1 PETRUS 1:22-23
1 PETRUS 1:22-23 Bybel vir almal (ABA)
Julle was gehoorsaam aan die waarheid en so het julle julleself gereinig, nou kan julle waarlik lief wees vir mekaar. Daarom moet julle baie lief wees vir mekaar, julle moenie vals wees en ophou om lief te wees vir mekaar nie. God het 'n nuwe lewe vir julle gegee, maar dit was nie soos wanneer 'n kind gebore word uit ouers wat kan sterf nie. Nee, God het vir julle hierdie nuwe lewe gegee toe Hy met julle gepraat het, God wat lewe en wat altyd daar is.
1 PETRUS 1:22-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart; want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.
1 PETRUS 1:22-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.
1 PETRUS 1:22-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Omdat julle julle innerlike, in gehoorsaamheid aan die waarheid, tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar innig met rein harte liefhê. Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God.
1 PETRUS 1:22-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Aangesien julle julle siele gereinig het in gehoorsaamheid aan die waarheid deur die Gees tot ongeveinsde liefde vir die broeders, sorg dat julle mekaar vurig liefhet met 'n rein hart. Wedergebore word, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die woord van God wat lewe en tot in ewigheid bly.
1 PETRUS 1:22-23 Die Boodskap (DB)
Julle moet lojaal wees teenoor mekaar en mekaar help waar julle ook al kan. Julle luister nou nie meer na verkeerde dinge nie. Julle lewe nou mos graag soos God van julle verwag en volgens wat vir Hom reg is. Hy verwag dat julle in liefde lojaal teenoor mekaar sal wees, reg om mekaar te help en te dien wanneer dit ook al nodig mag wees. Julle moenie allerhande bymotiewe hê nie, maar moet opreg wees. God self het julle mos sy kinders gemaak. Toe julle sy boodskap gehoor het, het julle die nuwe lewe saam met God leer ken, ’n lewe wat nooit sal ophou nie. Dit is vir ewig waar.
1 PETRUS 1:22-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle is van julle sondes gereinig toe julle die waarheid van die Goeie Nuus aanvaar het. Julle kan mekaar dus as medegelowiges regtig liefhê. Daarom moet julle sorg dat julle mekaar van harte liefhet, al vra dit inspanning. God het immers die proses begin waardeur julle weergebore is. Hierdie weergeboorte is nie deur julle aardse ouers bewerk nie, want die lewe wat hulle julle gegee het, loop op die dood uit. Die nuwe lewe wat God gegee het, is vir ewig, want dit kom van die ewige en lewende woord van God.