1 KORINTIËRS 2:7-13
1 KORINTIËRS 2:7-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid. Nie een van die heersers van hierdie wêreld het hierdie wysheid geken nie. As hulle dit geken het, sou hulle nie die Here van die heerlikheid gekruisig het nie. Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. Watter mens ken die verborge dinge van 'n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God. Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer. So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het.
1 KORINTIËRS 2:7-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nee, die wysheid waarvan ons praat, is die diepsinnige wysheid van God wat voorheen geheim gehou is, wat God van ewigheid af daargestel het sodat ons die heerlikheid kan ontvang. Maar die heersers van hierdie wêreld het dit nie begryp nie. As hulle dit wel begryp het, sou hulle nooit ons Here aan wie die heerlikheid behoort, gekruisig het nie. Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde: “Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.” Maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekendgemaak het. Want die Gees deurvors alle dinge, ook God se diepste geheime. Niemand sal ooit die diepste gedagtes van ’n mens ken nie, behalwe daardie persoon se eie gees. Net so kan niemand God se diepste geheime ken nie, behalwe die Gees van God. Ons het die Gees ontvang wat van God uitgaan – nie dié van die wêreld nie – sodat ons kan besef watter wonderlike geskenke God aan ons gegee het. As ons hierdie dinge aan julle vertel, gebruik ons nie woorde wat hulle oorsprong het in menslike slimmigheid nie, maar wat hulle oorsprong het by die Gees. Ons gebruik woorde wat van die Gees kom om geestelike waarhede te verduidelik.
1 KORINTIËRS 2:7-13 Bybel vir almal (ABA)
Ons vertel vir julle van God se plan. Niemand het iets daarvan geweet nie, net God het daarvan geweet. Voordat God die wêreld gemaak het, het Hy begin om sy plan gereed te maak sodat ons eendag saam met Hom kan wees waar Hy Koning is. Nie een van die wêreld se leiers het hierdie plan geken nie. As hulle dit geken het, dan sou hulle nie die Here gekruisig het nie, die Here wat Koning is. Die woorde in die Ou Testament is waar. Daar is geskryf: God het iets gereedgemaak. Niemand het dit gesien nie, niemand het daarvan gehoor nie, en niemand het daaraan gedink nie. Hy het dit gereedgemaak vir die mense wat lief is vir Hom. God het die Heilige Gees gestuur om hierdie plan vir ons te wys. Die Gees vind alles uit oor alle dinge, ook oor die dinge van God waarvan niemand weet nie. Wie ken die dinge wat 'n mens dink? Net die gees van die mens ken dit. Dit is ook so by God: Niemand ken die dinge wat God dink nie, net God se Gees ken dit. Maar óns verstaan die dinge wat God vir ons gegee het. Hy het dit gegee omdat Hy genadig is vir ons. Ons verstaan dit omdat God vir ons sý Gees gegee het, nie die gees van die wêreld nie. Wanneer ons oor die dinge van God praat, dan gebruik ons nie woorde wat slim mense vir ons geleer het nie, ons gebruik woorde wat God se Gees vir ons geleer het. En so verduidelik ons geestelike dinge vir mense wat die geestelike dinge kan verstaan.
1 KORINTIËRS 2:7-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid, wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie — want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie — maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
1 KORINTIËRS 2:7-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ons praat egter van God se wysheid wat in 'n misterie gehul was, maar wat Hy voor alle tye vir ons heerlikheid bestem het, en wat nie een van die heersers van hierdie wêreld geken het nie; want as hulle het, sou hulle nie die Here van heerlikheid gekruisig het nie. Maar soos daar geskryf staan: “Wat die oog nie gesien het, die oor nie gehoor het, en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie – dit het God voorberei vir diegene wat Hom liefhet.” Maar aan ons het God dit deur die Gees geopenbaar; want die Gees ondersoek alles, ook die dieptes van God. Want watter mens ken die dieptes van 'n mens, behalwe sy eie gees in hom? Net so ken niemand die dieptes van God nie, behalwe die Gees van God. Ons het tog nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat van God kom, sodat ons kan weet wat God genadiglik aan ons geskenk het. Ons praat ook oor hierdie dinge, nie met woorde wat menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer, terwyl ons geestelike dinge met geestelike dinge beoordeel.
1 KORINTIËRS 2:7-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar ons spreek die wysheid van God in 'n verborgenheid, ja, die verborge wysheid wat God voor die wêreld verordineer het tot ons eer: Wat geeneen van die vorste van hierdie wêreld geken het nie, want as hulle dit geweet het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie. Maar soos geskrywe is: Die oog het nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want watter mens weet die dinge van 'n mens, behalwe die gees van die mens wat in hom is? net so ken die dinge van God niemand nie, behalwe die Gees van God. Nou het ons nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die gees wat uit God is; sodat ons kan weet wat die dinge van God aan ons gegee is. Wat ons ook spreek, nie in die woorde wat die wysheid van die mens leer nie, maar wat die Heilige Gees leer; geestelike dinge met geestelike vergelyk.
1 KORINTIËRS 2:7-13 Die Boodskap (DB)
Nee, die boodskap wat ek bring, is dit wat regtig waar en reg is. Dit is soos God bedoel het ons lewe moet wees. Niemand het mooi besef presies hoe dit sou wees nie, want God het dit geheim gehou tot nou toe. Nog voor die wêreld geskape is, het Hy al hierdie dinge spesiaal net vir ons reggemaak. Nie een van die leiers van hierdie wêreld het ’n idee waaroor God se planne gaan nie. As hulle ’n idee gehad het, sou hulle nie die Here wat soveel goddelikheid uitgestraal het, aan ’n kruis vasgeslaan het om daar te sterf nie. Daar is mos geskryf: “Niemand het nog ooit so iets gesien of gehoor nie. In sy wildste drome kon niemand nog ooit homself so iets voorstel nie. Ek praat van al die dinge wat God reggemaak het vir die mense wat Hom liefhet.” Ons weet nie hierdie dinge sommer vanself nie. God het dit vir ons met behulp van sy Gees kom verduidelik. Die Heilige Gees weet alles, tot alles wat in God se diepste gedagtes aangaan. Dit is net soos met ’n mens. Niemand weet wat binne-in jou omgaan behalwe jou gees nie. Net so weet niemand wat binne-in God omgaan behalwe God se Gees nie. Juis hierdie Gees het God vir ons gegee. Hy het nie sommer ’n gewone gees vir ons gegee wat niks van Hom af weet nie. Omdat ons God se Gees in ons het, kan ons presies begryp wat God so onverdiend vir ons gegee het. Die Gees vertel ons immers daarvan. Ons vertel julle dus nie allerhande slimmighede wat ons by ander mense gehoor of in boeke gelees het nie. Wat ons julle vertel, het ons by die Gees self geleer. Dit is God se geestelike boodskap.