1 JOHANNES 3:1-10

1 JOHANNES 3:1-10 Die Boodskap (DB)

Ons staan bekend as kinders van God. Ons ís dit natuurlik ook. Ons hemelse Vader self het ons sy kinders gemaak - dít is nou liefde as daar al ooit liefde was! Maar die wêreld ken ons nie. Hulle weet nie wie ons regtig is nie. Weet julle hoekom? Hulle ken God nie. My broers en susters vir wie ek so lief is, luister, ons is nou reeds kinders van God. Watter wonderlike dinge nog alles in die toekoms met ons gaan gebeur, is ons nie seker van nie. Van een ding is ons egter seker: Jesus kom weer. Dan gaan ons Hom in sy grootheid sien soos Hy regtig is en ons self gaan ook soos Hy word. Vertrou jy Jesus so dat jy dít van Hom verwag? Wel, maak dan Jesus se optrede die patroon van jou lewe: soos sy lewe skoon en sonder foute was, so moet joune ook wees. Sonde en ongehoorsaamheid aan die wil van God is presies dieselfde ding. Om sonde te doen beteken dus om God se reëls te oortree. In Jesus is daar egter geen teken van sonde nie. Ons weet dat Hy die sonde nie kan verdra nie. Die rede waarom Hy gekom het, was juis om die sonde te kom vernietig. Wie nou in ’n intieme verhouding met Jesus staan, sal mos nie ’n gewoonte daarvan wil maak om op die sonde se voorstoep te speel nie. Wie gedurig só agter die sonde aanloop, gee eintlik deur sy lewe te kenne: “Ek weet nie wie Jesus is nie; ek het Hom nog nooit gesien nie en ken Hom nie.” Liewe kinders, moenie toelaat dat iemand julle om die bos lei nie. Jesus se verhouding met God is reg. Net so is iemand wat gewoonlik dinge doen wat vir God reg is, se verhouding met God ook reg. Daarteenoor is iemand wat gedurig alles doen waarvan God nie hou nie, ’n kind van die duiwel. Die duiwel doen mos nog altyd dit waarvan God nie hou nie. Die Seun van God het juis aarde toe gekom om die duiwel te kom vasvat. Niemand wat deur God sy kind gemaak is, maak nog ’n gewoonte van die sonde nie. Hoe kan hy? God het so iemand mos lewendig gemaak. Ja, uit God self is hy gebore, want God is kragtig en sterk. Daarom mag die gedagte om iets te doen wat God ongelukkig maak, nie eens by ’n kind van God opkom nie. Wil julle weet wie ’n kind van die duiwel en wie ’n kind van God is? Kyk maar, iemand wat nie doen wat vir God reg is nie en sy broer of suster nie liefhet nie, is beslis nie ’n kind van God nie.

1 JOHANNES 3:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Kyk net hoe ’n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook. Daarom ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk. Almal wat uit hierdie Christusverwagting leef, hou hulleself vlekkeloos soos Hy vlekkeloos is. Elkeen wat aanhou sonde doen, doen ook wat teen die wet is, want sonde is wetteloosheid. Julle weet tog dat Hy verskyn het om die sonde weg te neem en dat daar geen sonde in Hom is nie. Elkeen wat in ’n hegte verhouding met Hom leef, hou nie aan sonde doen nie. Elkeen wat aanhou sonde doen, het Hom nie gesien nie en het ook nie ’n begrip van Hom nie. Kinders, moenie dat iemand julle hieroor mislei nie: Elkeen wat reg leef, is regverdig, net soos Hy regverdig is. Elkeen wat aanhou sonde doen, is familie van die duiwel omdat die duiwel van die heel begin af sonde gedoen het. Juis daarvoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die duiwel te vernietig. Elkeen wat deur God verwek is, hou nie aan sonde doen nie omdat God se saad in hulle bly. Hulle kan ook nie aanhou sonde doen nie omdat hulle deur God verwek is. Op hierdie manier is dit duidelik wie die kinders van God en wie die kinders van die duiwel is. Almal wat nie reg optree nie en ook nie hulle medegelowiges liefhet nie, is nie uit God nie.

1 JOHANNES 3:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Julle kan seker wees dat die Vader baie lief is vir ons. Hy het ons sy kinders gemaak en nou is ons kinders van God. Die mense van die wêreld wou nie vir God ken nie. Daarom wil hulle ons ook nie ken nie. Vriende, ons is nou kinders van God. Ons weet nog nie presies hoe wonderlik ons eendag sal wees nie, maar ons weet dit: Wanneer Jesus kom, dan sal ons wees soos Hy, want ons sal Hom sien soos Hy regtig is. Almal wat seker is dat Jesus weer kom, reinig hulleself sodat hulle rein is, soos Jesus rein is. Almal wat sonde doen, doen nie wat God se wette sê nie, want wanneer iemand nie doen wat God se wette sê nie, dan doen hy sonde. Julle weet dat Jesus na die aarde gekom het om sondes weg te neem, Hy wat self niks sonde gedoen het nie. Mense wat aan Hom behoort, hou nie aan om sonde te doen nie, maar mense wat aanhou om sonde te doen, glo nie in Hom nie en hulle ken Hom nie. Vriende, julle moenie luister na mense wat verkeerde dinge vir julle leer nie. Mense wat lewe soos God wil hê, is gehoorsaam aan God, soos Jesus gehoorsaam is aan God. Maar mense wat aanhou om sonde te doen, is kinders van die duiwel, want die duiwel doen van die begin af sonde. Die Seun van God het na die wêreld gekom sodat die duiwel nie sal kan doen wat hy wil doen nie. Mense wat God se kinders is, hou nie aan om sonde te doen nie, want God het die ware lewe in hulle harte laat begin. Hulle kan nie aanhou om sonde te doen nie, want hulle is God se kinders. Hoe weet 'n mens wie is kinders van God en wie is kinders van die duiwel? Kinders van God doen wat God wil hê en hulle is lief vir die ander gelowiges.