1 KORINTIËRS 7:3-4
1 KORINTIËRS 7:3-4 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer 'n man en 'n vrou getroud is, dan moet hulle altwee saamstem om gereeld seks te hê met mekaar. Die vrou se liggaam behoort nie aan haarself nie, dit behoort aan haar man. En die man se liggaam behoort ook nie aan homself nie, dit behoort aan sy vrou.
1 KORINTIËRS 7:3-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man. Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.
1 KORINTIËRS 7:3-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.
1 KORINTIËRS 7:3-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Laat die man sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so die vrou teenoor haar man. Die getroude vrou het nie seggenskap oor haar eie liggaam nie, maar haar man wel; net so het die man ook nie seggenskap oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou wel.
1 KORINTIËRS 7:3-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat die man die vrou die nodige welwillendheid vergeld, en so ook die vrou aan die man. Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so het die man ook nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.
1 KORINTIËRS 7:3-4 Die Boodskap (DB)
Ek bedoel dat hulle werklik seksuele maats vir mekaar moet wees en dit vir mekaar aangenaam moet maak. In die huwelik kan die vrou nie maak asof die man geen sê oor haar liggaam het nie. Dieselfde geld vir die man. Die vrou kan ook aanspraak maak op sy liggaam. Hulle moet vir mekaar beskikbaar wees, veral op seksuele gebied.
1 KORINTIËRS 7:3-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie. Dit is haar reg as getroude vrou. Net so moet die vrou ook nie haar man hierdie intimiteit ontsê nie. Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra.