1 JOHANNES 3:22-24
1 JOHANNES 3:22-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind. En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.
1 JOHANNES 3:22-24 Die Boodskap (DB)
Dan kan ons dinge van Hom vra en ons sal dit van Hom kry. Ons vra en doen immers net dit wat in ooreenstemming is met God se wil en wat Hom tevrede en gelukkig maak. Dít is wat God wil hê: ons moet sy Seun, Jesus Christus, volledig in die geloof aanvaar vir wie Hy is. Daarmee saam moet ons die wil van Jesus doen deur mekaar lief te hê. Wie God se wil so doen, is werklik deel van die intieme familiekring van God. Sy belange raak totaal met die belange van God vervleg. God is vir hom die allerbelangrikste en hy is net so belangrik vir God. Dat God ons werklik so deel van sy intieme familiekring gemaak het, kan ons daarin sien dat Hy aan ons die Heilige Gees gegee het.
1 JOHANNES 3:22-24 Bybel vir almal (ABA)
En God gee vir ons wat ons vra, want ons doen die dinge wat Hy sê ons moet doen, dinge waarvan Hy hou. God wil hê dat ons in sy Seun Jesus Christus moet glo en dat ons lief moet wees vir mekaar. Jesus het gesê ons moet dit doen. As ons doen wat God sê, dan bly ons by Hom en Hy bly by ons. En ons weet dat Hy by ons bly, want Hy het vir ons die Heilige Gees gegee.
1 JOHANNES 3:22-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom. En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons 'n gebod gegee het. En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het.
1 JOHANNES 3:22-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En wat ons ook al vra, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie onderhou, en doen wat vir Hom aangenaam is. En dit is sy gebod: Dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus •Christus, moet glo, en mekaar moet liefhê volgens die gebod wat Hy aan ons gegee het. En wie sy gebooie onderhou, bly in Hom, en Hy in hulle. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: deur die Gees wat Hy aan ons gegee het.
1 JOHANNES 3:22-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En alles wat ons vra, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is in sy oë. En dit is Sy gebod, dat ons moet glo in die Naam van Sy Seun, Jesus Christus, en mekaar moet liefhê soos Hy ons beveel het. En hy wat sy gebooie bewaar, bly in hom, en hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly deur die Gees wat Hy ons gegee het.
1 JOHANNES 3:22-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak. En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het. Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.