1 JOHANNES 3:11-18
1 JOHANNES 3:11-18 Bybel vir almal (ABA)
Toe julle begin het om in Jesus te glo, het julle gehoor dat julle lief moet wees vir mekaar. Julle moenie soos Kain wees nie. Hy was 'n kind van die duiwel en hy het sy broer vermoor. Hoekom het hy sy broer vermoor? Hy het dit gedoen omdat hý slegte dinge gedoen het, maar sy broer het gedoen wat God wil hê. Vriende, wanneer die mense van die wêreld vir julle haat, dan moet julle nie verbaas wees nie. Ons weet dat ons nie meer geestelik dood is nie, ons lewe. Ons weet dit omdat ons lief is vir die ander gelowiges. Mense wat nie lief is vir ander gelowiges nie, is nog geestelik dood. Mense wat ander gelowiges haat, is moordenaars, en julle weet dat moordenaars nie die ewige lewe het nie. Jesus het vir ons gewys wat liefde is, want Hy het gesterf sodat ons kan lewe. En so moet ons ook sterf sodat die ander gelowiges kan lewe. Mense wat baie goed het, sien miskien dat 'n ander gelowige iets nodig het, maar hulle is nie jammer vir hom nie en hulle wil hom nie help nie. Daardie mense wys dat hulle nie lief is vir God nie. Vriende, ons moet lief wees vir die ander gelowiges, maar ons moet dit nie net sê nie. Ons moet dinge dóén wat wys dat ons lief is vir hulle omdat ons weet wat die waarheid is.
1 JOHANNES 3:11-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig. Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broeder haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie. Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.
1 JOHANNES 3:11-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s'n reg. Broers, moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.
1 JOHANNES 3:11-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Dat ons mekaar moet liefhê – nie soos Kain, wat uit die Bose was en sy broer vermoor het nie. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy dade sleg was, en dié van sy broer regverdig. Moenie verbaas wees, broers, as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons uit die dood oorgegaan het na die lewe, omdat ons ons broers liefhet. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe blywend in hom het nie. Hieraan ken ons die liefde: dat Hy vir ons sy lewe afgelê het. Ook ons behoort ons lewe vir ons broers af te lê. Hoe bly die liefde van God in iemand wat genoeg aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar sy hart nogtans vir hom toesluit? Kinders, ons moenie net met woorde, met die tong, liefhê nie, maar met die daad, in waarheid.
1 JOHANNES 3:11-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê. Nie soos Kain, wat uit daardie bose was, en sy broer doodgemaak het nie. En waarom het hy hom gedood? Want sy eie werke was boos en die regverdige van sy broer. Moenie jou verwonder nie, my broers, as die wêreld julle haat. Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broer nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. Hieraan bemerk ons die liefde van God, omdat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. Maar wie wat die goeie van hierdie wêreld het en sien dat sy broer gebrek het en sy innerlike medelye vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woord of met tong nie; maar in daad en in waarheid.
1 JOHANNES 3:11-18 Die Boodskap (DB)
“Ons moet mekaar liefhê!” Hierdie boodskap het julle reg van die begin af gehoor. Moenie soos Kain wees nie. Hy het sy broer vermoor omdat hy sleg van binne was. Jy sou kon vra wat hom gedryf het om dit te doen. Wel, hulle het nie langs dieselfde vuur gesit nie. Kain het dinge gedoen wat sleg was, maar sy broer het dinge gedoen wat voor God reg was. Julle moet dus nie verbaas wees nie, broers, as die ongelowige wêreld julle haat. Ons weet mos: ons was eers geestelik dood, maar ons toestand is verander. Ons lewe nou! Dit kan almal sien uit ons liefde vir ons medegelowiges. Aan die ander kant is iemand sonder liefde in die kloue van die geestelike dood. Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar. En dit weet julle, ’n persoon kan nie tegelyk deur moord ’n ander se lewe van hom wegvat en dan self vir ewig wil lewe nie. Wil julle weet wat liefde is? Ons het ’n goeie voorbeeld daarvan: Jesus Christus het Homself gegee om tot ons voordeel doodgemaak te word. Ons behoort presies dieselfde te doen. Ons moet bereid wees om ons lewe tot die voordeel van ons medegelowiges te gee. Byvoorbeeld, veronderstel iemand het alles wat hy nodig het. Hy kom egter agter dat ’n medegelowige eenvoudig nie genoeg het om oor die weg te kom nie. Wat nou gemaak? Wel, as die persoon wat genoeg het, meen die nood van die ander een raak hom nie en ongevoelig daarby verbykyk, flits die rooi ligte. Daardie persoon tree eenvoudig nie op uit die liefde wat van God kom nie. My liewe kinders, ons liefde moenie net uit ’n gepraat bestaan nie. Dit moet in dade uitgeleef word. Dit is wat iemand doen vir wie God se waarheid belangrik is.
1 JOHANNES 3:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dít is die boodskap wat ons van die heel begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. Ons moet nie soos Kain optree wat uit die bose was en sy broer doodgemaak het nie. Om watter rede het hy hom doodgemaak? Omdat sy eie optrede boos was en sy broer s’n reg. Broers en susters, moet nie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. Ons leef in die wete dat ons reeds uit die dood oorgegaan het in die lewe omdat ons ons broers en susters liefhet. Wie nie liefhet nie, bly eenvoudig in die dood vasgevang. Elkeen wat sy broer of suster haat, is ’n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar deel het aan die ewige lewe nie. Ons het die volmaakte liefde leer ken: dit is dat Christus sy lewe ter wille van ons afgelê het. Só moet ons ook ons lewens prysgee ter wille van ons broers en susters. Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broer of suster sien gebrek ly, maar weier om ’n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon? Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of gepratery nie, maar eerder deur ons optrede, en met opregte bedoelings.