1 JOHANNES 4:11-16
1 JOHANNES 4:11-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
1 JOHANNES 4:11-16 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is, daarom moet ons ook lief wees vir mekaar. Niemand het vir God gesien nie, nooit. As ons lief is vir mekaar, dan bly God by ons en dan is ons harte vol van sy liefde. Ons weet dat ons by God bly en dat Hy by ons bly, want Hy het sy Gees vir ons gegee. Ons het gesien en nou vertel ons dat die Vader sy Seun gestuur het sodat die Seun die Redder van die wêreld kon word. As mense sê hulle glo dat Jesus die Seun van God is, dan is God by hulle en hulle is by God. Ons het gesien en geglo dat God lief is vir ons. God is liefde, en almal wat vashou aan sy liefde, bly by Hom en Hy bly by hulle.
1 JOHANNES 4:11-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het. En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is — God bly in hom, en hy in God. En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.
1 JOHANNES 4:11-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons tot vervulling gekom. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly, en Hy in ons: Hy het ons aan sy Gees laat deel kry. En ons het dit aanskou, en ons getuig daarvan, dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. Wie ook al bely dat Jesus die •Seun van God is, God bly in hom, en hy in God. Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom.
1 JOHANNES 4:11-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit gesien nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, omdat Hy ons van sy Gees gegee het. En ons het gesien en getuig dat die Vader die Seun gestuur het om die Verlosser van die wêreld te wees. Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is, God bly in hom en hy in God. En ons het die liefde wat God tot ons het, geken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God en God in hom.
1 JOHANNES 4:11-16 Die Boodskap (DB)
Liewe vriende, God het vir ons gewys wat ware liefde is. Ons behoort mekaar ook so lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie. As ons egter mekaar liefhet, kan mense God in ons lewe sien. Sy liefde blom in ons soos Hy bedoel het dit moet wees. Dít is vir ons die bewys van die intieme verhouding wat tussen God en ons as sy kinders bestaan: God het sy Gees in ons laat werk. Ons het alles gesien en kan dus vir seker sê: Die Vader het sy Seun gestuur met die doel om die mense op aarde te kom red. Iemand wat dus bely: “Jesus is die Seun van God,” leef intiem saam met God en God saam met hom. God het ons lief. Ons weet en glo dit. God is liefde. As daar dus liefde uit jou lewe straal, vertel dit hoe naby jy aan God leef.
1 JOHANNES 4:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê. Niemand het God nog ooit gesien nie; as ons egter mekaar werklik aanhou liefhê, leef God in ons optrede en het sy liefde in ons optrede ten volle tot verwesenliking gekom. Hieraan weet ons dat ons in ’n hegte verhouding met Hom leef en dat Hy ook in ’n hegte verhouding met ons leef: aan sy Gees wat Hy aan ons gegee het. Verder, ons het dit fyn raakgesien en ons hou aan daarvan getuig dat die Vader die Seun gestuur het as Verlosser van die mensdom. Almal wat openlik erken dat Jesus die Seun van God is – God handhaaf ’n hegte verhouding met hulle en hulle met God. Ons leef uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet. God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ’n hegte verhouding met God en God met hulle.