1 KORINTIËRS 3:9-23

1 KORINTIËRS 3:9-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk. Volgens die genade deur God aan my gegee, het ek soos 'n bedrewe bouer 'n fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Elkeen moet egter let op hoe hy daarop bou. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie – dit is Jesus •Christus. Of iemand nou op die fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, gras of strooi – elkeen se werk sal duidelik word, want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel. As iemand se bouwerk behoue bly, sal hy sy loon ontvang. As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly – hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen; want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle. Laat niemand homself bedrieg nie. As iemand onder julle in hierdie wêreld meen dat hy wys is, laat hy dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan immers geskryf: “Hy vang die wyses deur middel van hulle eie slinksheid;” en ook: “Die Here ken die redenasies van die wyses, dat dit niksseggend is.” Daarom moet niemand hulle op mense beroem nie. Alles behoort tog aan julle: Of dit Paulus of Apollos of Sefas, of die wêreld, of lewe of dood, of teenswoordige of toekomstige dinge is – alles behoort aan julle. Maar julle behoort aan •Christus, en Christus aan God.

1 KORINTIËRS 3:9-23 Bybel vir almal (ABA)

Ons werk almal saam vir God. En julle is soos 'n stuk grond waar God besig is om te werk. Julle is 'n gebou van God. God was genadig vir my. Hy het gesê ek mag die fondament bou. Toe het ek soos 'n goeie bouer die fondament gebou, en 'n ander bouer bou verder daarop. Elkeen moet goed kyk hoe hy daarop bou. Niemand kan 'n ander fondament bou nie, want daar is klaar 'n fondament. Hierdie fondament is Jesus Christus. 'n Mens kan op hierdie fondament bou met goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi. Wanneer die Here kom, dan sal almal kan sien waarmee elkeen gebou het, want op daardie dag sal daar ook vuur kom. Die vuur sal elkeen se bouwerk toets om te kyk of hy goed gebou het. Wanneer iemand op die fondament gebou het, en sy werk bly staan, dan sal die Here daardie persoon beloon. Maar as iemand se werk verbrand, dan sal daardie persoon alles verloor. Maar die Here sal die persoon self red, Hy sal die persoon uit die vuur red. Julle moet onthou dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon. As iemand die tempel van God ontwy, dan sal God daardie persoon straf, want die tempel van God behoort aan God. En júlle is daardie tempel. Julle moenie julleself bedrieg nie. Een van julle dink miskien hy is slim in hierdie wêreld, maar hy sal eers regtig slim wees wanneer hy weet hy is dom by God. Hoekom? Want God sê die slim dinge van die wêreld is dom. In die Ou Testament is geskryf: God vang die slim mense met hulle eie slim planne. Daar is ook geskryf: Die Here ken die planne wat die slim mense van die wêreld maak. Hy weet dit beteken niks. Daarom moet julle nie spog dat julle aan 'n belangrike leier van die gemeente behoort nie, want al hierdie leiers, ja alle dinge, behoort aan julle. Paulus en Apollos en Sefas en die wêreld en die lewe en die dood en die belangrike dinge van hierdie lewe en van die lewe wat eendag kom, ja, alles behoort aan julle. En julle behoort aan Christus, en Christus behoort aan God.

1 KORINTIËRS 3:9-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WANT ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos 'n bekwame boumeester die fondament gelê, en 'n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle. Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang; en verder: Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is. Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge — alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

1 KORINTIËRS 3:9-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos 'n goeie bouer die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is. Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle. Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word, want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe: “Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne,” en op 'n ander plek: “Die Here ken die gedagtes van die wyse mense en weet dit beteken niks.” Daarom moet niemand op mense roem nie. Alles behoort aan julle: of dit Paulus of Apollos of Sefas of die wêreld of lewe of dood of hede of toekoms is, alles behoort aan julle, maar julle behoort aan Christus en Christus aan God.

1 KORINTIËRS 3:9-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want ons is arbeiders saam met God: julle is die landbouer van God, julle is God se gebou. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek as 'n wyse boumeester die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op hierdie fondament bou goud, silwer, edelgesteentes, hout, hooi, stoppels; Elkeen se werk sal openbaar word, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur geopenbaar sal word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang. As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; maar hy sal gered word; tog so soos deur vuur. Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God verontreinig, sal God hom vernietig; want die tempel van God is heilig, dit is julle. Laat niemand homself bedrieg nie. As iemand onder julle wys in hierdie wêreld meen, laat hom 'n dwaas word, sodat hy wys kan word. Want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Want daar is geskrywe: Hy neem die wyses aan in hulle eie listigheid. En verder, die Here ken die gedagtes van die wyses, dat dit nietig is. Laat niemand dus in mense roem nie. Want alles is joune; Of Paulus of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge; alles is joune; En julle behoort aan Christus; en Christus behoort aan God.

1 KORINTIËRS 3:9-23 Die Boodskap (DB)

Ek en Apollos is maar net mense wat die voorreg het om God te help. En julle is die mense wat God vir ons gegee het om te help. ’n Mens kan julle, as die Here se gemeente, ook vergelyk met ’n gebou wat aan God behoort. God was baie goed vir my en het my geleer om in julle gemeente te werk soos ’n bouer wat sy werk ken. Ek het die fondament stewig en goed gelê. Ander bouers werk nou verder aan die gebou. Elkeen wat daarná bou, moet egter doodseker maak dat hy behoorlik en reg bou. Daar kan net op een plek gebou word en dit is waar ek die fondament gelê het. Daardie fondament is Jesus Christus. Geestelike bouwerk op enige ander fondament help niks nie. Dit maak ook baie saak hoe en waarmee ’n mens op daardie fondament bou. Kyk mooi na die materiaal wat julle gebruik om te bou, want die Here gaan inspeksie kom hou. Julle sal dit nie vir Hom kan wegsteek as julle minderwaardige of afskeepmateriaal gebruik het om die gebou van sy gemeente te bou nie. God sal vir hulle wat goed gebou het ’n goeie beloning gee. Maar die mense wat sleg gebou het, sal op die dag wanneer die Here weer kom om hulle werk te inspekteer, baie spyt wees. Die Here sal hulle wel nie wegjaag nie, maar dit sal vir hulle net so goed wees asof hulle niks vir die Here gedoen het nie. Hulle sal met ’n bloedrooi gesig skaam agter in die ry moet gaan staan. Julle besef natuurlik dat julle die plek is waar God op ’n baie spesiale manier teenwoordig is, soos in ’n tempel. God se Gees bly mos in julle soos iemand in ’n huis bly. As iemand God se tempel skade aandoen, sal hy met God self te doen kry. En dit gaan nie lekker wees nie, want God se tempel behoort aan Hom. Dit is Syne en net Syne. Julle is daardie tempel van God. Moenie gekke van julleself maak nie. Moenie dink julle is baie oulik en slim as julle lekker met die mense kan saampraat oor al die aardse dinge wat in die mode is nie. Dit is nie waar werklike wysheid lê nie, want God het alles mooi omgekeer. Wat vir mense slim lyk, is eintlik maar dom, terwyl dit wat vir mense dom lyk, eintlik regtig slim is. Daar is mos geskryf: “Die slimmes praat hulle met hulle eie slimmighede heeltemal deurmekaar,” en verder: “Die Here weet dat wat die slim mense dink eintlik net leë gedagtes is.” Om dus regtig wys te wees moet ’n mens soos God begin dink. God het mos vir julle alles gegee. Los die gestry oor watter mense die belangrikste is. In vergelyking met God is almal eintlik niks nie, of dit nou Paulus is, of Apollos of Sefas. God het vir julle die wêreld gegee; Hy het vir julle lewe gegee en julle hoef nie meer bang te wees vir die dood nie. Die dinge wat vandag gebeur en wat nog in die toekoms gaan gebeur, het God alles vir julle gegee. Dit, en nie mense nie, moet vir julle belangrik wees, want julle is Jesus s’n en Jesus is God s’n.

1 KORINTIËRS 3:9-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ons is Gód se werkspan. Julle is Gód se saailand, Gód se gebou, nie ons s’n nie. Op grond van die genade wat God aan my bewys het, het ek soos ’n meesterbouer die fondament gelê. Ander bou daarop voort. Maar elkeen wat op hierdie fondament bou, moet baie versigtig wees. Want niemand kan ’n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus. As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels. Daar kom egter ’n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou. Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word. Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ’n brand gered word. Besef julle nie dat julle almal saam die tempel van God uitmaak en dat die Gees van God in julle as sy tempel woon nie? As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom skade aandoen. God se tempel is immers heilig en julle is self daardie tempel. Moenie julleself om die bos lei nie. As julle dink dat julle wys is volgens die standaarde van hierdie wêreld, sal julle eers dwaas moet word sodat julle werklik wys kan word volgens God se standaarde. Want die wysheid van hierdie wêreld is by God dwaasheid. Soos die Skrif dit stel: “God vang die slimmes met hulle eie slinkse planne.” En weer: “Die Here ken die gedagtes van die wyses – hoe niksseggend hulle is.” Moet julle dus nie daarop beroem dat julle volgelinge van een spesifieke leier is nie. Alles is immers julle s’n: Paulus en Apollos en Petrus, die wêreld, die lewe en die dood, die hede en die toekoms. Alles behoort aan julle! Maar julle behoort weer aan Christus, en Christus aan God.