1 JOHANNES 3:1-6
1 JOHANNES 3:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is. Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie. Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.
1 JOHANNES 3:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Julle kan seker wees dat die Vader baie lief is vir ons. Hy het ons sy kinders gemaak en nou is ons kinders van God. Die mense van die wêreld wou nie vir God ken nie. Daarom wil hulle ons ook nie ken nie. Vriende, ons is nou kinders van God. Ons weet nog nie presies hoe wonderlik ons eendag sal wees nie, maar ons weet dit: Wanneer Jesus kom, dan sal ons wees soos Hy, want ons sal Hom sien soos Hy regtig is. Almal wat seker is dat Jesus weer kom, reinig hulleself sodat hulle rein is, soos Jesus rein is. Almal wat sonde doen, doen nie wat God se wette sê nie, want wanneer iemand nie doen wat God se wette sê nie, dan doen hy sonde. Julle weet dat Jesus na die aarde gekom het om sondes weg te neem, Hy wat self niks sonde gedoen het nie. Mense wat aan Hom behoort, hou nie aan om sonde te doen nie, maar mense wat aanhou om sonde te doen, glo nie in Hom nie en hulle ken Hom nie.
1 JOHANNES 3:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
KYK wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is. Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid. En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie.
1 JOHANNES 3:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie vaste hoop op Hom het, hou homself rein, net soos Hy rein is. Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid. Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem, en in Hom is daar geen sonde nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie; elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien, en Hom nie leer ken nie.
1 JOHANNES 3:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kyk, watter liefde het die Vader aan ons bewys, dat ons kinders van God genoem kan word; daarom ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat, wanneer Hy verskyn, ons aan Hom gelyk sal wees; want ons sal hom sien soos hy is. En elke mens wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself, net soos hy rein is. Elkeen wat sonde doen, oortree ook die wet, want sonde is die oortreding van die wet. En julle weet dat Hy geopenbaar is om ons sondes weg te neem; en in Hom is geen sonde nie. Elkeen wat in hom bly, sondig nie; elkeen wat sondig, het hom nie gesien en hom nie geken nie.
1 JOHANNES 3:1-6 Die Boodskap (DB)
Ons staan bekend as kinders van God. Ons ís dit natuurlik ook. Ons hemelse Vader self het ons sy kinders gemaak - dít is nou liefde as daar al ooit liefde was! Maar die wêreld ken ons nie. Hulle weet nie wie ons regtig is nie. Weet julle hoekom? Hulle ken God nie. My broers en susters vir wie ek so lief is, luister, ons is nou reeds kinders van God. Watter wonderlike dinge nog alles in die toekoms met ons gaan gebeur, is ons nie seker van nie. Van een ding is ons egter seker: Jesus kom weer. Dan gaan ons Hom in sy grootheid sien soos Hy regtig is en ons self gaan ook soos Hy word. Vertrou jy Jesus so dat jy dít van Hom verwag? Wel, maak dan Jesus se optrede die patroon van jou lewe: soos sy lewe skoon en sonder foute was, so moet joune ook wees. Sonde en ongehoorsaamheid aan die wil van God is presies dieselfde ding. Om sonde te doen beteken dus om God se reëls te oortree. In Jesus is daar egter geen teken van sonde nie. Ons weet dat Hy die sonde nie kan verdra nie. Die rede waarom Hy gekom het, was juis om die sonde te kom vernietig. Wie nou in ’n intieme verhouding met Jesus staan, sal mos nie ’n gewoonte daarvan wil maak om op die sonde se voorstoep te speel nie. Wie gedurig só agter die sonde aanloop, gee eintlik deur sy lewe te kenne: “Ek weet nie wie Jesus is nie; ek het Hom nog nooit gesien nie en ken Hom nie.”
1 JOHANNES 3:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kyk net hoe ’n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook. Daarom ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk. Almal wat uit hierdie Christusverwagting leef, hou hulleself vlekkeloos soos Hy vlekkeloos is. Elkeen wat aanhou sonde doen, doen ook wat teen die wet is, want sonde is wetteloosheid. Julle weet tog dat Hy verskyn het om die sonde weg te neem en dat daar geen sonde in Hom is nie. Elkeen wat in ’n hegte verhouding met Hom leef, hou nie aan sonde doen nie. Elkeen wat aanhou sonde doen, het Hom nie gesien nie en het ook nie ’n begrip van Hom nie.