1 JOHANNES 5:16-21
1 JOHANNES 5:16-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie. Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie. Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.
1 JOHANNES 5:16-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As iemand sy broer 'n sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid, en God sal aan hom, ja, aan hulle wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie, die lewe gee. Daar is 'n sonde wat tot die dood lei – ek sê nie dat hy daaroor moet bid nie. Elke onreg is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie. Ons weet dat niemand wat uit God gebore is, aanhou sonde doen nie; maar Hy wat uit God gebore is, beskerm hom, en die Bose kan hom niks aandoen nie. Ons weet dat ons uit God is, en dat die hele wêreld in die mag van die Bose is. En ons weet dat die Seun van God gekom het, en aan ons verstand gegee het sodat ons die Waaragtige kan ken, en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus •Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. My kinders, beskerm julleself teen die afgode.
1 JOHANNES 5:16-21 Die Boodskap (DB)
Kyk na die volgende voorbeeld. Sê nou iemand sien ’n medegelowige wat verkeerde dinge doen, maar darem op so ’n manier dat hy Jesus nie heeltemal die rug toekeer nie, wat dan? Wel, dan moet hy in gebed vir God vra om daardie persoon te help. God sal daardie persoon help. Die persoon is immers nog nie by die afgrond van die geestelike dood af nie. In sommige gevalle is persone al klaar by die afgrond af. Ek praat nie oor hulle as ek sê dat julle moet bid nie. Dinge wat nie vir God reg is nie, is natuurlik sonde. Maar deur sonde te doen dompel die gelowige hom nie noodwendig in die geestelike dood in nie. Tog weet ons ook dat iemand wat God se kind is, nie heeltyd al agter die sonde aanloop nie. Die Bose kan nie ’n houvas op hom kry nie. Ons weet dat ons kinders van God is. Al die ander mense in die wêreld wat nie kinders van God is nie, is verstrik in die mag van die Bose. Dit weet ons: die Seun van God het gekom en vir ons die geestelike dinge kom verduidelik. Daarom kan ons nou die ware God ken. Ons is deel van die familie van die ware God, van sy Seun, Jesus Christus. Hierdie Jesus self is die ware God en die ewige lewe. My kinders, loop wye draaie om alles wat julle hinder of keer om God voluit te dien.
1 JOHANNES 5:16-21 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer julle sien dat die ander gelowiges sonde doen, en dit is sonde wat God sal vergewe, dan moet julle bid vir daardie gelowiges. Julle moet bid vir die gelowiges wat sonde doen wat God sal vergewe. As julle vir hulle bid, dan sal God die ewige lewe vir hulle gee. Maar daar is ook sonde wat God nie sal vergewe nie, en ek sê nie dat julle daarvoor moet bid nie. Alles wat verkeerd is, is sonde, maar daar is sonde wat God vergewe, en daar is sonde wat God nie vergewe nie. Ons weet dat kinders van God nie aanhou om sonde te doen nie, want die Seun van God beskerm hulle. Daarom kan die duiwel niks aan hulle doen nie. Ons weet dat ons kinders van God is en dat die duiwel regeer oor al die ander mense. Ons weet dat die Seun van God gekom het en dat Hy ons gehelp het om die ware God te leer ken. Nou is ons by die ware God en by sy Seun, Jesus Christus. Jesus is regtig God, Hy gee vir ons die ewige lewe. Vriende, julle moet oppas vir die afgode!
1 JOHANNES 5:16-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As iemand sy broeder 'n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee — vir die wat nie 'n sonde tot die dood doen nie. Daar is 'n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is 'n sonde wat nie tot die dood is nie. Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie. Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe. My kinders, bewaar julleself van die afgode. Amen.
1 JOHANNES 5:16-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As iemand sy broer 'n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en hy sal hom die lewe gee vir die wat nie tot die dood sondig nie. Daar is 'n sonde tot die dood: Ek sê nie dat hy daarvoor sal bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is 'n sonde nie tot die dood nie. Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die bose raak hom nie aan nie. En ons weet dat ons uit God is, en die hele wêreld lê in goddeloosheid. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het, sodat ons die Waaragtige kan ken, en ons is in die Waaragtige, ja, in sy Seun Jesus Christus. Dit is die ware God, en die ewige lewe. Kinders, bewaar julleself van afgode. Amen.
1 JOHANNES 5:16-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As jy sien dat jou broer of suster aanhou sonde doen – sonde wat nie tot die dood lei nie – moet jy ernstig bid en God sal aan hulle lewe gee. Dit geld vir dié sondes wat nie tot die dood lei nie. Daar is ook sonde wat tot die dood lei; ek sê nie dat jy daarvoor moet bid nie. Elke optrede wat nie reg is nie, is sonde, maar nie elke sonde lei tot die dood nie. Ons leef egter met die wete dat elkeen wat deur God verwek is, nie aanhou sonde doen nie. God bewaar dié een wat uit Hom gebore is en die bose kry nie vatplek aan hom nie. Ons weet dat ons van God afkomstig is en dat die hele wêreld in die mag van die bose vasgevang lê. Ons leef ook met die wete dat die Seun van God gekom het en aan ons die vermoë gegee het om die ware Een te herken. En ons leef in ’n hegte verhouding met Hom, die Ware Een, naamlik God se Seun, Jesus Christus. Hy ís die ware God, en Hy is die ewige lewe. Kinders, loop tog wakker vir die afgode!