1 KONINGS 14:21-31
1 KONINGS 14:21-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Rehabeam seun van Salomo was intussen koning van Juda. Rehabeam was een en veertig toe hy koning geword het en hy was sewentien jaar koning in Jerusalem, die stad wat deur die Here onder al die Israelitiese stamme gekies is om sy Naam daar te vestig. Rehabeam se ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou. Juda het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en deur die sondes wat hulle gedoen het, het hulle die Here meer uitgetart as wat hulle voorvaders gedoen het. Hulle het vir hulle hoogtes gebou en klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die hele Juda het dieselfde afskuwelike sondes gedoen as die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgetrek. Hy het beslag gelê op die skatte in die huis van die Here en die paleis. Hy het alles gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het. Koning Rehabeam het toe bronsskilde in die ander se plek laat maak en dié oorhandig aan die offisiere van die wag wat by die ingang van die paleis diens gedoen het. Elke keer wanneer die koning na die huis van die Here toe gegaan het, het die wag die skilde gedra, en daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer toe. Die ander verhale oor Rehabeam en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Daar was deurentyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. Rehabeam is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.
1 KONINGS 14:21-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Rehabeam, seun van Salomo, was koning in Juda. Rehabeam was een-en-veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sewentien jaar lank as koning geheers in Jerusalem, die stad wat die HERE gekies het uit al die stamme van Israel om sy Naam daar te vestig. Die naam van Rehabeam se moeder was Naäma, die Ammoniet. Juda het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Hulle het Hom nog meer ontstel met die sondes wat hulle gedoen het as alles wat hulle voorouers gedoen het. Ook hulle het vir hulleself offerhoogtes, gedenkstene en asjeras opgerig op elke hoë heuwel en onder elke skaduryke boom. Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die mense het al die afstootlike dade van die nasies wat die HERE voor die Israeliete uit verdryf het, nagedoen. In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam trek Sisak, die koning van Egipte, toe op teen Jerusalem. Hy het die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die koninklike paleis gevat; dit alles het hy gevat. Hy het ook al die goue skilde wat Salomo gemaak het, gevat. Koning Rehabeam het toe in die plek daarvan bronsskilde gemaak. Hy het dit toevertrou aan die bevelvoerders van die hardlopers wat die ingang na die koninklike paleis bewaak het. Telkens wanneer die koning die huis van die HERE binnegegaan het, het die hardlopers dit gedra en dit daarna weer teruggeneem na die wagkamer van die hardlopers. Die verdere geskiedenis van Rehabeam, en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. Rehabeam het by sy voorouers gaan rus, en hy is by sy voorouers begrawe in die Stad van Dawid. Sy moeder se naam was Naäma, die Ammoniet. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.
1 KONINGS 14:21-31 Die Boodskap (DB)
Rehabeam die seun van Salomo was 41 toe hy koning geword het en hy het sewentien jaar lank in Jerusalem regeer. Dit is die stad wat die Here gekies het om in te woon en aanbid te word. Rehabeam se ma, Naäma, was ’n vrou uit Ammon. Juda het die Here diep teleurgestel. Hulle ongehoorsaamheid was vir Hom ’n groot skande. Hulle was erger as enige geslag voor hulle. Hulle het op baie hoë plekke in die berge altare gebou en klippilare en beelde van die godin Asjera daar opgerig. Hulle het onder elke groen boom saamgekom en offers vir ander gode gebring. Daar was selfs prostitute by daardie offerplekke. Die mense van Juda het presies gedoen soos daardie volke wat die Here destyds uit Kanaän verdryf het sodat Israel in die land kon woon. In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgeruk. Sisak het in die tempel ingegaan en alles gevat. Hy het al die paleis se skatte weggeneem, ook die goue skilde wat Salomo nog gemaak het. Rehabeam het toe koperskilde in die plek van die ander gemaak. Hy het dit vir die wagte gegee wat die ingang van die paleis moes bewaak. Elke keer as Rehabeam na die tempel toe gegaan het, het die wagte die koperskilde gedra. Na die tyd het hulle dit weer in die paleis se stoorkamers gaan terugsit. Alles wat Rehabeam gedoen het, is in ’n belangrike boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken. Rehabeam en Jerobeam het omtrent heeltyd oorlog teen mekaar gemaak. Rehabeam is dood en is in Jerusalem in die familiegraf begrawe. Sy ma was Naäma, ’n vrou uit Ammon. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.
1 KONINGS 14:21-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Intussen het Rehabeam oor Juda regeer. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was sewentien jaar lank koning in Jerusalem, die stad wat die HERE uit al die stamme van Israel gekies het as die plek waar sy Naam vereer moet word. Rehabeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou. Gedurende die regering van Rehabeam het die Judeërs gedoen wat verkeerd was vir die HERE. Met hulle sondes het hulle die HERE meer getart as wat hulle voorouers gedoen het. Hulle het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom hoogtes gebou en klippilare en pale gewy aan Asjera opgerig. Daar was ook manlike tempelprostitute in die land. Die Judeërs het dieselfde afskuwelike praktyke beoefen as die heidennasies wat die HERE ter wille van die Israeliete uit die land verdryf het. In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam het koning Sisak van Egipte gekom en Jerusalem aangeval. Hy het die tempel van die HERE en die koninklike paleis geplunder. Hy het alles gevat, selfs die goue skilde wat Salomo laat maak het. Daarna het Rehabeam skilde van brons gemaak om dit te vervang, en het dit in die sorg van die hoof van die lyfwagte by die ingang van die paleis geplaas. Elke keer wanneer die koning na die tempel van die HERE gegaan het, het die wagte die skilde saamgedra en dit daarna weer in die wagte se kamer gebêre. Die ander gebeurtenisse tydens Rehabeam se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. Toe Rehabeam sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.
1 KONINGS 14:21-31 Bybel vir almal (ABA)
Rehabeam seun van Salomo was koning in die land Juda. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 17 jaar lank koning in Jerusalem. Die Here het Jerusalem gekies van al die stede van die stamme van Israel. Die Here het Jerusalem gekies om aan Hom te behoort. Rehabeam se ma was Naäma, sy was 'n Ammonitiese vrou. Die mense van Juda het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hulle het Hom baie kwaad gemaak omdat hulle daardie sondes gedoen het. Hulle het Hom meer kwaad gemaak as hulle voorvaders. Hulle het ook vir hulle offer-plekke gebou en klip-pale en gewyde pale ingeplant op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. Daar was ook tempel-prostitute in die land. Die mense van Juda het verkeerde dinge gedoen, dinge wat die Here haat. Hulle het dieselfde dinge gedoen soos die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag om plek te maak vir die Israeliete. In die vyfde jaar nadat Rehabeam koning geword het, het koning Sisak van Egipte Jerusalem aangeval. Hy het al die kosbare goed in die tempel en in die paleis gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het. Koning Rehabeam het skilde van brons laat maak in die goue skilde se plek, en hy het die skilde vir die hoofde van die wagte gegee wat voor die paleis waggestaan het. Elke maal wanneer die koning na die tempel gegaan het, dan het die wagte die skilde gedra. Daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer. Al die ander dinge wat Rehabeam gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. Daar was altyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. Rehabeam het gesterf en hulle het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad. Sy ma was Naäma, sy was 'n Ammonitiese vrou. Rehabeam se seun Abia het koning geword ná hom.
1 KONINGS 14:21-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Rehábeam, die seun van Salomo, was koning in Juda; een-en-veertig jaar was Rehábeam oud toe hy koning geword het, en sewentien jaar het hy geregeer in Jerusalem, die stad wat die HERE verkies het uit al die stamme van Israel om sy Naam daar te vestig. En die naam van sy moeder was Naäma, die Ammonitiese. En Juda het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en sy ywer opgewek, meer as al die dade van hulle vaders, deur hul sondes wat hulle gedoen het. En hulle het ook vir hulle hoogtes gebou en klippilare en heilige boomstamme op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. En daar was ook skandseuns in die land; hulle het gehandel volgens al die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het. In die vyfde jaar van koning Rehábeam trek Sisak, die koning van Egipte, toe teen Jerusalem op, en hy neem die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning weg; ja, hy het alles weggeneem; ook al die goue skilde wat Salomo gemaak het, het hy weggeneem. Daarop maak koning Rehábeam in die plek daarvan koperskilde, en hy het dit aan die owerstes van die hardlopers toevertrou wat die deur van die koning se huis bewaak het. So dikwels as die koning in die huis van die HERE ingaan, dra die hardlopers dit en bring dit weer terug in die wagkamer van die hardlopers. En die verdere geskiedenis van Rehábeam en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? En daar was gedurigdeur oorlog tussen Rehábeam en Jeróbeam. En Rehábeam het ontslaap met sy vaders en is begrawe by sy vaders in die stad van Dawid; en die naam van sy moeder was Naäma, die Ammonitiese; en sy seun Abía het in sy plek koning geword.
1 KONINGS 14:21-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Rehábeam, die seun van Salomo, het in Juda geregeer. Rehabeam was een en veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sewentien jaar geregeer in Jerusalem, die stad wat die HERE uit al die stamme van Israel uitgekies het om sy Naam daar te vestig. En die naam van sy moeder was Naäma, 'n Ammonitiese. En Juda het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en hulle het Hom tot ywer gewek deur hulle sondes wat hulle gedoen het, bo alles wat hulle vaders gedoen het. Want hulle het ook vir hulle hoogtes en beelde en heilige boomstamme gebou op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. En daar was ook sodomiete in die land, en hulle het gehandel volgens al die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel verdryf het. En in die vyfde jaar van koning Rehábeam het Sisak, die koning van Egipte, teen Jerusalem opgetrek. En hy het die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning weggeneem; hy het selfs alles weggeneem, en hy het al die goue skilde wat Salomo gemaak het, weggeneem. En koning Rehábeam het in hulle plek koperskilde gemaak en dit in die hand van die owerste van die lyfwag, wat die deur van die koning se huis bewaak het, oorgegee. En toe die koning in die huis van die HERE ingegaan het, het die wag hulle gedra en hulle teruggebring in die wagkamer. En die verdere geskiedenis van Rehábeam en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? En daar was oorlog tussen Rehabeam en Jeróbeam al hulle dae. En Rehábeam het ontslaap met sy vaders en is begrawe by sy vaders in die stad van Dawid. En die naam van sy moeder was Naäma en die Ammoniete. En sy seun Abía het in sy plek geregeer.