geweet het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie. Maar soos geskrywe is: Die oog het nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want watter mens weet die dinge van 'n mens, behalwe die gees van die mens wat in hom is? net so ken die dinge van God niemand nie, behalwe die Gees van God. Nou het ons nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die gees wat uit God is; sodat ons kan weet wat die dinge van God aan ons gegee is. Wat ons ook spreek, nie in die woorde wat die wysheid van die mens leer nie, maar wat die Heilige Gees leer; geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie, want dit is vir hom dwaasheid; en hy kan dit ook nie ken nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar hy wat geestelik is, beoordeel alle dinge, maar self word hy deur niemand geoordeel nie. Want wie het die gedagtes van die Here geken, dat Hy hom kan onderrig? Maar ons het die denke van Christus.