1 JOHANNES 5:6-13
1 JOHANNES 5:6-13 Bybel vir almal (ABA)
Ons weet dat Jesus Christus die Seun van God is, want Hy is gedoop en Hy het vir ons sonde gesterf. Ja, Hy is nie net gedoop nie, Hy het ook vir ons sonde gesterf. Ons weet dit omdat die Heilige Gees dit vir ons gesê het, die Gees wat altyd die waarheid praat. Daarom is daar drie wat sê dit is die waarheid: die Heilige Gees, Jesus se doop en Jesus se dood. Al drie sê dieselfde oor Jesus. Ons glo wat mense vir ons sê. Maar wat God vir ons sê, is baie belangriker, en dit is God wat vir ons vertel het van sy Seun. Almal wat glo in die Seun van God, glo wat God vir hulle gesê het oor Jesus. Maar almal wat nie vir God glo nie, sê dat God lieg, want hulle glo nie wat Hy oor sy Seun gesê het nie. God het vir ons gesê dat Hy vir ons die ewige lewe gee. Ja, sy Seun gee vir ons die ewige lewe. Almal wat in die Seun glo, het die ewige lewe, maar almal wat nie in die Seun glo nie, het nie die ewige lewe nie. Ek skryf al hierdie dinge vir julle sodat julle seker kan wees dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.
1 JOHANNES 5:6-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Jesus die Christus; nie deur die water alleen nie, maar deur die water en die bloed; en dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid. Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig. As ons die getuienis van die mense aanneem — die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het. Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie. En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.
1 JOHANNES 5:6-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. Daar is dus drie wat getuig : die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen. Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun. Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.
1 JOHANNES 5:6-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy, Jesus •Christus, is die Een wat deur water en bloed gekom het – nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat getuig, want die Gees is die waarheid. Want daar is drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is dit eens. As ons die getuienis van mense aanvaar – die getuienis van God is vir seker groter, omdat dit die getuienis van God is wat Hy oor sy Seun gelewer het. Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in homself; wie God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy nie die getuienis geglo het wat God oor sy Seun gelewer het nie. En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die •Seun van God glo.
1 JOHANNES 5:6-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Jesus Christus; nie net deur water nie, maar deur water en bloed. En dit is die Gees wat getuig, want die Gees is waarheid. Want daar is drie wat getuig in die hemel, die Vader, die Woord en die Heilige Gees; en hierdie drie is een. En daar is drie wat op die aarde getuig: die Gees en die water en die bloed; en hierdie drie stem ooreen. As ons die getuienis van mense ontvang, is die getuienis van God groter, want dit is die getuienis van God wat Hy van sy Seun getuig het. Hy wat in die Seun van God glo, het die getuienis in homself; omdat hy die getuienis nie glo wat God van sy Seun gegee het nie. En dit is die getuienis dat God aan ons die ewige lewe gegee het, en hierdie lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; en wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God; sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, en dat julle kan glo in die Naam van die Seun van God.
1 JOHANNES 5:6-13 Die Boodskap (DB)
Dit is Jesus Christus wat deur die water van sy doop en sy bloed aan die kruis hierheen gekom het, nie net deur die water van sy doop nie, maar deur die doopwater én sy bloed aan die kruis. Die Heilige Gees staan vir die waarheid daarvan in. Die Gees se getuienis en die waarheid is natuurlik presies dieselfde. Daar is drie wat getuienis aflê: eerstens is daar die Heilige Gees; dan is daar die water van die doop van Jesus, en laastens is daar sy bloed wat aan die kruis gevloei het. Hierdie drie getuies sê presies dieselfde. Gewoonlik aanvaar ons dit wat mense getuig sonder veel probleme. As God egter iets getuig, lê dit op ’n heel ander vlak; dit is eenvoudig baie belangriker. Onthou, dit is die getuienis van God. En weet jy waaroor hierdie getuienis handel? Ja, oor sy Seun. Wie in die Seun van God glo, hou hier diep binne-in hom aan hierdie getuienis van God vas. Daaruit put hy baie motivering. Wie God egter nie glo nie, gee voor dat God ’n klomp leuens sou vertel. So ’n ongelowige weier sowaar om die getuienis wat God self oor sy Seun gelewer het, ernstig op te neem. Wat behels hierdie getuienis oor sy Seun presies? God bied die ewige lewe vir ons aan. Hierdie lewe is in en by sy Seun beskikbaar. Wie dus in ’n hegte verhouding met die Seun staan, kry die lewe by die Seun. Wie nie in so ’n verhouding met die Seun van God staan nie, loop die lewe heeltemal mis. Ek het ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf: dit is sodat julle wat in die Seun van God glo, kan weet dat julle die goddelike, nimmereindigende lewe het.
1 JOHANNES 5:6-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is Hy wat deur die water en die bloed gegaan het, nie slegs deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat daaroor getuienis aflê omdat die Gees die waarheid is. Daarom is daar dié drie wat getuienis aflê: die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens. As ons dan die getuienis van mense as betroubaar aanvaar – die getuienis van God dra soveel groter gewig. Hierdie getuienis kom van God af; sy getuienis oor sy eie Seun staan vas. Almal wat glo in die Seun van God, dra dié getuienis in hulle eie hart; wie nie glo nie, het God as ’n leuenaar uitgemaak omdat hulle nie glo in die getuienis wat God oor sy Seun gelewer het nie. En dit is die inhoud van sy getuienis: God het aan ons die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ’n hegte verhouding met sy Seun. Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie nie deel het aan die Seun van God nie, het ook nie deel aan die ewige lewe nie. Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God.