1 KONINGS 9:10-28

1 KONINGS 9:10-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Na afloop van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue opgerig het, die huis van die Here en die koninklike paleis, waarvoor koning Hiram van Tirus aan Salomo soveel sederhout, sipreshout en ook goud gelewer het as wat hy wou hê, het koning Salomo twintig stede in Galilea aan Hiram oorgedra. Toe Hiram hierdie stede wat Salomo aan hom oorgedra het, uit Tirus gaan besigtig, was hy teleurgestel en het hy gesê: “Wat se stede is dit wat jy vir my gee, my broer!” Daarom dra dit tot vandag nog die naam “Kabulstreek” . Hiram het aan Salomo meer as vier ton goud gelewer. Vir die bou van die huis van die Here en die paleis, die terras en die muur van Jerusalem, en vir die herbou van die stede Hasor, Megiddo en Geser het koning Salomo van dwangarbeid gebruik gemaak. Die farao, die koning van Egipte, het Geser met sy leër ingeneem, dit aan die brand gesteek en die Kanaäniete wat die stad bewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as bruidskat gegee vir sy dogter wat met Salomo getrou het. Salomo het Geser weer opgebou, en ook Bet-Goron-Onder, Baälat en Tamar in die woestyn, in die gebied van Juda; verder ook al die voorraadstede wat hy besit het, die stede vir die strydwamagte en die berede magte. Hy het ook al die bouwerk wat hy hom voorgeneem het, voltooi: dié in Jerusalem en ook dié op die Libanon en dwarsdeur die hele land waaroor hy geregeer het. Salomo het al die nie-Israeliete, die mense wat nog oor was van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, afstammelinge van dié wat nie deur die Israeliete uitgeroei is nie en nog oor was in die land, opgeroep om dwangarbeid te doen. Dit is vandag nog so. Salomo het nie die Israeliete as arbeiders gebruik nie; hulle was sy soldate, sy lyfwag, sy amptenare, die aanvoerders van sy strydwabemannings, sy strydwamag en sy berede mag. Daar was ook nog die volgende getal uitvoerende beamptes oor wie koning Salomo beskik het: vyf honderd en vyftig wat gesag uitgeoefen het oor die werksmense. Nadat die dogter van die farao oorgetrek het van die Dawidstad af na die huis wat Salomo vir haar gebou het, het hy die terras gebou. Salomo het drie maal per jaar brandoffers en maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het, en daarmee saam wierookoffers vir die Here gebrand. So het hy sy verantwoordelikheid in die tempel nagekom. Koning Salomo het ook skepe gebou in Esjon-Geber by Elat aan die kus van die Rietsee in Edom. Hiram het vir hom skepe gestuur en ervare seemanne. Hulle het saam met Salomo se manne na Ofir toe gevaar en daar vir koning Salomo meer as veertien ton goud gaan haal.

1 KONINGS 9:10-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Aan die einde van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue, die huis van die HERE en die koninklike paleis, gebou het, gee koning Salomo toe vir Hiram twintig dorpe in die landstreek Galilea. Hiram, die koning van Tirus, het immers vir Salomo bygestaan met sederhout en sipreshout en goud, soveel as wat hy wou hê. Hiram het uit Tirus vertrek om die dorpe te besigtig wat Salomo vir hom gegee het, maar in sy oë was dit nie goed genoeg nie. Hy het gesê: “Wat is hierdie dorpe wat jy vir my gegee het, my broer?” Hy het dit die gebied van Kabul genoem; dit is vandag nog so. Hiram het immers vir die koning 'n honderd-en-twintig kikkar goud gestuur. Dít was die doel met die verpligte diens waartoe koning Salomo mense opgeroep het: om die huis van die HERE te bou, asook sy eie paleis, die terrasse, die stadsmuur van Jerusalem, Gasor, Megiddo en Geser. Die farao, die koning van Egipte, het voorheen opgetrek en Geser ingeneem. Hy het dit afgebrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee. Salomo het Geser herbou, ook Bet-Goron-Onder, Baälat en Tamar in die woestyn van die land, asook al die voorraadstede wat aan Salomo behoort het, die stede vir die strydwaens en die stede vir die perde, ja, wat Salomo ook al graag wou bou in Jerusalem en in die Libanon, in die hele gebied waaroor hy regeer het. Al die mense wat oorgebly het van die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, wat nie deel was van die Israeliete nie – dit is nou hulle nageslag wat ná hulle oorgebly het in die land, en wat die Israeliete nie met die banvloek kon tref nie – het Salomo opgeroep vir verpligte dienswerk, dit is vandag nog so. Maar van die Israeliete het Salomo niemand onderwerp aan slawediens nie, want hulle was krygsmanne, sy dienaars, bevelvoerders, adjudante en die •aanvoerders van sy strydwamag en ruitery. Hulle was ook die hoofopsigters wat in beheer was van Salomo se bouwerk – vyfhonderd-en-vyftig man wat bevel gevoer het oor die mense wat die werk moes doen. Eers nadat die dogter van die farao uit die •Stad van Dawid opgegaan het na haar paleis wat Salomo vir haar gebou het, het hy die terrasse herbou. Salomo het drie keer per jaar •brandoffers en •maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die HERE gebou het, en daarmee saam het hy wierook gebrand op die altaar wat voor die HERE was. Hy het ook die tempel in stand gehou. Koning Salomo het 'n vloot opgebou by Es-jon-Geber wat by Elat is, aan die kus van die Rietsee in die gebied van Edom. Saam met Salomo se dienaars, het Hiram sy dienaars, skeepslui wat die see geken het, aan die vloot beskikbaar gestel. Hulle het na Ofir gegaan en van daar af goud gebring, vierhonderd-en-twintig kikkar en dit na koning Salomo geneem.

1 KONINGS 9:10-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit het Salomo twintig jaar geneem om die tempel van die HERE en die koninklike paleis te bou. Toe het hy twintig dorpe in Galilea as betaling vir Hiram van Tirus gegee vir al die sederhout, sipreshout en goud wat hy vir die bouprojek nodig gehad het. Hiram het uit Tirus kom kyk hoe die dorpe lyk wat Salomo vir hom gegee het, maar hy was nie daarmee tevrede nie. “Watter soort dorpe is dit wat jy vir my gegee het, my broer?” het hy gevra. “Hierdie dorpe is tog waardeloos!” Daarom word dit tot vandag toe Kabulstreek genoem. Hiram het meer as vier ton goud aan Salomo gelewer. Salomo het dwangarbeid gebruik om die volgende projekte te bou: die tempel van die HERE, die koninklike paleis, die terras en die muur van Jerusalem. Hy het ook die stede Hasor, Megiddo en Geser met hulle herbou. Die farao, koning van Egipte, het Geser verower, die Kanaänitiese inwoners doodgemaak en die stad verbrand. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter gegee toe sy met Salomo getrou het. Daarom het Salomo Geser herbou, asook Bet-Goron-Onder, Baälat en Tamar in die woestyn van Juda. Verder het hy voorraadstede gebou en stede waar sy strydwaens en berede mag gehuisves was. Hy het in Jerusalem, die Libanon en dwarsdeur sy hele ryk alles voltooi wat hy hom voorgeneem het om te bou. In die land was daar nog inwoners wat nie Israeliete was nie. Hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en die Jebusiete. Hulle was die afstammelinge van die volke wat Israel nie volledig uitgeroei het nie. Salomo het hulle opgekommandeer om dwangarbeid vir hom te doen. Dis vandag nog so. Salomo het egter geen Israeliet vir dwangarbeid gebruik nie. Hulle was sy soldate, sy lyfwag, sy staatsamptenare, offisiere in sy leër, aanvoerders van sy strydwaens en sy berede magte. Verder het hy 550 van hulle as beamptes aangestel om toesig te hou oor al die verskillende projekte. Nadat die dogter van die farao uit die Dawidstad oorgetrek het na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het, het hy ook die terras gebou. Salomo het drie keer per jaar brandoffers en maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die HERE gebou het. Hy het ook wierookoffers vir die HERE gebrand. So het hy al sy verpligtings in die tempel nagekom. Koning Salomo het ook skepe gebou by Esjon-Geber, ’n hawe naby Elat aan die kus van die Rietsee in Edom. Hiram het ook vir hom skepe gestuur met gesoute bemanningslede. Hulle het saam met Salomo se matrose na Ofir gevaar en daar vir Salomo meer as veertien ton goud gaan haal.

1 KONINGS 9:10-28 Bybel vir almal (ABA)

Salomo het 20 jaar lank gebou, en toe was die tempel en die paleis klaar. Koning Hiram van Tirus het vir Salomo die sederhout en sipreshout en goud gegee wat Salomo wou hê om die tempel en die paleis te bou. Salomo het daarna vir Hiram 20 stede in die land Galilea gegee. Hiram het gaan kyk na die stede wat Salomo vir hom gegee het, maar Hiram het nie van die stede gehou nie. Hy het gesê: “My vriend, hoekom gee jy vir my hierdie stede? Hulle beteken niks.” Die mense noem daardie plek nou nog “Nikswerd-land.” Hiram het 120 talente goud vir die koning gestuur. Koning Salomo het mense baie hard laat werk om die tempel en sy paleis te bou. Hy het ook die terras en die muur van Jerusalem en die stede Hasor, Megiddo en Geser gebou. Salomo het die stad Geser gekry nadat die farao, die koning van Egipte, die stad Geser oorwin en verbrand het. Hy het die Kanaäniete wat daar gewoon het, doodgemaak en toe het hy die stad vir sy dogter gegee wat met Salomo getroud was. Salomo het die stede Geser en Bet-Goron-Onder weer gebou en ook die stede Baälat en Tamar in die woestyn, in die land Juda. Hy het ook die stede gebou waar hy sy goed gebêre het en die stede waar sy oorlogkarre en sy ryperde was. Salomo het alles gebou wat hy wou bou in Jerusalem en op die Libanon-berg en in die hele land waar hy koning was. Daar was nog stede waar mense gewoon het wat nie Israeliete was nie. Dit was die stede waar die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete gewoon het. Die Israeliete kon hulle nie almal doodmaak nie, en Salomo het hulle kinders wat oorgebly het, laat kom om vir hom te werk, hulle het altyd sy slawe gebly. Maar Salomo het gesê die Israeliete mag nie slawe word nie. Hulle was die manne wat oorlog moes maak en wat die koning moes oppas. Hulle was sy amptenare en offisiere en die hoofde van die soldate op die oorlogkarre en perde. Daar was 550 manne wat moes kyk dat Salomo se werkers goed werk. Salomo het die terras gebou nadat die farao se dogter uit die Dawidstad getrek het na die huis wat Salomo vir haar gebou het. Hy het drie maal elke jaar brand-offers en ete-offers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het en hy het wierook-offers gebrand vir die Here. Dit was nadat hy die tempel klaar gebou het. Koning Salomo het skepe laat bou in Esjon-Geber. Dit was by die stad Elot langs die strand by die Riet-see, in die land Edom. Hiram het matrose gestuur wat die see goed geken het. Hulle was saam met die matrose van Salomo op die skepe. Hulle het na die land Ofir gegaan en hulle het vir koning Salomo 420 talente goud gebring.

1 KONINGS 9:10-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN aan die einde van twintig jaar waarin Salomo die twee huise, die huis van die HERE en die huis van die koning, gebou het — Hiram, die koning van Tirus, het Salomo gehelp met sederhout en sipreshout en goud soveel as hy wou hê — gee koning Salomo aan Hiram twintig stede in die land Galiléa. En Hiram het uit Tirus uitgetrek om die stede te bekyk wat Salomo hom gegee het, maar hulle was nie reg in sy oë nie. Daarop sê hy: Wat vir stede is dit wat jy my gegee het, my broer? En hulle noem dit die land Kabul, tot vandag toe. En Hiram het aan die koning honderd-en-twintig talente goud gestuur. En dit was die saak van die dwangarbeiders wat koning Salomo laat opkom het om die huis van die HERE en sy huis en Millo en die muur van Jerusalem en Hasor en Megíddo en Geser te bou. (Farao, die koning van Egipte, het opgetrek en het Geser ingeneem en dit met vuur verbrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, gedood en dit as 'n trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee.) So het Salomo dan Geser opgebou en Bet-Horon-Onder en Báälat en Tamar in die woestyn, in die land, en al die voorraadstede wat Salomo gehad het, en die stede vir die strydwaens en die stede vir die perderuiters en wat Salomo graag wou gebou het in Jerusalem en in die Líbanon en in die hele land van sy heerskappy. Al die mense wat oorgebly het van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, wat nie uit die kinders van Israel was nie — hulle kinders wat ná hulle in die land oorgebly het, wat die kinders van Israel nie met die banvloek kon tref nie, dié het Salomo laat opkom vir dwangarbeid, tot vandag toe. Maar van die kinders van Israel het Salomo niemand 'n slaaf gemaak nie, maar hulle was krygsmanne en sy dienaars en sy owerstes en sy adjudante en owerstes oor sy strydwaens en sy perderuiters. Dit was die hoofopsigters van Salomo oor die werk: vyfhonderd-en-vyftig wat oor die mense wat die werk verrig, bevel gevoer het. Skaars het die dogter van Farao opgetrek uit die stad van Dawid na haar huis wat hy vir haar gebou het, of hy het Millo gebou. En Salomo het drie maal in die jaar brandoffers en dankoffers gebring op die altaar wat hy vir die HERE gebou het, hy het naamlik rook laat opgaan by die altaar wat daar was voor die aangesig van die HERE, sodat hy die huis voltooi het. Koning Salomo het ook skepe gebou in Éseon-Geber wat by Elot aan die kus van die Skelfsee in die land Edom lê. Toe stuur Hiram sy dienaars op die skepe, seevaarders wat die see ken, saam met die dienaars van Salomo; en hulle het in Ofir aangekom en daarvandaan goud gaan haal, vierhonderd-en- twintig talente, en dit na koning Salomo gebring.

1 KONINGS 9:10-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur aan die einde van twintig jaar, toe Salomo die twee huise gebou het, die huis van die HERE en die huis van die koning, Nou het Hiram, die koning van Tirus, vir Salomo met sederbome en sipresbome en met goud voorsien volgens al sy begeertes, en koning Salomo het toe aan Hiram twintig stede in die land Galilea gegee. En Hiram het uit Tirus uitgegaan om die stede te sien wat Salomo hom gegee het; en hulle het hom nie behaag nie. En hy sê: Watter stede is dit wat jy my gegee het, my broer? En hy het hulle die land Kabul genoem tot vandag toe. En Hiram het sestig talente goud na die koning gestuur. En dit is die rede vir die heffing wat koning Salomo opgehef het; om die huis van die HERE te bou en sy huis en Millo en die muur van Jerusalem en Hasor en Megiddo en Geser. Want Farao, die koning van Egipte, het opgetrek en Geser ingeneem en dit met vuur verbrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, gedood en dit as geskenk gegee aan sy dogter, die vrou van Salomo. En Salomo het Geser gebou en Bet-Horon, die onderste, en Baälat en Tadmor in die woestyn, in die land, En al die voorraadstede wat Salomo gehad het, en stede vir sy strydwaens en stede vir sy ruiters, en wat Salomo wou bou in Jerusalem en op die Líbanon en in die hele land van sy heerskappy. En al die volk wat oorgebly het van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete wat nie uit die kinders van Israel was nie, Hulle kinders wat ná hulle in die land oorgebly het, wat die kinders van Israel ook nie met die banvloek kon tref nie, op hulle het Salomo tot vandag toe 'n diensbelasting gehef. Maar van die kinders van Israel het Salomo geen slawe gemaak nie, maar hulle was krygsmanne en sy dienaars en sy vorste en sy owerstes en owerstes oor sy strydwaens en sy ruiters. Dit was die owerstes van die opsigters wat oor Salomo se werk was, vyf honderd en vyftig, wat geheers het oor die volk wat die werk gedoen het. Maar Farao se dogter het uit die stad van Dawid opgetrek na haar huis wat Salomo vir haar gebou het; toe het hy Millo gebou. En Salomo het drie maal in 'n jaar brandoffers en dankoffers gebring op die altaar wat hy vir die HERE gebou het, en hy het reukwerk laat opgaan op die altaar wat voor die aangesig van die HERE was. So het hy die huis klaargemaak. En koning Salomo het 'n vloot skepe gemaak in Esiongeber, wat langs Elot is, aan die kus van die Skelfsee, in die land Edom. En Hiram het sy dienaars, skeepsmanne wat kennis van die see gehad het, saam met die dienaars van Salomo in die vloot gestuur. En hulle het in Ofir gekom en daarvandaan goud gaan haal, vier honderd en twintig talente, en dit na koning Salomo gebring.

1 KONINGS 9:10-28 Die Boodskap (DB)

Dit het Salomo twintig jaar geneem om die tempel en die paleis te bou. Koning Hiram van Tirus het al die seder- en dennehout verskaf, asook al die goud wat Salomo nodig gehad het. Nadat alles voltooi is, het Salomo twintig stede in Galilea aan Hiram gegee. Hiram het opgewonde na die stede gaan kyk, maar was diep teleurgesteld. Hy het nie van een van hulle gehou nie. Hiram het toe vir Salomo gesê: “My vriend, hierdie stede beteken niks, hulle het geen waarde nie.” Vandag nog word hierdie gebied “Kabul” of “Nikswerd” genoem. Hiram was baie ongelukkig, maar hy het die stede aanvaar. Hy het ook nog 4 000 kilogram goud aan Salomo gestuur. Koning Salomo het mense gedwing om die tempel en die paleis te bou. Hy het hulle ook gedwing om die oostekant van die stad met grond op te vul en ’n stadsmuur te bou. Met dwangarbeiders het hy ook die stede Hasor, Megiddo en Geser herbou. Lank gelede het die Egiptiese koning die stad Geser aangeval, dit ingeneem en toe groot dele daarvan afgebrand. Die koning het dit vir Salomo gegee die dag toe hy met sy dogter getroud is. Salomo het dit aanvaar en Geser heeltemal herbou. Hy het egter ook Bet-Horon-Onder, Baälat, Tamar in die Judese woestyn, sy voorraadstede, die stede vir sy perde en sy waens, en alle ander geboue in Jerusalem, die Libanon en op ander plekke in sy koninkryk met die hulp van dwangarbeiders gebou. Salomo se dwangarbeiders het veral uit die nageslag van die Kanaäniete bestaan. Dit was al daardie groepe wat die Israeliete nie doodgemaak het toe hulle destyds die land ingeneem het nie. Onder hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Vandag nog is hulle nageslag die land se werkers. Salomo het nooit Israeliete as dwangarbeiders gebruik nie. Hulle was die soldate, die offisiere, die generaals, die drywers van die oorlogswaens en die ruiters. Ongeveer 550 amptenare het oor die dwangarbeiders toesig gehou, asook oor hulle bouwerk op verskillende plekke. Nadat Salomo se Egiptiese vrou, die dogter van die Egiptiese koning, uit die ou Dawidstad na haar nuwe huis getrek het, het Salomo begin om die oostelike deel van die stad met grond op te vul en ’n terras te bou. Salomo het gereeld drie keer per jaar, tydens pase, pinkster en die loofhuttefees, brandoffers en dankoffers op die altaar geoffer wat hy vir die Here gebou het. Salomo het al sy verantwoordelikhede by die tempel nagekom. Hy het ook vir hom ’n hele skeepsvloot by Esjon-Geber digby Elat aan die kus van die Golf van Akaba in Edom laat bou. Koning Hiram het toe van sy mees ervare skeepslui gestuur om saam met Salomo se manne te werk. Hulle het Ofir toe geseil en 14 000 kilogram goud vir Salomo teruggebring.