1 JOHANNES 3:18-24
1 JOHANNES 3:18-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons ons gewete voor Hom tot rus bring. As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind. En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.
1 JOHANNES 3:18-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kinders, ons moenie net met woorde, met die tong, liefhê nie, maar met die daad, in waarheid. En hieraan sal ons weet dat ons uit die waarheid kom, en met 'n geruste gewete voor God kan staan: Wanneer ons gewete ons veroordeel, God is groter as ons gewete en Hy weet alles. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, kan ons met vrymoedigheid voor God staan. En wat ons ook al vra, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie onderhou, en doen wat vir Hom aangenaam is. En dit is sy gebod: Dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus •Christus, moet glo, en mekaar moet liefhê volgens die gebod wat Hy aan ons gegee het. En wie sy gebooie onderhou, bly in Hom, en Hy in hulle. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: deur die Gees wat Hy aan ons gegee het.
1 JOHANNES 3:18-24 Die Boodskap (DB)
My liewe kinders, ons liefde moenie net uit ’n gepraat bestaan nie. Dit moet in dade uitgeleef word. Dit is wat iemand doen vir wie God se waarheid belangrik is. So sal ons daarvan seker kan wees dat wat ons doen uit die fontein van God se waarheid borrel. Ons sal met vertroue voor God self kan staan. Selfs as daar dinge is waaroor ons skuldig of onseker voel, weet ons dat God groter is as al ons skuldgevoelens of onsekerhede. Hy weet immers meer oor ons as ons self. My liewe vriende, as ons van hierdie skuldgevoelens en slegte gewete ontslae is, is daar niks wat ons meer keer om by God op ons gemak te wees nie. Dan kan ons dinge van Hom vra en ons sal dit van Hom kry. Ons vra en doen immers net dit wat in ooreenstemming is met God se wil en wat Hom tevrede en gelukkig maak. Dít is wat God wil hê: ons moet sy Seun, Jesus Christus, volledig in die geloof aanvaar vir wie Hy is. Daarmee saam moet ons die wil van Jesus doen deur mekaar lief te hê. Wie God se wil so doen, is werklik deel van die intieme familiekring van God. Sy belange raak totaal met die belange van God vervleg. God is vir hom die allerbelangrikste en hy is net so belangrik vir God. Dat God ons werklik so deel van sy intieme familiekring gemaak het, kan ons daarin sien dat Hy aan ons die Heilige Gees gegee het.
1 JOHANNES 3:18-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of gepratery nie, maar eerder deur ons optrede, en met opregte bedoelings. Deur ons optrede sal ons weet dat ons getrou aan die waarheid lewe en dat ons ons gewete voor Hom tot rus kan bring. Maar selfs wanneer ons gewete ons sou aankla – God is groter as ons gewete en Hy weet alles. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak. En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het. Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.
1 JOHANNES 3:18-24 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ons moet lief wees vir die ander gelowiges, maar ons moet dit nie net sê nie. Ons moet dinge dóén wat wys dat ons lief is vir hulle omdat ons weet wat die waarheid is. As ons daardie dinge doen, dan sal ons weet dat God sy waarheid vir ons gegee het. As ons skuldig voel en dink God moet ons straf, dan moet ons nie bang wees vir God se oordeel nie. Want ons weet dat God belangriker is as die dinge wat ons in ons harte voel. En God weet alles. Vriende, ons voel nie skuldig nie en ons is nie bang vir God se straf nie, daarom is ons ook nie bang om vir Hom iets te vra nie. En God gee vir ons wat ons vra, want ons doen die dinge wat Hy sê ons moet doen, dinge waarvan Hy hou. God wil hê dat ons in sy Seun Jesus Christus moet glo en dat ons lief moet wees vir mekaar. Jesus het gesê ons moet dit doen. As ons doen wat God sê, dan bly ons by Hom en Hy bly by ons. En ons weet dat Hy by ons bly, want Hy het vir ons die Heilige Gees gegee.
1 JOHANNES 3:18-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid. En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles. Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God; en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom. En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons 'n gebod gegee het. En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het.
1 JOHANNES 3:18-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
My kinders, laat ons nie liefhê met woord of met tong nie; maar in daad en in waarheid. En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is, en ons sal ons harte voor Hom verseker. Want as ons hart ons veroordeel, God is groter as ons hart en weet alles. Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vertroue op God. En alles wat ons vra, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is in sy oë. En dit is Sy gebod, dat ons moet glo in die Naam van Sy Seun, Jesus Christus, en mekaar moet liefhê soos Hy ons beveel het. En hy wat sy gebooie bewaar, bly in hom, en hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly deur die Gees wat Hy ons gegee het.