1 KORINTIËRS 5:1-8

1 KORINTIËRS 5:1-8 Bybel vir almal (ABA)

Ek het gehoor daar is mense by julle wat onsedelik lewe. Die sonde wat hulle doen, is so groot dat ek dit nie kon glo nie. Ook die heidene dink dit is verkeerd. Ek het gehoor daar is 'n man wat by sy stiefma slaap. En julle dink nog altyd julle is beter as ander mense. As julle jammer was oor hierdie sonde, dan was dit beter. Dan sou julle gesê het die man wat hierdie ding doen, mag nie meer aan julle gemeente behoort nie. Ek is nie self nou daar by julle nie, maar dit voel of ek daar is. Daarom wil ek praat soos iemand wat daar by julle is. Ek het klaar besluit wat moet gebeur met die man wat hierdie sonde doen. Julle is die gemeente wat aan ons Here Jesus behoort, en wanneer julle vergadering hou, dan moet julle weet dat ek ook daar by julle is. Ons Here Jesus sal ook daar wees. Hy het baie krag en Hy sal sy krag vir julle gee. Julle moet die man wat hierdie sonde gedoen het vir die Satan gee, dan sal die Satan oor hom regeer. Die Satan sal hom baie swaar laat kry, sodat die Here hom kan red wanneer die dag van die Here kom. Julle dink julle is beter as ander mense, en dit is nie mooi nie. Julle weet goed dat 'n bietjie suurdeeg al die deeg suur maak. Daarom moet julle die man wat hierdie sonde doen, wegvat uit die gemeente, soos die Israeliete die ou suurdeeg weggevat het uit hulle huise wanneer hulle die Paasfees gevier het. Dan sal julle wees soos brood wat gebak is met vars deeg. En julle is al klaar soos brood wat so gebak is, brood sonder suurdeeg. Dit is omdat ons paaslam klaar gesterf het om ons sonde weg te neem. Ons paaslam is Christus. Daarom moet ons hele lewe soos die Paasfees wees. Maar ons moenie lewe soos mense wat die Paasfees vier met ou suurdeeg nie. Want as ons dit doen, dan doen ons slegte en verkeerde dinge. Ons moet lewe soos mense wat die Paasfees vier met ongesuurde brood. Dan sal ons eerlik en reg voor die Here lewe.

1 KORINTIËRS 5:1-8 Die Boodskap (DB)

Iemand het my vertel dat daar in die gemeente mense is wat baie onsedelik leef. Ek het gehoor dit is so erg dat selfs die nie-Christene hulle skaam en nooit sulke dinge sal doen nie. Neem byvoorbeeld daardie twee wat soos man en vrou saamleef, maar eintlik is hulle kind en stiefma. En dan dink julle julle is soveel beter as ander mense. Moet dit nie liewer julle hart breek nie? Behoort julle nie liewer mense wat sulke dinge aanvang te waarsku dat hulle uit die gemeente gesit sal word as hulle so voortgaan nie? Hoewel ek nie self daar is nie, is ek in my gedagtes by julle. Ek het mooi nagedink wat ek met sulke mense sou doen as ek daar was. Hulle kan nie so aangaan nie. Kom bymekaar as gemeente wat onder die gesag van die Here Jesus staan. Ek sal in my gedagtes ook daar by julle wees. Die Here Jesus sal vir julle die krag gee om te doen wat reg is. Gooi daardie onsedelike man uit die gemeente uit sodat hy kan voel hoe dit is om sonder die Here in die greep van Satan te leef. So sal die sonde wat hy so lustig doen vir hom sleg begin word. Hy sal besef dat die gevolge daarvan nie so lekker is as wat dit altyd lyk nie. Dan sal hy terugdraai na God toe en wanneer die Here weer kom, sal hy weer aan die kant van God staan. Ek haat dit as julle so grootpraat oor julle Christenskap. Laat ek vir julle met ’n voorbeeld verduidelik wat ek bedoel. Julle weet mos hoe suurdeeg werk. ’n Mens sit ’n klein stukkie suurdeeg in ’n groot bak deeg en dan trek daardie bietjie suurdeeg deur al die deeg en laat dit mooi rys. So is dit met sonde. ’n Klein bietjie sonde in die gemeente krap die hele gemeente deurmekaar. Raak asseblief ontslae van al die verkeerde dinge wat in die gemeente soos suurdeeg werk. Snuffel elke sonde uit en gooi dit uit die gemeente uit soos die mense van ouds alle suurdeeg uit die huis uitgegooi het voor die paasfees. Die brood vir die paasfees moes sonder suurdeeg gebak gewees het. Wees daarom as gemeente soos vars brood wat sonder die suurdeeg van sonde gebak is. Dit is mos hoe julle eintlik is. Soos daar altyd ’n lammetjie geslag is om paasfees mee te hou, so is Jesus vir ons sonde doodgemaak. Alles is reg vir die fees in die gemeente, die brood en die Lam. Laat ons dan die fees hou. Maar om dit te hou moet daar niks van al die lelike dinge waarvan God nie hou nie, soos ou suurdeeg in ons oorbly nie. Al wat vir die gemeente moet oorbly, is om skoon te leef en te doen wat reg is.

1 KORINTIËRS 5:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek kon my ore byna nie glo om van die seksuele vergrype onder julle te hoor nie – daarby van so ’n ernstige aard dat dit selfs nie onder die ongelowiges voorkom nie. Ek moes verneem dat daar iemand in julle gemeente is wat met sy stiefma in sonde saamleef. En dan is julle nog so trots op julleself! Pleks dat julle treur en toesien dat hierdie man wat sulke dinge aanvang, uit julle midde verwyder word! Al was ek nie self daar saam met julle nie, is ek tog in die gees by julle en het ek, asof ek teenwoordig is, al klaar in die Naam van ons Here Jesus ’n oordeel uitgespreek oor die man wat so iets gedoen het. Julle moet ’n gemeentevergadering saamroep. Ek sal in die gees daar wees en die krag van ons Here Jesus sal ook saam met julle daar wees. Dan moet julle daardie man aan Satan oorgee sodat sy sondige aard vernietig word, maar hyself verlos kan word op die oordeelsdag. Dis erg dat julle nog oor julle spiritualiteit kan spog terwyl julle iets soos hierdie in julle midde toelaat. Besef julle nie dat as selfs net een persoon toegelaat word om so voort te gaan, almal binnekort aangetas sal wees nie, soos suurdeeg die hele deeg suur maak? Verwyder hierdie slegte invloed onder julle uit sodat julle weer nuut en skoon kan wees, want dit is tog wat julle in wese is. Ook vir ons is daar immers ’n Paaslam geslag – Christus. Kom ons vier dan fees, nie met die ou brood van sonde en onsedelikheid nie, maar met die nuwe brood van reinheid en waarheid.