1 KORINTIËRS 7:2-5
1 KORINTIËRS 7:2-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar om onsedelikheid te voorkom, laat elke man sy eie vrou hê en elke vrou haar eie man. Laat die man sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so die vrou teenoor haar man. Die getroude vrou het nie seggenskap oor haar eie liggaam nie, maar haar man wel; net so het die man ook nie seggenskap oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou wel. Moet julle nie van mekaar weerhou nie, behalwe as julle ooreenkom om dit vir 'n tyd lank te doen om julle aan gebed te kan wy. En kom dan weer bymekaar, sodat Satan julle nie verlei as gevolg van julle gebrek aan selfbeheersing nie.
1 KORINTIËRS 7:2-5 Bybel vir almal (ABA)
Maar ek sê: Baie mense lewe onsedelik, daarom moet elke man sy eie vrou hê en elke vrou moet haar eie man hê. Wanneer 'n man en 'n vrou getroud is, dan moet hulle altwee saamstem om gereeld seks te hê met mekaar. Die vrou se liggaam behoort nie aan haarself nie, dit behoort aan haar man. En die man se liggaam behoort ook nie aan homself nie, dit behoort aan sy vrou. 'n Man en sy vrou moenie ophou om met mekaar seks te hê nie. Maar hulle mag saam besluit om 'n tyd lank nie seks te hê nie sodat hulle meer tyd kan hê om te bid. Daarna moet hulle weer bymekaarslaap sodat die Satan hulle nie kan verlei nie, want party mense kan nie lank sonder seks bly nie.
1 KORINTIËRS 7:2-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê. Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man. Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir 'n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.
1 KORINTIËRS 7:2-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir 'n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie.
1 KORINTIËRS 7:2-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar om hoerery te vermy, moet elke man sy eie vrou hê, en laat elke vrou haar eie man hê. Laat die man die vrou die nodige welwillendheid vergeld, en so ook die vrou aan die man. Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so het die man ook nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Bedrieg julle nie met mekaar nie, behalwe met toestemming vir 'n tyd, sodat julle julle kan oorgee aan vas en gebed; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie verlei oor julle inkontinentheid nie.
1 KORINTIËRS 7:2-5 Die Boodskap (DB)
Dit gee egter nie vir so iemand die groen lig om maar seksueel te leef soos hy wil nie. Die versoekings is maar groot. Seks is bedoel vir die huwelik en daarom is dit beter dat mense liewer trou en elkeen so sy eie maat het. Ek bedoel dat hulle werklik seksuele maats vir mekaar moet wees en dit vir mekaar aangenaam moet maak. In die huwelik kan die vrou nie maak asof die man geen sê oor haar liggaam het nie. Dieselfde geld vir die man. Die vrou kan ook aanspraak maak op sy liggaam. Hulle moet vir mekaar beskikbaar wees, veral op seksuele gebied. Hou mekaar op seksuele gebied gelukkig, behalwe as julle saam besluit om ’n rukkie lank nie saam te verkeer nie. Dit kan byvoorbeeld gebeur as julle ’n ruk lank op ’n spesiale manier op gebed wil konsentreer. Kom daarna weer saam. Moenie Satan ’n kans gee om julle uit te vang as julle selfbeheersing op ’n laagtepunt is nie.
1 KORINTIËRS 7:2-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie. Dit is haar reg as getroude vrou. Net so moet die vrou ook nie haar man hierdie intimiteit ontsê nie. Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra. Julle moet mekaar dus nie seks ontsê nie, behalwe as julle ooreenkom op ’n beperkte tyd van onthouding sodat julle julle meer volkome aan gebed kan toewy. Daarna moet julle weer saamkom om te verhinder dat Satan julle tot sonde verlei weens julle gebrek aan selfbeheersing.